2019
Mis Jy Hierdie Noodsaaklike Deel van Bediening?
Oktober 2019


Beginsels van Bediening, Oktober 2019

Mis Jy Hierdie Noodsaaklike Deel van Bediening?

Bediening is om “bly te wees met die wat bly is” net soveel as wat dit is om “te ween met die wat ween” (Romeine 12:15).

Beeld
ministering

Illustrasies deur Augusto Zambonato

As ons dink aan bediening, is dit maklik om te dink aan diegene te help wat in nood verkeer. Ons praat van tuinwerk vir die weduwee, om aandete vir die siekes te bring, of om te gee aan diegene wat sukkel. Ons onthou Paulus se raad om te “ween met die wat ween”, maar fokus ons genoeg op die eerste deel van daardie vers—om “bly te wees met die wat bly is”? (Romeine 12:15). Om bly te wees met diegene wat ons dien—of dit beteken om hulle sukses te vier, of hulle te help om vreugde te vind in moeilike tye—is ʼn belangrike deel van bediening soos die Saligmaker sou dien.

Hier is drie idees wat kan help (en een om te vermy) om te fokus op die goeie wat God in ons lewens plaas.

1. Wees Bewus

Bonnie H. Cordon, Jongdames Algemene President, help ons verstaan dat ons diegene wat ons dien moet sien nie net hulle laste en worstelings nie, maar ook hulle sterk punte, talente en suksesse. Sy het gesê dat ons “ʼn kampvegter en vertroueling moet wees—iemand wat bewus is van hulle omstandighede en hulle ondersteun in hulle verwagtinge en aspirasies.”1

In die gelykenis van die skape en die bokke het die Saligmaker gesê dat diegene wat aan sy regterhand gevind sou word, sou vra: “Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

“En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee?” (Matthéüs 25:37–38).

“Broers en susters, die sleutelwoord is gesien,” het Suster Cordon gesê. “Die regverdiges het diegene in nood gesien omdat hulle gekyk en opgelet het. Ons kan ook ʼn wakende oog wees om te help en te vertroos, om te vier en selfs te droom.”2

2. Vind Redes om te Vier

Vier suksesse groot en klein. Dit kan wees om kanker te oorwin of om deur ʼn gebroke verhouding te gaan, ʼn nuwe werk of ʼn verlore skoen te vind, ʼn maand te oorleef na die verlies van ʼn geliefde of ʼn week sonder suiker te oorleef.

Bel om geluk te wens, lewer ʼn kaartjie af, of gaan uit vir middagete. Deur saam in ons seëninge te deel, te lewe met dankbaarheid, en die seëninge en suksesse van ander te vier, “verheug ons [ons] in die vreugde van ons broers” (Alma 30:34).

3. Sien die Hand van die Here

Om soms met ander verheug te wees, kan hulle help om redes te sien om verheug te wees—ongeag watter moeilikhede of genietinge in ons lewens kom. Die eenvoudige waarheid dat Hemelse Vader bewus is van ons en gereed is om ons op te hef, kan ʼn ongelooflike bron van vreugde wees.

Jy kan ander help om die hand van die Here in hulle lewens te sien deur met hulle te deel hoe jy dit in jou eie gesien het. Wees kwesbaar genoeg om te deel hoe Hemelse Vader jou deur jou uitdagings gehelp het. Hierdie getuienis kan ander help om te herken en erken hoe Hy hulle gehelp het (sien Mosia 24:14).

4. Moenie Jou Vermoë om Verheug te Wees Beperk Nie

Ongelukkig kan ons soms ons eie vermoë om saam met ander verheug te wees beperk, veral wanneer ons onseker voel oor wat ons kan bied of waar ons in die lewe staan. In plaas van om ons te verheug in ander se geluk, trap ons in die strik van vergelyking. En soos Ouderling Quentin L. Cook van die Kworum van die Twaalf Apostels geleer het: “Om seëninge te vergelyk is amper seker om vreugde te verdryf. Ons kan nie terselfdertyd dankbaar en jaloers wees nie.”3

“Hoe kan ons so ʼn neiging wat so algemeen in byna elkeen is, oorkom?” vra Ouderling Jeffrey R. Holland van die Kworum van die Twaalf Apostels. “… Ons kan ons baie seëninge tel en ons kan die prestasies van ander prys. Die beste van alles is dat ons ander kan dien, die voortreflikste oefening wat ooit vir die hart voorgeskryf is.”4 In plaas van om te vergelyk, kan ons diegene wat ons dien, komplimenteer. Deel vrylik wat jy van hulle of hulle familielede waardeer.

Soos Paulus ons herinner, ons is almal lede van die liggaam van Christus, en wanneer “een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Korinthiërs 12:26). Met Hemelse Vader se hulp kan ons bewus wees van ander se ondervindings, suksesse groot en klein vier, hulle help om die hand van die Here te herken en om jaloesie te oorkom, sodat ons waarlik saam verheug kan wees in die seëninge, talente en geluk van ander.

Notas

  1. Bonnie H. Cordon, “Becoming a Shepherd,” Liahona, Nov. 2018, 75.

  2. Bonnie H. Cordon, “Becoming a Shepherd,” 75.

  3. Quentin L. Cook, “Rejoice!” Ensign, Nov. 1996, 30).

  4. Jeffrey R. Holland, “The Other Prodigal,” Liahona, Mei 2002, 64.