2019
Hoe Kan Ons ʼn Kultuur van Insluiting by die Kerk Ontwikkel?
Julie 2019


Beeld
ministering

Beginsels van Bediening, Julie 2019

Hoe Kan Ons ʼn Kultuur van Insluiting by die Kerk Ontwikkel?

As ons in ons wyke en takke rondkyk, sien ons mense wat lyk of hulle maklik inpas. Wat ons nie besef nie is dat selfs onder diegene wat lyk of hulle inpas, is daar baie wat uitgesluit voel. Een onlangse studie, byvoorbeeld, het gevind dat bykans die helfte van die volwassenes in die Verenigde State gerapporteer het dat hulle eensaam, uitgesluit, of geïsoleerd van ander voel.1

Dit is belangrik om ingesluit te voel. Dit is ʼn fundamentele menslike behoefte, en wanneer ons uitgesluit voel, maak dit seer. Om uitgesluit te wees, kan gevoelens van hartseer of woede veroorsaak.2 As ons voel dat ons nie behoort nie, neig ons om ʼn plek te soek waar ons meer gemaklik voel. Ons moet elkeen help om te voel dat hulle by die kerk hoort.

Sluit in Soos die Saligmaker

Die Saligmaker was die perfekte voorbeeld van iemand wat ander waardeer en ingesluit het. Toe Hy sy Apostels gekies het, het Hy nie aandag gegee aan status, rykdom of verhewe beroepe nie. Hy het die Samaritaanse vrou by die put na waarde geskat, en aan haar getuig van sy goddelikheid ten spyte van die Jode wat op die Samaritane neergesien het (sien Johannes 4). Hy kyk na die hart en is geen aannemer van die persoon nie (sien 1 Samuel 16:7; Leer en Verbonde 38:16, 26).

Die Saligmaker het gesê:

“ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34–35).

Wat kan ons doen?

Soms is dit moeilik om te weet of iemand voel asof hulle buitestaanders is. Die meeste mense sê dit nie—ten minste nie so duidelik nie. Maar met liefde in die hart, die leiding van die Heilige Gees, en ʼn poging om bewus te wees, kan ons voel wanneer iemand nie ingesluit voel by Kerkvergaderings en -aktiwiteite nie.

Moontlike Tekens dat Iemand Uitgesluit Voel:

  • Geslote liggaamstaal, soos arms styf gevou of oë wat afkyk.

  • Sit agter in die lokaal of sit alleen.

  • Woon nie kerk by nie, of woon ongereeld by.

  • Verlaat vergaderings of aktiwiteite vroeg.

  • Neem nie deel aan gesprekke of lesse nie.

Hierdie mag ook tekens van ander emosies wees, soos byvoorbeeld skaamte, kommer of ongemak. Lede kan “anders” voel as hulle nuwe lede in die Kerk is, van ʼn ander land of kultuur kom, of onlangs ʼn traumatiese lewensveranderende ervaring gehad het, soos byvoorbeeld egskeiding, dood van ʼn familielid, of vroeë terugkeer van sending.

Ongeag die rede, moet ons nie skroom om in liefde uit te reik nie. Wat ons sê en wat ons doen kan ʼn gevoel skep dat almal welkom is en dat almal benodig word.

Sommige Maniere om Insluitend en Verwelkomend te Wees:

  • Moenie altyd by dieselfde mense in die kerk sit nie.

  • Kyk verby mense se uiterlike voorkoms om die ware persoon te sien. (Vir meer oor hierdie onderwerp, sien “Ministering is Seeing Others as the Savior Does,” Liahona, Junie 2019, 8–11.)

  • Betrek ander in gesprekke.

  • Nooi ander om deel van jou lewe te wees. Jy kan hulle in aktiwiteite wat jy alreeds beplan, insluit.

  • Vind en bou op gemeenskaplike belangstellings.

  • Moenie vriendskap weerhou net omdat iemand nie aan jou verwagtinge voldoen nie.

  • Wanneer jy iets unieks aan ʼn persoon sien, wees daarin geïnteresseerd pleks van om dit te probeer wegpraat of dit te vermy.

  • Druk jou liefde uit en gee opregte komplimente.

  • Neem tyd om te dink wat dit regtig beteken wanneer ons sê die Kerk is vir almal, ongeag hulle verskille. Hoe kan ons dit ʼn werklikheid maak?

Dit is nie altyd maklik om gemaklik te voel tussen mense wat anders as ons is nie. Maar met oefening kan ons beter raak om waarde te vind in verskille en om die unieke bydrae wat elke persoon bring te waardeer. Soos Ouderling Dieter F. Uchtdorf van die Kworum van die Twaalf Apostels geleer het, kan ons verskille help om ons beter, gelukkiger mense te maak: “Kom, help ons om ʼn kultuur van genesing, vriendelikheid en genade jeens al God se kinders te bou en versterk.”3

Geseën deur Insluiting

Christl Fechter het na ʼn ander land getrek nadat oorlog haar vaderland verskeur het. Sy kon nie die taal praat nie en het niemand in haar nuwe omgewing geken nie, dus het sy aan die begin geïsoleerd en eensaam gevoel.

As ʼn lid van die Kerk het sy haar moed bymekaargeskraap en haar nuwe wyk begin bywoon. Sy was bekommerd dat haar swaar aksent mense sou keer om met haar te praat of dat sy geoordeel sou word omdat sy enkel was.

Maar sy het ander ontmoet wat haar verskille misgekyk het en haar in hulle gemeenskap van vriende verwelkom het. Hulle het in liefde uitgereik, en sy was baie gou besig om ʼn Primêre klas te onderrig. Die kinders was goeie voorbeelde van aanvaarding, en die gevoel dat sy liefgehad en nodig was, het haar geloof versterk en gehelp om haar lewenslange toewyding aan God opnuut aan te wakker.

Notas

  1. Sien Alexa Lardieri, “Study: Many Americans Report Feeling Lonely, Younger Generations More So,” U.S. News, 1 Mei 2018, usnews.com.

  2. Sien Carly K. Peterson, Laura C. Gravens, en Eddie Harmon-Jones, “Asymmetric Frontal Cortical Activity and Negative Affective Responses to Ostracism,” Social Cognitive and Affective Neuroscience, vol. 6, no. 3 (Junie 2011), 277–85.

  3. Dieter F. Uchtdorf, “Believe, Love, Do,” Liahona, Nov. 2018, 48.