2019
Die Doel Wat Ons Bediening sal Verander
Januarie 2019


Beeld
ministering

Beginsels van Bediening, Januarie 2019

Die Doel Wat Ons Bediening sal Verander

Terwyl daar baie doelstellings van bediening is, behoort ons pogings gelei te word deur die begeerte om ander te help om ʼn dieper individuele bekering te bereik en meer soos die Saligmaker te word.

Wanneer ons ander liefhet soos die Saligmaker, wil ons hulle help soos Hy gedoen het. As die Goeie Herder, is Hy die beste voorbeeld van betekenisvolle bediening.

Deur ons bediening op sy voorbeeld te bou, is dit belangrik om te onthou dat sy pogings om lief te hê, op te hef, te dien en te seën ʼn hoër doel gehad het as om in die onmiddellike behoefte te voorsien. Hy het sekerlik geweet van hulle daaglikse behoeftes en het meegevoel gehad met hulle huidige lyding. Hy het dus genees, gevoed, vergewe en onderrig. Maar Hy wou meer doen as net om in vandag se dors te voorsien (sien Johannes 4:13–14). Hy wou hê dat diegene om Hom, Hom moes volg (sien Lukas 18:22; Johannes 21:22), Hom ken (sien Johannes 10:14; Leer en Verbonde 132:22–24), en hulle goddelike potensiaal bereik (sien Matthèüs 5:48). Dieselfde is vandag waar (sien Leer en Verbonde 67:13).

Daar is tallose maniere waarop ons kan help om ander te seën, maar wanneer die einddoel van ons bediening is om ander te help om die Saligmaker te ken en meer soos Hy te wees, sal ons werk vir die dag wanneer ons nie meer ons naaste hoef te leer om die Here te ken nie want ons almal sal Hom ken (sien Jeremia 31:34).

Die Saligmaker se Fokus het Verder Gegaan as Onmiddellike Behoeftes

  • Verskeie individue het groot moeite gedoen om hulle vriend na Jesus te neem om van verlamming genees te word. Die Saligmaker het uiteindelik die man genees, maar Hy was meer geïnteresseerd om hom van sy sondes te vergewe (sien Lukas 5:18–26).

  • Toe die mense die vrou wat owerspel gepleeg het na die Saligmaker gebring het, het sy weerhouding van verdoemenis haar lewe fisies gered. Maar Hy wou haar ook geestelik red, en het vir haar gesê “gaan heen, en sondig nie meer nie” (sien Johannes 8:2–11).

  • Maria en Martha het ʼn boodskap na Jesus gestuur om Hom te vra om sy vriend Lasarus te kom genees. Jesus, wat andere op talle geleenthede gesondgemaak het, het sy aankoms uitgestel tot nádat Lasarus al dood was. Jesus het geweet wat die familie wou hê, maar deur Lasarus uit die dood op te wek, het Hy hulle getuienisse van sy goddelikheid versterk (sien Johannes 11:21–27).

Watter ander voorbeelde kan jy by hierdie lys voeg?

Wat kan ons doen?

As ons doel is om ander te help om meer soos die Saligmaker te word, sal dit die manier hoe ons bedien, verander. Hier is ʼn paar maniere hoe hierdie begrip ons pogings om te bedien kan lei.

Idee 1: Verbind Diens met die Saligmaker

Al ons pogings om goed te doen is waardevol, maar ons moet op die uitkyk wees vir geleenthede om ons diens te verbeter deur dit met die Saligmaker te verbind. Byvoorbeeld, as die familie wat jy bedien siek is, kan ʼn ete van hulp wees, maar jou eenvoudige blyk van liefde kan vermenigvuldig word deur jou getuienis van die Saligmaker se liefde vir hulle. Jou hulp met tuinwerk sal waardeer word, maar kan dalk meer betekenisvol gemaak word met die aanbieding van ʼn priesterskapseëning.

Ouderling Neil L. Anderson van die Kworum van die Twaalf Apostels het geleer: “ʼn Persoon met ʼn goeie hart kan iemand help om ʼn band om te ruil, ʼn kamermaat dokter toe te neem, middagete te nuttig saam met iemand wat bedruk is, of glimlag en hallo sê om die dag op te helder.

