2019
Wat die Kersverhaal Ons Leer oor Bediening
Desember 2019


Beginsels van Bediening, Desember 2019

Wat die Kersverhaal Ons Leer oor Bediening

“Hierdie is die geliefde seisoen van die jaar. Sing ʼn rympie; Kerstyd is binnekort hier. Vertel die ware verhaal van Jesus se geboorte toe Hy as baba na die aarde gekom het” (“The Nativity Song,” Children’s Songbook, 52).

Beeld
ministering

Detail van Behold the Lamb of God, deur Walter Rane

Kerstyd is ʼn wonderlike tyd wanneer skape, herders, krippe en sterre skielik nuwe betekenis kry. Hulle word belangrike spelers in die hervertelling van een van die belangrikste gebeurtenisse in mensegeskiedenis: die geboorte van Jesus Christus. Baie families vertoon ʼn Kerstoneel in hul huise. Ander maak ʼn punt daarvan om die verhaal van sy geboorte te lees of aan ʼn skouspel deel te neem. Soos alle verhale van Christus, is die verhaal van sy geboorte gevul met lesse wat ons kan leer oor bediening, oor hoe om sy lig te deel om die wêreld te verlig. “Die verhaal van Kersfees is ʼn verhaal van liefde,” het President Henry B. Eyring, Tweede Raadgewer in die Eerste Presidensie, gesê.

“… In die verhale van Christus se geboorte, kan ons sien en voel wie Hy was en wie Hy is. Dit verlig ons las langs die pad. En dit sal ons lei om onsself te vergeet en om die laste van ander ligter te maak.”1

“Daar was geen plek vir hulle in die herberg nie”(Lukas 2:7)

Die herbergier kon nie plek maak vir die Saligmaker nie, maar ons hoef nie daardie fout te maak nie! Ons kan plek maak vir die Saligmaker in ons harte deur plek te maak vir ons broers en susters aan ons tafels, in ons huise en in ons tradisies. Baie familie-tradisies kan aangenamer gemaak word en selfs meer onvergeetlik deur ander mense in te sluit. Daiana en haar gesin het die tradisie om iemand te nooi om Kersfees saam met hulle deur te bring. Elke Desember bespreek hulle dit en besluit wie hulle graag wil nooi.2 Miskien kan jou familie ʼn soortgelyke tradisie begin. Miskien sal iemand wat jy dien, graag by jou familie wil aansluit om gunsteling Kersliedere saam te sing. Jy kan ook plek maak by jou Kersete vir iemand wat nie familie in die omgewing het nie.

Watter beter manier om die Saligmaker se geboorte te vier as om sy voorbeeld van insluiting te volg? Onthou dat Hy “nooi hulle almal om na Hom te kom en deel te hê aan sy goedheid; en Hy wys niemand weg wat na Hom kom nie, swart en wit, slaaf en vryman, man en vrou; en Hy onthou die heiden; en almal is gelyk voor God, beide Jood en nie-Jood.” (2 Nefi 26:33). Maak plek en skep insluiting.

“En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8)

Dit blyk gepas te wees dat herders onder die eerstes sou wees om die baba Saligmaker te groet. Profete van ouds het na Jesus Christus verwys as die “Herder van Israel” (Psalm 80:1) en die “Herder oor die hele aarde” (1 Nefi 13:41). En Christus het self gesê: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie [skape]” (Johannes 10:14). Om ons skape te ken en oor hulle te waak, is ʼn belangrike deel van herderskap en bediening soos die Saligmaker dit doen.

Met die glinsterende liggies en versierings is daar baie om na te kyk gedurende Kerstyd. Maar miskien kan die grootste skoonheid van die seisoen gevind word wanneer ons onthou om te fokus op diegene wat ons dien en om oor ons eie skape te waak. Waaksaamheid kan beteken om op te let wat iemand se gunsteling lekkerny is of om iemand uit te vra oor hul vakansieplanne. Ons is waaksaam wanneer ons ander se behoeftes raaksien en daaraan voldoen—beide dit wat voor-die-hand-liggend en dit wat nie voor-die-hand-liggend is nie.

Toe Cheryl skielik haar man Mick verloor het, was sy verpletter. Soos haar eerste Kersfees sonder hom nader gekom het, het die eensaamheid toegeneem. Gelukkig was haar bedieningsuster Shauna daar. Shauna en haar man, Jim, het Cheryl na baie Kersgety-uitstappies genooi. Hulle het Cheryl se verslete jas opgemerk en besluit om iets daaraan te doen. ʼn Paar dae voor Kersfees het Shauna en Jim vir Cheryl ʼn Kersgeskenk gebring: ʼn pragtige nuwe jas. Hulle was bewus van Shauna se fisiese behoeftes aan ʼn warm jas, maar ook van haar emosionele behoeftes aan vertroosting en geselskap. Hulle het ingetree om die behoeftes tot die beste van hulle vermoëns te vul en het ʼn pragtige voorbeeld gestel van hoe ons ook oor ons kuddes kan waak.3

“Sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan” (Lukas 2:15)

“Laat ons dan [nou] gaan” is ʼn geesdriftige uitnodiging! Die herders het nie aangeneem dat hulle vriende te moeg sou wees om die reis mee te maak nie. Hulle het nie stil op hulle eie na Betlehem gereis nie. Hulle het vreugdevol na mekaar gedraai en gesê: “Laat ons dan [nou] gaan!”

