2019
Hoe om ʼn Getuienis Meer Natuurlik te Deel
Maart 2019


Beeld
ministering

Beginsels van Bediening, Maart 2019

Hoe om ʼn Getuienis Meer Natuurlik te Deel

Bediening is om te getuig. Die buigsaamheid van bediening kan ons geleenthede vermeerder om getuienis op formele en informele wyses te deel.

Ons het verbonde gesluit om te “staan as getuies van God te alle tye en in alle dinge en op alle plekke” (Mosia 18:9). Om ons getuienisse te deel vorm deel van om as ʼn getuie te staan en is ʼn kragtige manier om die Heilige Gees uit te nooi om iemand se hart aan te raak en hul lewe te verander.

“Getuienis—ware getuienis, gebore uit die Gees en bevestig deur die Heilige Gees—verander lewens,” het President M. Russell Ballard, Waarnemende President van die Kworum van die Twaalf Apostels, gesê.1

Maar om ons getuienis te deel, kan vir sommige van ons intimiderend of ongemaklik wees. Dit mag wees omdat ons aan getuienis-lewering dink as iets wat ons doen in ʼn vas en getuienis-diens of wanneer ons ʼn les onderrig. In daardie formele situasies gebruik ons dikwels sekere woorde en frases wat uit plek lyk in ʼn natuurlike gesprek.

Om ons getuienisse te deel, kan ʼn meer gereelde seëning in ons lewens en die lewens van andere word wanneer ons verstaan hoe eenvoudig dit kan wees om te deel waarin ons glo in alledaagse situasies. Hier is ʼn paar idees om jou daarmee te help begin.

Hou Dit Eenvoudig

ʼn Getuienis hoef nie te begin met die frase “Ek wil my getuienis lewer nie,” en dit hoef nie te eindig met “In die naam van Jesus Christus, amen” nie. ʼn Getuienis is ʼn uitdrukking van wat ons glo en weet wat waar is. Dus, om jou buurvrou wat ʼn probleem het, te besoek en te sê: “Ek weet dat God gebede beantwoord,” kan só sterk wees as enige getuienis wat vanaf die preekstoel in die kerk gedeel word. Die krag kom nie van fleurige taal nie; dit kom van die Heilige Gees wat die waarheid bevestig (sien Leer en Verbonde 100:7–8).

Pas Aan by die Vloei van ʼn Natuurlike Gesprek

As ons bereid is om te deel, is daar geleenthede rondom ons om getuienis in alledaagse gesprekke in te pas. Byvoorbeeld:

  • Iemand vra jou oor jou naweek. “Dit was wonderlik,” antwoord jy. “Kerk was net wat ek nodig gehad het.”

  • Iemand spreek simpatie uit nadat hy van ʼn uitdaging in jou lewe gehoor het: “Ek is jammer.” Jy antwoord: “Dankie vir jou besorgdheid. Ek weet dat God my hierdeur sal help. Hy was al voorheen daar vir my.”

  • Iemand sê: “Ek hoop dat hierdie verskriklike weer binnekort verander,” of “Die bus is laat,” of “Kyk na hierdie verkeer.” Jy mag reageer: “Ek is seker God sal help om alles uit te werk.”

Deel Jou Ondervindings

Ons praat dikwels met mekaar oor ons uitdagings. Wanneer iemand jou vertel wat hulle in die gesig staar, kan jy ʼn geleentheid deel wanneer God jou gehelp het in jou beproewinge en getuig dat jy weet dat Hy hulle ook kan help. Die Here het gesê dat Hy ons in ons beproewinge versterk, “sodat julle hierna mag staan as getuies vir My, en sodat julle vir seker mag weet dat Ek, die Here God, tog my volk besoek in hulle verdrukkinge” (Mosia 24:14). Ons kan as getuies van Hom staan as ons getuig van hoe Hy ons in ons beproewinge gehelp het.

Wees Voorbereid

Vir sommige van ons kan die deel van getuienis op die ingewing van die oomblik intimiderend wees. Daar is maniere waarop ons vooruit kan beplan en “altyd gereed wees om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in [ons] is” (1 Petrus 3:15).