“Maar iemand wat die eerste gebod volg sal natuurlik iets by hierdie belangrike dade van diens voeg.”1

Idee 2: Fokus op die Verbondspad

Toe President Russell M. Nelson vir die eerste keer die lede as President van die Kerk toegespreek het, het hy gesê: “Hou op die verbondspad.” Deur verbonde te maak en te onderhou “sal die deur na elke beskikbare geestelike seëning en voorreg geopen word.”2

As Heiliges van die Laaste Dae, word ons gedoop, bevestig, en ontvang ons die gawe van die Heilige Gees. Waardige manlike lede ontvang die priesterskap. Ons gaan na die tempel vir ons eie begiftiging en om vir ewig as families geseël te word. Hierdie reddende ordinansies en hulle geassosieerde verbonde is noodsaaklik vir ons om soos Hy te word sodat ons saam met Hom kan wees.

Ons kan ʼn belangrike rol speel om ander te help op daardie pad, soos wanneer ons hulle help om hulle verbonde te onderhou en voorberei om toekomstige verbonde te sluit.3 Hoe kan jy families of individue wat jy dien, help om die volgende ordinansie wat hulle nodig het, te ontvang? Dit kan wees om te help om ʼn vader voor te berei om sy dogter te doop, om die seëninge van die volgende verbond wat gemaak moet word te verduidelik, of maniere te deel om ʼn meer betekenisvolle ondervinding te hê om ons verbonde te hernu wanneer ons die nagmaal gebruik.

Idee 3: Nooi Uit en Moedig Aan

Wanneer geskik, beraadslaag met diegene wat jy dien oor hulle bekering en pogings om meer soos Christus te wees. Laat hulle weet van die sterk punte wat jy in hulle sien en bewonder. Vind uit waar hulle voel hulle kan verbeter en gesels oor hoe jy kan help. (Vir meer oor beraadslaging met diegene wat jy dien, sien “Beraadslaag oor Hulle Behoeftes,” Liahona, Sept. 2018, 6–9.)

Moenie bang wees om hulle te nooi om die Saligmaker te volg en Hom toe te laat om hulle te help om hulle goddelike potensiaal te bereik nie. Hierdie uitnodiging kan lewensveranderend wees wanneer dit gepaard gaan met ʼn uitdrukking van jou vertroue in hulle en jou geloof in Hom.

Ses Maniere Hoe ons Ander Kan Help om na Christus te Vorder

Hier volg voorstelle hoe ons ander kan ondersteun om verbeteringe in hulle lewens te maak en te vorder op die verbondspad. (Sien Preach My Gospel, hoofstuk 11, vir meer idees.)

  1. Deel. Wees eg en moedig wanneer jy deel hoe die Saligmaker jou gehelp het soos jy probeer het om nader aan Hom te kom deur die evangeliebeginsels te lewe ten spyte van terugslae.

  2. Belowe seëninge. Mense soek ʼn rede om te verander wat sterker is as die redes om nié te verander nie. Deur die seëninge geassosieerd met ʼn aksie te verduidelik, kan kragtige motivering wees (sien Leer en Verbonde 130:20–21).

  3. Nooi uit. Om ʼn evangeliebeginsel te lewe, bring ʼn getuienis wat waar is (sien Johannes 7:17) en lei tot dieper bekering.4 Amper elke interaksie kan ʼn eenvoudige uitnodiging om iets te doen wat hulle sal help om te vorder, insluit.

  4. Beplan saam. Wat moet gebeur sodat hulle hul verbintenis om te verander suksesvol kan hou? Hoe kan jy help? Is daar ʼn tydslyn betrokke?

  5. Ondersteuning. Wanneer nodig, ontwikkel ʼn ondersteuningsnetwerk van mense wat die individu kan help om gemotiveerd te bly en suksesvol te wees. Ons het elkeen ʼn aanmoediger nodig.

  6. Volg op. Deel gereeld vordering. Bly gefokus op die plan maar verfyn dit waar nodig. Wees geduldig, volhard en bemoedigend. Verandering kan tyd neem.

Uitnodiging om te Handel

Oorweeg maniere waarop jou pogings om te dien—beide groot en klein—ander kan help om hulle bekering te verdiep en meer soos die Saligmaker te word.

Notas

  1. Neil L. Andersen, “A Holier Approach to Ministering” (Brigham Young University devotional, Apr. 10, 2018), 3, speeches.byu.edu.

  2. Russell M. Nelson, “As We Go Forward Together,” Liahona, Apr. 2018, 7.

  3. Sien Henry B. Eyring, “Daughters in the Covenant,” Liahona, Mei 2014, 125–28.

  4. Sien David A. Bednar, “Bekeer tot die Here,” Liahona, Nov. 2012, -109.