2019
“Kom, Volg My”
Eerste Presidensie-boodskap, Mei 2019


Eerste Presidensie-boodskap, Mei 2019

“Kom, Volg My”

Jesus Christus nooi ons om die verbondspad terug huis toe te neem na ons Hemelse Ouers en om met ons geliefdes te wees.

My geliefde broers en susters, my vrou Wendy en ek is verheug om hierdie Sabbatoggend saam met julle te wees. Baie het gebeur sedert ons laaste algemene konferensie. Nuwe tempels is ingewy in Concepción, Chili; Barranquilla, Colombia; en Rome, Italië. Ons het ʼn ryke uitstorting van die Gees tydens hierdie heilige geleenthede ervaar.

My gelukwensing aan die talle vroue (en mans) wat onlangs die Boek van Mormon gelees het en vreugde en versteekte skatte ontdek het. Ek is geïnspireer deur die verslae oor wonderwerke wat ontvang is.

Ek is verwonderd oor 11-jarige jongmanne, wat nou as diakens, waardig die nagmaal elke Sondag bedien. Hulle gaan saam met ons 11-jarige jongdames tempel toe, wat nou gretig leer en dien as Beehives. Beide jongmanne en jongdames verkondig waarhede van die evangelie met duidelikheid en oortuiging.

Ek verbly my saam met kinders en die jeug wat help om die evangelie in hulle huise te leer soos hulle saam met hul ouers werk om die tuisgesentreerde, Kerk-ondersteunende leerplan te volg.

Ons het hierdie foto van 4-jarige Blake ontvang, wat, vroeg op ʼn Saterdagoggend, ʼn Kerkboek gegryp en uitgeroep het: “Ek moet my gees voed!”

Beeld
Blake wat sy gees voed

Blake, ons is verheug met jou en ander, wat verkies om hul gees te voed deur die waarhede van die herstelde evangelie van Jesus Christus. En ons is verheug om te weet dat baie die krag van God in hulle lewens ontvang soos hulle in die tempel aanbid en dien.

Soos baie van julle weet, het ons familie drie maande gelede ʼn teergevoelige afskeid ondervind toe ons dogter Wendy hierdie aardse lewe verlaat het. In die laaste dae van haar stryd met kanker, was ek geseënd met die geleentheid om ons afskeids pappa-dogter gesprek te hê.

Ek het haar hande vasgehou en haar vertel hoe baie lief ek haar het en hoe dankbaar ek was om haar vader te wees. Ek het gesê: “Jy is in die tempel getroud en jou verbonde getrou onderhou. Jy en jou man het sewe kinders in jul huis verwelkom en hulle grootgemaak om getroue dissipels van Jesus Christus, standvastige Kerklede en bydraende burgers te wees. En hulle het eggenote van dieselfde kaliber gekies. Jou pappa is baie, baie trots op jou. Jy het my soveel vreugde gebring!”

Sy het saggies geantwoord: “Dankie, Pappa.”

Dit was ʼn tere, hartseer oomblik vir ons. Gedurende haar 67 jaar het ons saamgewerk, saamgesing, en dikwels saam geski. Maar daardie aand het ons oor dinge gepraat wat die meeste saak maak, soos verbonde, ordinansies, gehoorsaamheid, geloof, familie, getrouheid, liefde en die ewige lewe.

Ons mis ons dogter verskriklik. Maar, as gevolg van die herstelde evangelie van Jesus Christus, is ons nie bekommerd oor haar nie. Soos ons voortgaan om ons verbonde met God te onderhou, leef ons in afwagting om weer saam met haar te wees. Intussen dien ons die Here hier en sy dien Hom daar—in die paradys.1

Trouens, ek en my vrou het “Paradys” vroeër hierdie jaar besoek—oftewel, Paradise, Kalifornië. Dit het so gebeur dat ons geskeduleerde besoek plaasgevind het minder as 40 uur na ons dogter hierdie wêreld verlaat het. Ons, saam met Ouderling Kevin W. Pearson en sy vrou, June, is versterk deur die Heiliges van die Chico Kalifornië Pen. Ons het van hulle groot geloof geleer, hulle bediening en die wonderwerke wat plaasgevind het, selfs te midde van hul verwoestende verliese van die mees vernietigende brande in die geskiedenis van Kalifornië.

Terwyl ons daar was, het ons lank met ʼn jong polisiebeampte, John, gesels, wat een van vele dapper helpers was wat eerste gereageer het. Hy het vertel van die dik duisternis wat op 8 November 2018 op Paradise neergedaal het soos vlamme en warm as deur die dorp gewaai en eiendom en besittings verteer het soos ʼn plaag wat niks behalwe hopies as en baksteenskoorstene agtergelaat het nie.

