2019
Kwalifiseer om die Heilige Tempel te Betree
Eerste Presidensie-boodskap, November 2019


Eerste Presidensieboodskap, November 2019

Kwalifiseer om die Heilige Tempel te Betree

Individuele waardigheid vereis ʼn totale bekering van verstand en hart om meer soos die Here te wees.

My dierbare broers en susters, soos ons aan die einde van die historiese konferensie kom, dank ons die Here vir die inspirerende boodskappe en musiek wat ons gestig het. Ons het waarlik ʼn geestelike feesmaal geniet.

Ons weet dat die herstelde evangelie van Jesus Christus hoop en vreugde aan mense sal bring wat dit sal hoor en sy leerstellings volg. Ons weet ook dat elke huis ʼn ware heiligdom van geloof kan word waar vrede, liefde en die Gees van die Here kan woon.

Natuurlik is die kroonjuweel van die Herstelling die heilige tempel. Die heilige ordinansies en verbonde van die tempel is uiters belangrik vir die voorbereiding van ʼn volk wat gereed is om die Saligmaker met sy Wederkoms te verwelkom. Ons het huidiglik 166 toegewyde tempels, en daar is meer wat kom.

ʼn Ope-huis sal gehou word voor die inwyding van elke nuwe en opgeknapte tempel. Baie vriende wat nie van ons geloof is nie, sal aan daardie tempeltoere deelneem en sal iets leer van tempelseëninge. En sommige van daardie besoekers sal ontroer word om meer te wil weet. Sommige sal met opregtheid vra hoe hulle kan kwalifiseer vir die seёninge van die tempel.

As lede van die Kerk, moet ons voorbereid wees om hulle vrae te beantwoord. Ons kan verduidelik dat die seëninge van die tempel beskikbaar is vir enige en alle mense wat hulself sal voorberei. Maar voordat hulle ʼn toegewyde tempel kan betree, moet hulle kwalifiseer. Die Here wil hê dat al sy kinders moet deel hê aan die ewige seëninge wat in sy tempel beskikbaar is. Hy het aangedui wat elke persoon moet doen om te kwalifiseer om sy heilige huis te betree.

ʼn Goeie plek vir ons om so ʼn onderrig-geleentheid te begin, is om aandag te vestig op die woorde wat aan die buitekant van die tempel geëts is: “Heiligheid aan die Here: Die Huis van die Here.” President Henry B. Eyring se boodskap vandag en baie ander het ons geïnspireer om meer heilig te word. Elke tempel is ʼn heilige plek; elke tempelbesoeker streef daarna om meer heilig te word.

Alle vereistes om die tempel te betree hou verband met persoonlike heiligheid. Om daardie gereedheid te bepaal, sal elke persoon wat die seëninge van die tempel wil geniet twee onderhoude moet hê: eerstens met ʼn biskop, biskopsraadgewer of takpresident; tweedens met ʼn pen- of sendingpresident of een van sy raadgewers. In daardie onderhoude sal verskeie vrae gevra word.

Sommige van daardie vrae is onlangs geredigeer vir duidelikheid. Ek sal hulle graag nou vir julle verduidelik:

  1. Het u geloof in en ʼn getuienis van God, die Ewige Vader, sy Seun Jesus Christus; en die Heilige Gees?

  2. Het u ʼn getuienis van die Versoening van Jesus Christus en van sy rol as u Saligmaker en Verlosser?

  3. Het u ʼn getuienis van die Herstelling van die evangelie van Jesus Christus?

  4. Onderskraag u die President van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae as die profeet, siener en openbaarder en as die enigste persoon op die aarde wat gemagtig is om alle priesterskapsleutels uit te oefen?

    Onderskraag u die lede van die Eerste Presidensie en die Kworum van die Twaalf Apostels as profete, sieners en openbaarders?

    Onderskraag u die ander Algemene Gesagsdraers en plaaslike leiers van die Kerk?

  5. Die Here het gesê dat alle dinge “in reinheid” voor Hom gedoen moet word (Leer en Verbonde 42:41).

    Streef u morele reinheid in u gedagtes en gedrag na?

    Onderhou u die wet van kuisheid?

  6. Volg u die leerstellings van die Kerk van Jesus Christus in u privaat- en openbare gedrag met u familielede en andere?

  7. Ondersteun of bevorder u enige leerstellings, praktyke of leringe wat teenstrydig is met dié van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae?

  8. Streef u daarna om die Sabbatdag heilig te hou, beide by die huis en by die kerk; u vergaderings by te woon; voor te berei vir en om waardig deel te neem aan die nagmaal; en u lewe in harmonie met die wette en gebooie van die evangelie te leef?

  9. Streef u daarna om eerlik te wees in alles wat u doen?

  10. Is u ʼn volle tiendebetaler?

  11. Verstaan en gehoorsaam u die Woord van Wysheid?

  12. Het u enige finansiële of ander verpligtinge teenoor ʼn voormalige eggenoot(e) of kinders?

    Indien ja, is u op datum om daardie verpligtinge na te kom?

  13. Onderhou u die verbonde wat u in die tempel gesluit het, insluitende die dra van die tempelkleed soos geleer in die begiftiging?

  14. Is daar ernstige sondes in u lewe wat met priesterskap-gesagsdraers uitgeklaar moet word as deel van u bekering?

  15. Ag u uself waardig om die huis van die Here te betree en aan tempel-ordinansies deel te neem?

Hierdie hersiene tempel-aanbevelingsvrae sal môre aan Kerkleiers regoor die wêreld versprei word.

