2018
Soos Ons Saam Voorwaarts Gaan
April 2018


Eerste Presidensie-boodskap, April 2018

Soos Ons Saam Voorwaarts Gaan

My geliefde broers en susters, ek staan in nederigheid voor julle vanoggend. Vier dae gelede het ons ʼn reus van ʼn man ter ruste gelê, ʼn profeet van God—President Thomas S. Monson. Woorde kan nie die grootsheid en die wonderbaarlikheid van sy lewe beskryf nie. Ek sal ons vriendskap vir ewig met dankbaarheid koester vir wat hy my geleer het. Nou moet ons vorentoe kyk na die toekoms met algehele geloof in ons Here Jesus Christus, wie se Kerk dit is.

Twee dae gelede het al die lewende Apostels in die bo-kamer van die Salt Lake-tempel byeen gekom. Daar het hulle ʼn eenparige besluit geneem, eerstens, om die Eerste Presidensie nou te herorganiseer, en tweedens, dat ek as President van die Kerk dien. Daar is nie woorde om aan julle te beskryf hoe dit gevoel het toe my Broers—Broers wat ál die priesterskapsleutels hou wat in hierdie tydvak deur die Profeet Joseph Smith herstel is—hul hande op my kop gelê het om my te ordineer en af te sonder as President van die Kerk. Dit was ʼn heilige en nederige ondervinding.

Dit het toe my verantwoordelikheid geword om te besin oor wie die Here voorberei het as my raadgewers. Hoe kon ek net twee van die Twaalf ander Apostels kies terwyl ek elkeen van hulle so liefhet. Ek is oneindig dankbaar teenoor die Here dat Hy my vurige gebede verhoor het. Ek is baie dankbaar dat President Dallin Harris Oaks en President Henry Bennion Eyring gewillig is om onderskeidelik saam met my as Eerste en Tweede Raadgewers te dien. President Dieter F. Uchtdorf het weer sy plek in die Kworum van die Twaalf Apostels ingeneem. Hy het alreeds belangrike opdragte ontvang waarvoor hy uniek gekwalifiseerd is.

Ek bring hulde aan hom en President Eyring vir die wonderlike diens wat hulle as raadgewers aan President Monson gelewer het. Hulle was heeltemal bekwaam, toegewyd, en geïnspireerd. Ons is baie dankbaar vir hulle. Elkeen is gewillig om te dien waar hy die meeste benodig word.

As die Apostel wat tweede in senioriteit is, word President Oaks ook die President van die Kworum van die Twaalf Apostels. Maar, gegewe sy roeping in die Eerste Presidensie en ooreenkomstig die orde van die Kerk, sal President M. Russell Ballard, volgende in senioriteit, dien as die Waarnemende President van daardie kworum. Die Eerste Presidensie sal hand in hand saam met die Twaalf werk om die wil van die Here te besin om sy heilige werk vorentoe te laat beweeg.

Ons is dankbaar vir julle gebede. Hulle is reg oor die wêreld namens ons gelewer. Die oggend na President Monson se afsterwe, is só ʼn gebed gelewer deur ʼn vier-jarige seuntjie genaamd Benson. Ek haal uittreksels uit die brief aan wat sy ma aan my vrou, Wendy, geskryf het. Benson het gebid, “Hemelse Vader, dankie dat President Thomas S. Monson weer sy vrou kan sien. Dankie vir ons nuwe profeet. Help hom om dapper te wees en nie bang te wees omdat hy nuut is nie. Help hom om gesond en sterk groot te word. Help hom om mag te hê omdat hy die priesterskap het. En help ons om altyd vriendelik te wees.”

Ek dank God vir kinders soos dié en vir ouers wat ernstig is aangaande hul toewyding tot regverdige, doelgerigte ouerskap—vir elke ouer, onderwyser, en lid wat swaar laste dra en steeds so gewillig dien. Met ander woorde, vir elkeen van julle, is ek nederig dankbaar.

