Skrifture
Inleiding


Inleiding

Die Pêrel van Groot Waarde is ’n seleksie van belangrike materiaal wat baie betekenisvolle aspekte van die geloof en leerstellings van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae raak. Hierdie items is deur die Profeet Joseph Smith vertaal en voortgebring en die meeste daarvan is in die kerklike publikasies van sy tyd gepubliseer.

Die eerste versameling van materiaal wat die Pêrel van Groot Waarde genoem is, is in 1851 deur Ouderling Franklin D. Richards, destyds ’n lid van die Raad van die Twaalf en president van die Britse Sending, gemaak. Die doel daarmee was om sommige belangrike artikels wat ’n beperkte sirkulasie in die tyd van Joseph Smith gehad het meer geredelik toeganklik te maak. Soos die kerklidmaatskap regdeur Europa en Amerika toegeneem het, was daar ’n behoefte om hierdie items beskikbaar te maak. Die Pêrel van Groot Waarde is oral gebruik en het vervolgens ’n standaardwerk van die Kerk geword deur die toedoen van die Eerste Presidensie en die algemene konferensie in Salt Lake City op 10 Oktober 1880.

Verskeie hersienings aan die inhoud is gemaak soos die behoeftes van die Kerk dit vereis het. In 1878 is sekere gedeeltes van die boek van Moses wat nie in die eerste uitgawe vervat is nie, bygevoeg. In 1902 is sekere gedeeltes van die Pêrel van Groot Waarde, wat materiaal wat ook in die Leer en Verbonde gepubliseer was dupliseer, uitgelaat. Verdeling in hoofstukke en verse is in 1902 gedoen. Die eerste publikasie in dubbelkolom bladsye, met indeks, was in 1921. Geen ander veranderings is gemaak tot April 1976, toe twee items van openbaring bygevoeg is nie. In 1979 is hierdie items van die Pêrel van Groot Waarde verwyder en in die Leer en Verbonde geplaas, waar hulle nou verskyn as afdelings 137 en 138. In die huidige uitgawe moes sekere veranderings aangebring word om die teks in ooreenstemming te bring met vroeëre dokumente.

Die volgende is ’n beknopte inleiding tot die huidige inhoud:

  1. Seleksies uit die Boek van Moses. ’n Uittreksel vanuit die Boek van Génesis van Joseph Smith se vertaling van die Bybel, wat hy in Junie 1830 begin het.

  2. Die Boek van Abraham. ’n Geïnspireerde vertaling van die skrywes van Abraham. Joseph Smith het die vertaling in 1835 begin nadat hy sommige Egiptiese papiri bekom het. Die vertaling is in aflewerings in die Times and Seasons [Tye en Seisoene] gepubliseer, beginnende op 1 Maart 1842, te Nauvoo, Illinois.

  3. Joseph Smith—Matthéüs. ’n Uittreksel vanuit die getuienis in Joseph Smith se vertaling van die Bybel (sien Leer en Verbonde 45:60–61 vir die goddelike opdrag om te begin met die vertaling van die Nuwe Testament).

  4. Joseph Smith—Geskiedenis. Uittreksels vanuit Joseph Smith se amptelike getuienis en geskiedenis wat hy en sy skrywers voorberei het in 1838–1839 en wat in aflewerings in die Times and Seasons [Tye en Seisoene] in Nauvoo, Illinois gepubliseer is, beginnende op 15 Maart 1842.

  5. Die Geloofsartikels van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae. ’n Verklaring deur Joseph Smith gepubliseer in die Times and Seasons op 1 Maart 1842 tesame met ’n kort geskiedenis van die Kerk wat algemeen as die Wentworth-brief bekend was.