Bykomend tot die eerlike beantwoording van daardie vrae, word dit aanvaar dat elke volwasse tempel-aanbevelingshouer die heilige kleed van die priesterskap onder hul gewone klere sal dra. Dit is simbolies van ʼn innerlike verbintenis om elke dag daarna te streef om meer soos die Here te word. Dit herinner ons ook daaraan om elke dag getrou te bly aan verbonde wat gesluit is en om elke dag op ʼn hoër en heiliger manier op die verbondspad te stap.

Nou, net vir ʼn oomblik, wil ek graag met ons jeug praat. Ons moedig julle aan om te kwalifiseer vir beperkte-gebruik tempel-aanbevelings. Julle sal slegs daardie vrae gevra word wat op julle van toepassing is in jul voorbereiding vir die ordinansies van plaasvervangende doop en bevestiging. Ons is baie dankbaar vir julle waardigheid en gewilligheid om aan hierdie heilige tempelwerk deel te neem. Ons sê vir julle dankie!

Individuele waardigheid om die Here se huis te betree, verg baie individuele geestelike voorbereiding. Maar met die Here se hulp is niks onmoontlik nie. In sommige opsigte is dit makliker om ʼn tempel te bou as om mense op te bou wat voorbereid is vir ʼn tempel. Individuele waardigheid vereis ʼn totale bekering van verstand en hart om meer soos die Here te wees, om ʼn eerlike burger te wees, om ʼn beter voorbeeld te wees en om ʼn heiliger persoon te wees.

Ek getuig dat sulke voorbereidingswerk ontelbare seëninge in hierdie lewe bring en ondenkbare seëninge in die lewe hierna, insluitende die onophoudelike voortduur van jul familie-eenheid regdeur alle ewigheid “in ʼn toestand van nimmereindigende geluk.”1

Nou wil ek graag ʼn ander onderwerp bespreek: planne vir die komende jaar. In die lente van die jaar 2020 sal dit presies 200 jaar wees sedert Joseph Smith die Goddelike visioen wat ons ken as die Eerste Visioen, ervaar het. God die Vader en sy Geliefde Seun, Jesus Christus, het aan Joseph Smith, ʼn 14-jarige jong man, verskyn. Daardie gebeurtenis was die begin van die Herstelling van die evangelie van Jesus Christus in sy volheid, presies soos voorspel in die Heilige Bybel.2

Daarna het ʼn opeenvolging van besoeke van hemelse boodskappers begin, insluitende Moroni, Johannes die Doper, en die vroeë Apostels Petrus, Jakobus en Johannes. Ander het gevolg, insluitende Moses, Elias en Elía. Elkeen het goddelike gesag gebring om weer eens God se kinders op die aarde te seën.

Wonderbaarlik het ons ook die Boek van Mormon ontvang: Nog ʼn Testament van Jesus Christus, ʼn metgesel-skriftuur tot die Heilige Bybel. Die openbaringe wat gepubliseer is in die Leer en Verbonde en die Baie Kosbare Pêrel het ook ons begrip van God se gebooie en ewige waarhede grootliks verryk.

Die sleutels en ampte van die priesterskap is herstel, insluitende die ampte van Apostel, Sewentig, patriarg, hoëpriester, ouderling, biskop, priester, leraar en diaken. En vroue wat die Here liefhet dien getrou in die Verligtingsvereniging, Primêre Organisasie, Jongdames, Sondagskool en ander Kerkroepings—almal noodsaaklike dele van die Herstelling van die evangelie van Jesus Christus in sy volheid.

Dus sal die jaar 2020 aangewys word as ʼn tweehonderdjarige gedenkjaar. Algemene konferensie volgende April sal verskil van enige vorige konferensie. In die volgende ses maande hoop ek dat elke lidmaat en elke familie sal voorberei vir ʼn unieke konferensie wat die fondasies van die herstelde evangelie sal herdenk.

Julle mag dalk jul voorbereiding begin deur weer eens van vooraf Joseph Smith se weergawe van die Eerste Visioen soos opgeteken in die Baie Kosbare Pêrel te lees. Ons studiekursus vir volgende jaar in Come, Follow Me is die Boek van Mormon. Julle mag dalk wil peins oor belangrike vrae soos: “Hoe sou my lewe anders gewees het indien my kennis van die Boek van Mormon verkry, skielik weggeneem sou word?” of “Hoe het die gebeure wat op die Eerste Visioen gevolg het, ʼn verskil vir my en my geliefdes gemaak?” Ook, met die Boek van Mormon videoʼs wat nou beskikbaar word, mag jy dit dalk in jou individuele en familie-studie wil insluit.

Kies jou eie vrae. Stel jou eie plan op. Verdiep jouself in die glorieryke lig van die Herstelling. As julle dit doen, sal algemene konferensie volgende April nie net onthou word nie; dit sal onvergeetlik wees.

Nou ter afsluiting, laat ek my liefde en my seëning met julle dat elkeen van julle gelukkiger en heiliger mag word met elke dag wat verbygaan. Intussen, wees asseblief versekerd dat openbaring in die Kerk voortduur en sal voortduur onder die leiding van die Here totdat “die doelstellings van God bereik sal word en die Groot Jehova sal sê die werk is voltooi.”3

Ek seën julle so en bevestig my liefde vir julle, met my getuienis dat God leef! Jesus is die Christus! Dit is sy Kerk en ons is sy volk. In die heilige naam van Jesus Christus, amen.