Alhoewel ons miskien nie ons vriende kan nooi om die baba Saligmaker te kom besoek nie, kan ons hulle nooi om die gees van Kersfees (of die gees van Christus) aan te voel, deur saam met ons te dien. “Die manier om die Kersgees te verhoog is om mildelik uit te reik na diegene rondom ons en van onsself te gee,” het Bonnie L. Oscarson, voormalige Jongdames Algemene President gesê.4 Stel jou voor jy hou ʼn kers vas. Ander kan sekerlik die lig van jou kers sien en daarby baat vind, maar dink aan die warmte wat hulle kan voel as jy jou kers gebruik om hulle kers aan te steek en hulle toe te laat om die lig vir hulself te hou.

Christus het Self geleer dat diegene wat Hom volg, die lig van die lewe sal hê (sien Johannes 8:12). Om te dien soos Hy gedien het is een manier hoe ons Hom kan volg en daardie beloofde lig kan geniet. Deel dus die lig deur ander te nooi om saam met jou te dien! Hoe kan jy en diegene wat jy dien, saam dien? Julle kan saam jul gunsteling kosse voorberei of iemand verras met ʼn klein geskenkie of ʼn nota. Saam kan julle albei die lig voel wat kom deur Christus se voorbeeld van diens te volg.

“Hulle het oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is” (Lukas 2:17)

Dit is maklik om die vreugdevolle opwinding van die herders in te dink soos hulle die wonderlike nuus van Christus se geboorte met soveel mense as moontlik gedeel het. Ingelui deur engele, het die voorspelde Messias gekom! Hy was hier! Eintlik, om die goeie nuus van die Saligmaker te deel is ʼn groot tema van die Kersverhaal. Die engele het gesing. Die ster het die rigting aangedui. En die herders het dit oral bekend gemaak.

Ons kan ons stemme by die Kersverhaal voeg deur die goeie nuus te deel en van die Saligmaker te getuig. “Aangesien jy die voorreg het om die Saligmaker in jou bedieningspogings te verteenwoordig, vra jouself: ‘Hoe kan ek die lig van die evangelie met hierdie individu of familie deel?’” het Suster Jean B. Bingham, Algemene President van die Verligtingsvereniging, geleer. “Wat inspireer die Gees my om te doen?”5

Hier is ʼn paar voorstelle wat jy kan oorweeg terwyl jy soek om te weet hoe jy jou getuienis van die Saligmaker en sy evangelie kan deel:

  • Soek ʼn skriftuur wat jou gevoelens oor die Saligmaker vasvang of verduidelik hoekom jy so dankbaar is vir Hom. Deel dit met diegene wat jy dien.

  • Stuur ʼn teks- of ʼn sosiale media-boodskap met ʼn Kersfeesvideo. Daar is ʼn paar wonderlikes op ChurchofJesusChrist.org!

  • Vertel ʼn vriend van ʼn spesiale herinnering of tradisie wat jou aan Christus herinner.

Glo dat die Heilige Gees sal getuig van die waarheid van jou getuienis, net soos Hy aan Simeon en Anna getuig het dat die baba Jesus, die Saligmaker was (sien Lukas 2:26, 38).

“Om waarlik die koms van Jesus Christus na die wêreld te eer, moet ons doen soos Hy gedoen het en met deernis en barmhartigheid na ons medemens uitreik,” het Ouderling Dieter F. Uchtdorf van die Kworum van die Twaalf Apostels gesê. “Dit kan ons daagliks doen, in woord en in daad. Laat dit ons Kersfeestradisie word, maak nie saak waar ons is nie—om ʼn bietjie vriendeliker te wees, meer vergewensgesind, minder veroordelend, en meer dankbaar en meer vrygewig te wees om ons oorvloed met diegene in nood te deel.”6

Notas

  1. Henry B. Eyring, “Christmas Stories” (Eerste Presidensie Kersboodskap, 6 Des. 2009), broadcasts.ChurchofJesusChrist.org.

  2. Sien Daiana Melina Albornoz Díaz, “Sharing Christmas,” Liahona, Des. 2007, 17.

  3. Sien Cheryl Boyle, “He Would Have Bought It for You,” Ensign, Des. 2001, 57.

  4. Bonnie L. Oscarson, “Christmas Is Christlike Love” (Eerste Presidensie Kersboodskap, 7 Des. 2014), broadcasts.ChurchofJesusChrist.org.

  5. Jean B. Bingham, “Ministering as the Savior Does,” Liahona, Mei 2018, 104.

  6. Dieter F. Uchtdorf, “Scatter Your Crumbs” (Eerste Presidensie Kersboodskap, 3 Des. 2017), broadcasts.ChurchofJesusChrist.org.