2019
Bediening is om Ander te Sien soos die Verlosser hulle Sien
Junie 2019


Beeld
ministering

Beginsels van Bediening, Junie 2019

Bediening is om Ander te Sien soos die Verlosser hulle Sien

Jesus het baie van sy tyd deurgebring met diegene wat as anders gesien is; Hy het hulle goddelike potensiaal raakgesien.

In ons pogings om soos die Verlosser te dien, mag ons gevra word om iemand te dien wat verskillend van ons is. Dit bied ʼn geleentheid vir ons om te leer en te groei.

Kulturele, opvoedkundige, ras-, ekonomiese, ouderdom, vorige of huidige gedrag, of ander verskille, kan dit maklik maak om iemand te oordeel, selfs voor ons hulle ken. Hierdie vooraf-oordeel is die kern van vooroordeel, en die Verlosser het daarteen gewaarsku (sien 1 Samuel 16:7; Johannes 7:24).

Kan ons verby verskille kyk en ander sien soos die Verlosser hulle sien? Hoe kan ons leer om ander lief te hê vir wie hulle is en wat hulle kan word?

Aanskou en Liefkry

Die Bybel vertel die bekende storie van die ryk jongman wat gevra het hoe om die ewige lewe te bekom: “En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry, en vir hom gesê, Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ʼn skat in die hemel hê: kom dan hier, neem die kruis op en volg My” (Markus 10:21).

Toe Ouderling S. Mark Palmer van die Sewentigs hierdie skriftuur ʼn paar jaar gelede bestudeer het, het ʼn nuwe deel van die storie skielik vir hom uitgestaan.

‘En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry.’

“Toe ek hierdie woorde gehoor het, het ek ʼn duidelike denkbeeld gevorm van ons Heer se verposing toe Hy hierdie jongman aanskou. Aanskou—soos om diep te kyk, sy siel te deurdring, sy goedheid en ook sy potensiaal te herken, asook om te onderskei wat sy grootste behoefte is.

“Dan die eenvoudige woorde—Jesus het hom liefgekry. Hy het ʼn oorweldigende liefde en deernis vir hierdie goeie jongman gevoel, en as gevolg van hierdie liefde en met hierdie liefde, het Jesus selfs meer van hom gevra. Ek kan my voorstel hoe dit vir hierdie jongman moes voel om omhul te word met so ʼn liefde, terwyl hy gevra word om iets so uiters moeilik te doen, om alles wat hy besit te verkoop en dit aan die armes te gee. …

“[Ek het myself gevra] ‘Hoe kan ek gevul word met Christelike liefde sodat [ander] God se liefde deur my kan voel en ʼn begeerte hê om te verander?’ Hoe kan ek [die individue rondom my] aanskou op dieselfde manier wat die Here die ryk jongman aangekyk het, om hulle te sien vir wie hulle werklik is en wat hulle kan word, eerder as om net te kyk wat hulle doen of nie doen nie? Hoe kan ek meer soos die Verlosser wees?”1

Leer om Ander te Sien

Deur te leer om ander te sien soos die Verlosser, bring ryke belonings. Hier is ʼn paar voorstelle wat kan help om hierdie doelwit na te streef.

  • Leer Hulle Ken
    Doen moeite om mense te leer ken sonder om oppervlakkig te wees. Besef dat dit tyd neem en opregte pogings verg om verhoudings te bou. (Sien die Augustus 2018 Beginsels van Bediening artikel “Bou Betekenisvolle Verhoudings” vir hulp.)

  • Ondersoek Jouself
    Let op oordele wat jy bewustelik of onbewustelik mag maak. Let op die aannames wat jy oor ander maak en probeer verstaan hoekom jy so oor hulle voel.

  • Weerhou Oordeel
    Besef dat omstandighede nie die waarde van ʼn individu kan bepaal nie. Plaas jouself in hul skoene en dink hoe jy wil hê iemand jou moet sien as jy in dieselfde omstandighede sou wees. Om iemand se keuses en gedrag te skei van hul intrinsieke waarde en goddelike potensiaal, kan ons help om hulle te sien soos die Verlosser hulle sou sien.

  • Bid om Hulle Lief te Hê
    Bid gereeld vir hulle by die naam en vir geduld om ʼn ware vriendskap te ontwikkel. Kyk biddend na jou diens. Is daar ʼn gaping tussen wat jy doen en wat hulle regtig nodig het?

Jesus het sy tyd deurgebring met mense uit baie geledere van die samelewing: die rykes, die armes, en die gewone mense. Hy was dikwels die slagoffer van verkeerde oordeel deur ander wanneer hulle op Hom neergekyk het, in sy oënskynlik arm of onbeduidende omstandighede. “Wanneer ons Hom sal sien, is daar geen skoonheid dat ons Hom sou begeer nie. … Hy was verag, en ons het Hom nie geag nie” (Jesaja 53:2–3).

Christelike Visie

ʼn Suster deel hierdie storie om te leer hoe om ʼn buurvrou met Christelike oë te sien:

“Julia (naam is verander) het naby my gewoon en dit het geblyk asof sy geen vriende het nie. Sy het altyd omgekrap en kwaad gelyk. Ten spyte daarvan, het ek besluit om ʼn vriendin vir haar te wees. Nie net ʼn terloopse vriendin in die verbygaan nie, maar ʼn ware vriendin. Ek het met haar gepraat wanneer ek haar gesien het en het belangstelling getoon in wat sy doen. Ek het stadig ʼn band van vriendskap met haar gesmee, wat vreugde in my hart gebring het.

“Een dag het ek besluit om Julia te besoek en haar te vra oor haar besluit om nie die kerk by te woon nie.

“Ek het uitgevind dat sy geen familie of verwante naby het nie. Haar enigste familie, ʼn broer wat ver weg bly, kommunikeer slegs een keer per jaar telefonies met haar. Terwyl ek na haar geluister het, haar bitterheid, woede, en frustrasies uitstort oor haar familie en die Kerk, het ʼn onmiskenbare gevoel van medelye en liefde vir hierdie suster sterk oor my gekom. Ek het haar pyn en frustrasies gevoel. Ek het besef hoe eensaam haar lewe was. Dit was asof ek ʼn stille frase agter my gehoor het: ‘Ek is ook lief vir haar. Wees lief vir haar en respekteer haar.’

“Ek het gesit en geluister totdat sy niks meer te sê gehad het nie. Ek het liefde en deernis vir haar gevoel. Dit is ʼn suster wat nog nooit geweet het wat dit is om liefgehê te word nie. Skielik het ek haar in meer diepte verstaan. Ek het haar bedank dat sy my toegelaat het om haar te besoek, en haar verlaat met ʼn drukkie en my liefde en respek vir haar. Sy sal nooit weet hoeveel sy my met daardie besoek geraak het nie. Hemelse Vader het my oë oopgemaak en my geleer dat ek die vermoë het om lief te hê met meer medelye. Ek is vasbeslote in my voorneme om nie net ʼn vriendin vir haar te wees nie, maar ook familie.”

Dit is iets heiligs om in iemand anders se lewe genooi te word. Met gebed, geduld, en hulp van die Gees, kan ons leer om dit met ʼn meer Christelike visie te doen.

Nota

  1. S. Mark Palmer, “Then Jesus Beholding Him Loved Him,” Liahona, Mei 2017, 115.