Beeld
Kerkgebou na brand

John het vir 15 uur deur ʼn ondeurdringbare donkerte gery met spiese van dreigende, gloeiende as, terwyl hy persoon na persoon, familie na familie gehelp het om na veiligheid te ontsnap—alles ten koste van sy eie veiligheid. Tog, gedurende daardie veeleisende taak, was dít wat John die bangste gemaak het, die allesoorheersende vraag: “Waar is my familie?” Na baie lang, skrikwekkende ure van bekommernis, het hy uiteindelik gehoor dat hulle veilig ontruim is.

Die storie van John se kommer oor sy familie het my aangespoor om vandag met diegene van julle te praat wat ook mag vra, wanneer julle die einde van julle aardse lewe nader, “Waar is my familie?” In daardie toekomende dag wanneer jy jou aardse proeftyd voltooi het en die geesteswêreld ingaan, sal jy van aangesig tot aangesig kom met daardie hartverskeurende vraag: “Waar is my familie?”

Jesus Christus leer ons die weg terug na ons ewige tuiste. Hy verstaan ons Hemelse Vader se plan van ewige vooruitgang beter as enigeen van ons. Hy is immers die sluitsteen van alles. Hy is ons Verlosser, ons Geneesheer, en ons Saligmaker.

Van die tyd dat Adam en Eva uit die Tuin van Eden gewerp is, het Jesus die Christus sy magtige arm aangebied om almal wat kies om Hom te volg, te help. Die skrifture toon herhaaldelik, dat ten spyte van alle soorte sondes van alle tipes mense, dat sy arms nog steeds uitgestrek is.2

Die gees in elkeen van ons verlang van nature dat familie-liefde vir ewig moet duur. Liefdesliedjies hou ʼn valse hoop in dat liefde al is wat nodig is indien julle vir ewig saam wil wees. En sommiges glo verkeerdelik dat die Opstanding van Jesus Christus ʼn belofte is dat alle mense saam met hulle geliefdes sal wees ná die dood.

Die waarheid is, en die Saligmaker het dit self baie duidelik gemaak, dat alhoewel sy Opstanding die versekering gee aan elke persoon wat ooit geleef het, dat hulle wel sal opstaan en vir ewig sal lewe,3 word daar baie meer benodig indien ons die hoë voorreg van verheffing wil ontvang. Heil is ʼn individuele saak, maar verheffing is ʼn familie-saak.

Luister na hierdie woorde wat die Here Jesus Christus aan sy profeet gespreek het: “Alle verbonde, kontrakte, verbintenisse, verpligtinge, ede, geloftes, verrigtinge, betrekkinge, verbondenhede of verwagtinge wat nie gemaak en gesluit en verseël is deur die Heilige Gees van die belofte nie … het geen geldigheid, waarde, of is van krag in en na die opstanding van die dode nie; want alle kontrakte wat nie gesluit word vir hierdie doel nie, het ʼn einde wanneer die mens dood is.”4

Wat is dus die vereiste vir ʼn familie om vir ewig verhef te word? Ons kwalifiseer vir daardie voorreg deur verbonde met God te sluit, hierdie verbonde te onderhou en die noodsaaklike ordinansies te ontvang.

Dit is waar sedert die begin van tyd. Adam en Eva, Noag en sy vrou, Abraham en Sara, Lehi en Sariah en alle ander toegewyde dissipels van Jesus Christus—sedert die wêreld geskep is—het dieselfde verbonde met God gesluit. Hulle het dieselfde ordinansies ontvang wat ons as lede van die Here se herstelde Kerk vandag sluit: daardie verbonde wat ons tydens die doop en in die tempel ontvang.

Die Saligmaker nooi almal om Hom in die waters van die doop te volg en om mettertyd addisionele verbonde met God in die tempel te sluit en om daardie verdere noodsaaklike ordinansies te ontvang en getrou aan hulle te bly. Al hierdie word vereis indien ons vir ewig verhef wil word saam met ons families en God.

Die benoudheid van my hart is dat baie mense wat ek liefhet, wat ek bewonder en wat ek respekteer, sy uitnodiging verwerp. Hulle ignoreer die pleidooie van Jesus Christus wanneer Hy roep: “Kom, volg My.”5

Ek verstaan hoekom God ween.6 Ek huil ook vir sulke vriende en familie. Hulle is wonderlike mans en vroue, toegewyd aan hulle families en burgerlike verantwoordelikhede. Hulle is vrygewig met hulle tyd, energie en bates. En die wêreld is beter vanweë hulle bydrae. Maar hulle het besluit om nie verbonde met God te sluit nie. Hulle het nie die ordinansies ontvang wat hulle saam met hulle families sal verhef en hulle vir ewig saam sal bind nie.7