Die Here is aan die Stuur

Soos ons saam vorentoe gaan, nooi ek julle uit om na te dink oor die majestieuse manier waarop die Here sy Kerk regeer. Wanneer ʼn President van die Kerk afsterwe, is daar geen misterie aangaande wie volgende geroep gaan word om in daardie hoedanigheid te dien nie. Daar is geen verkiesing, geen verkiesingsveldtogte nie, maar net die stille werkinge van ʼn goddelike plan van opvolging, wat deur die Here self in plek gestel is.

Elke dag van ʼn Apostel se diens is ʼn dag van leer en voorbereiding vir meer verantwoordelikheid in die toekoms. Dit neem dekades van dienslewering vir ʼn Apostel om van die junior sitplek tot by die senior sitplek in die sirkel te vorder. Gedurende hierdie tydperk kry hy eerstehandse ondervinding in elke faset van die werkinge van die Kerk. Hy word ook wel vertroud met al die mense regoor die wêreld, insluitende hulle geskiedenis, kulture en tale soos sy opdragte hom herhaaldelik regoor die wêreld neem. Hierdie proses van opvolging in die leierskap van die Kerk is uniek. Ek weet van niks anders soos dit nie. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want hierdie is die Here se Kerk. Hy werk nie volgens die wyse van die mens nie.

Ek het in die Kworum van die Twaalf Apostels onder vyf vorige Presidente van die Kerk gedien. Ek het elke President dopgehou terwyl hy openbaring ontvang het en gereageer het op daardie openbaring. Die Here het altyd en sal altyd sy profete leer en inspireer. Die Here is aan die stuur. Ons wat geordineer is om getuienis te lewer van sy heilige Naam deur die wêreld sal poog om sy wil te leer en dit na te volg.

Bly op die Verbondspad

Nou, ek sê aan elke lid van die Kerk, bly op die verbondspad. Jul toewyding om die Verlosser te volg deur verbonde met Hom te sluit en dan daardie verbonde te onderhou, sal die deur na elke geestelike seëning en voorreg wat beskikbaar is aan mans, vroue en kinders oral open.

As ʼn nuwe Presidensie wil ons begin met die einde in gedagte. Om hierdie rede praat ons vandag met julle vanaf ʼn tempel. Die einde waarna elkeen van ons strewe is om met mag bedeeld te word in ʼn huis van die Here, verseël as families, getrou aan die verbonde wat ons in ʼn tempel gesluit het wat ons kwalifiseer vir die grootste gawe van God—die ewige lewe. Die ordinansies van die tempel en die verbonde wat jy daar sluit is die sleutel om jou lewe , jou huwelik en familie te versterk, en jou vermoë om aanvalle van die teenstaander te weerstaan. Jou aanbidding in die tempel en jou diens daar vir jou voorouers sal jou seën met meer persoonlike openbarings en vrede en sal jou begeerte om op die verbondspad te bly, versterk.

Nou, as julle die pad byster geraak het, mag ek julle met alle hoop in my hart uitnooi om asseblief terug te kom. Wat ook al jou bekommernisse, wat ook al jou uitdagings, daar is ʼn plek vir jou in hierdie, die Here se Kerk. Jy en ontelbare nageslagte sal geseën word deur jou aksies om nou na die verbondspad terug te keer. Ons Hemelse Vader koester sy kinders, en wil hê dat elkeen van ons moet terugkeer huistoe na Hom toe. Dit is ʼn groot doel van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae—om elkeen van ons te help om terug te keer huis toe.

Ek druk my diepe liefde vir julle uit—liefde wat gegroei het oor dekades waarin ek julle ontmoet het, saam met julle aanbid het, en julle gedien het. Ons goddelike mandaat is om na elke nasie, familie, taal en volk te gaan om die wêreld voor te berei vir die Tweede Koms van die Here. Dit sal ons doen met geloof in die Here Jesus Christus wetende dat Hy in beheer is. Dit is sy werk en sy Kerk. Ons is sy diensknegte.

Ek verklaar my toewyding aan ons Hemelse Vader en aan sy Seun, Jesus Christus. Ek ken Hulle, is lief vir Hulle, en belowe om Hulle te dien—en julle—met elke oorblywende asem van my lewe. In die heilige naam van Jesus Christus, amen.