Eerstens, om voorbereid te wees kan beteken om te kyk na hoe ons lewe. Nooi ons die Heilige Gees in ons lewens in en versterk ons ons eie getuienisse elke dag deur regverdig te lewe? Gee ons die Gees geleenthede om met ons te praat en om ons die woorde te gee wat ons nodig het deur gebed en skriftuurstudie? Soos die Here vir Hyrum Smith raad gegee het: “Moenie streef om my woord te verkondig nie, maar streef eers om my woord te verkry, en dan sal jou tong losgemaak word” (Leer en Verbonde 11:21).

Tweedens, om voorbereid te wees kan beteken dat jy vooruitskou en geleenthede oorweeg wat jy daardie dag of daardie week mag hê om jou getuienis te deel. Jy kan vir daardie geleenthede voorberei deur te dink oor hoe hulle jou ʼn kans mag gee om te deel waarin jy glo.

Bly Gesentreer op die Verlosser en Sy Leer

President Ballard het geleer: “Alhoewel ons getuienisse van baie dinge as lede van die Kerk kan hê, is daar basiese waarhede wat ons nodig het om voortdurend mekaar te onderrig en te deel.” As voorbeelde het hy gelys: “God is ons Vader en Jesus is die Christus. Die plan van saligheid is gesentreer op die Saligmaker se Versoening. Joseph Smith het die volheid van die ewige evangelie van Jesus Christus herstel, en die Boek van Mormon is bewys dat ons getuienis waar is.” Soos ons hierdie opregte waarhede uitdruk, nooi ons die Gees om te getuig dat dít wat ons gesê het, waar is. President Ballard het beklemtoon dat “die Gees nie bedwing kan word as suiwere getuienis van Christus gelewer word nie.”2

Die Saligmaker se Voorbeeld

Die Saligmaker, moeg na ʼn reis deur Samaria, het by ʼn put gerus en het ʼn vrou daar ontmoet. Hy het ʼn gesprek begin oor die skep van water uit die put. Hierdie alledaagse taak waarmee die vrou besig was, het Jesus die geleentheid gegee om te getuig van die lewende water en die ewige lewe wat beskikbaar is vir diegene wat in Hom glo (sien Johannes 4:13–15, 25–26).

ʼn Eenvoudige Getuienis Kan Lewens Verander

President Russell M. Nelson het vertel van ʼn verpleegster wat die voormalige Dr. Nelson ʼn vraag ná ʼn moeilike chirurgiese prosedure gevra het. “Hoekom is jy nie soos ander chirurge nie?” Sommige chirurge wat sy geken het, kon kortaf en ongeskik wees wanneer hulle sulke hoëdrukprosedures uitgevoer het.

Dr Nelson kon op enige aantal maniere geantwoord het. Maar hy het eenvoudig geantwoord: “Omdat ek weet dat die Boek van Mormon waar is.”

Sy antwoord het die verpleegster en haar man aangemoedig om die Boek van Mormon te bestudeer. President Nelson het later die verpleegster gedoop. Dekades later, terwyl President Nelson gepresideer het by ʼn penkonferensie in Tennessee, VSA, as ʼn nuut-nuut-geordineerde Apostel, het hy ʼn onverwagte reünie met dieselfde verpleegster geniet. Sy het vertel dat haar bekering wat veroorsaak is deur sy eenvoudige getuienis en die invloed van die Boek van Mormon, gelei het tot die bekering van nog 80 mense.3

Uitnodiging om te Handel

Moenie bang wees om jou getuienis te deel nie. Dit kan diegene wat jy bedien, seën. Hoe sal jy hierdie idees of jou eie gebruik om jou getuienis vandag te deel?

Notas

  1. M. Russell Ballard, “Pure Testimony,” Liahona, Nov. 2004, 40.

  2. M. Russell Ballard, “Pure Testimony,” 41.

  3. In Jason Swensen, “Be Ready to Explain Your Testimony Using the Book of Mormon, President Nelson Says,” Church News-afdeling van LDS.org, 6 Februarie 2018, news.lds.org.