Hoe wens ek dat ek hulle kan besoek en hulle kan uitnooi om hierdie bemagtigingswette van die Here ernstig te oorweeg. Ek het gewonder wat ek moontlik kan sê sodat hulle kan voel hoe baie die Saligmaker hulle liefhet en kan weet hoe baie ek hulle liefhet, en kan besef hoe verbonds-nakomende vroue en mans ʼn “volheid van vreugde” kan ontvang.8

Hulle moet verstaan dat alhoewel daar ʼn plek vir hulle hierna is —met wonderlike mans en vroue wat ook besluit het om nie verbonde met God te sluit nie—dat dit nie die plek is waar families verenig sal word en die voorreg gegee sal word om vir ewig saam te leef en te vorder nie. Dit is nie die koninkryk waar hulle die volheid van vreugde sal ondervind—van oneindige vordering en geluk nie.9 Daardie volmaakte seëninge kan slegs kom deur in ʼn verhewe selestiale koninkryk saam met God, ons Ewige Vader; sy Seun, Jesus Christus; en ons wonderlike, waardige en kwalifiserende familielede te woon.

Ek voel om aan my swygsame vriende te sê:

“In hierdie lewe het julle nooit die tweede beste vir enigiets aanvaar nie. Tog, as julle nie die herstelde evangelie van Jesus Christus ten volle wil aangryp nie, kies julle om die tweede beste te aanvaar.

“Die Saligmaker het gesê: ‘In die huis van my Vader is daar baie wonings.’10 As jy egter besluit om nie verbonde met God te sluit nie, is jy tevrede met net die eenvoudigste dak oor jou kop tot in alle ewigheid.”

Ek sou my teensinnige vriende verder aanspreek deur te sê:

“Stort jou hart voor God uit. Vra Hom of hierdie dinge waar is. Maak tyd om sy woorde te bestudeer. Studeer werklik! Indien jy jou familie waarlik liefhet en indien dit jou begeerte is om tot in ewigheid saam met hulle verhef te word, betaal die prys nou—deur ernstige studie en opregte gebed—om hierdie ewige waarhede te ken en dan daarvolgens te leef.

“Indien jy nie seker is of jy in God glo nie, begin daar. Verstaan dat in die afwesigheid van ervarings met God, kan mens die bestaan van God betwyfel. Dus, stel jouself in ʼn posisie om te begin om ervarings met God te hê. Verootmoedig jouself. Bid om oë te hê om God se hand in jou lewe en in die wêreld om jou te sien. Vra Hom om vir jou te sê of Hy werklik daar is—of Hy jou ken. Vra Hom hoe Hy oor jou voel. En luister dan.”

Een so ʼn dierbare vriend van my het beperkte ervarings met God gehad. Maar hy het ʼn begeerte gehad om weer saam met sy oorlede vrou te wees . Hy het my gevra om hom te help. Ek het hom aangemoedig om ons sendelinge te ontmoet, sodat hy die leerstellinge van Christus kon verstaan, en te leer van die evangeliese verbonde, ordinansies en seëninge.

Hy het dit gedoen. Maar hy het gevoel dat die pad wat hulle voorgestel het, te veel veranderinge in sy lewe sou vereis. Hy het gesê: “Daardie gebooie en verbonde is net te moeilik vir my. Ook, ek kan onmoontlik nie ʼn tiende betaal nie en ek het ook nie tyd om in die Kerk te dien nie.” Toe vra hy my: “Wanneer ek sterf, sal jy asseblief die nodige tempelwerk vir my en my vrou doen, sodat ons weer saam kan wees.”

Gelukkig is ek nie hierdie man se regter nie. Maar ek bevraagteken die waarde van plaasvervangende tempelwerk vir ʼn man wat die geleentheid gehad het om in hierdie lewe gedoop te word—om tot die priesterskap verordineer te word en tempelseëninge te ontvang terwyl hy nog hier op aarde is—maar bewustelik besluit het om hierdie pad te verwerp.

My dierbare broers en susters, Jesus Christus nooi ons om die verbondspad terug huis toe te neem na ons Hemelse Ouers en om daar saam met ons geliefdes te wees. Hy nooi ons “kom, volg My.”

Nou, as President van sy Kerk, pleit ek by julle wat julself van die Kerk gedistansieer het, en met julle wat nog nie probeer het om te weet dat die Saligmaker se Kerk herstel is nie. Doen die geestelike werk om vir julleself uit te vind, en doen dit asseblief nou. Die tyd raak min.

Ek getuig dat God leef! Jesus is die Christus. Sy Kerk en die volheid van sy evangelie is herstel om ons lewens met vreugde te seën, hier en in die hiernamaals. Ek getuig so in die naam van Jesus Christus, amen.