2020
Bediening deur Tempeldiens
Maart 2020


Beginsels van Bediening, Maart 2020

BEDIENING DEUR TEMPELDIENS

Wanneer ons ander help om die seëninge van die tempel te geniet, is ons besig om te dien.

Beeld
ministering

Agtergrond verkry van Getty Images; foto van die Tegucigalpa Honduras-tempel

Tempelbywoning is die moeite werd. President Russell M. Nelson het ons geleer dat “die tempel van die uiterste belang is vir ons heil en verheffing en dié van ons families. …

“… Elkeen van ons benodig die voortdurende geestelike versterking en onderrig wat slegs moontlik is in die huis van die Here.”1

Om die tempel by te woon, is dit nodig om ons tyd, verantwoordelikhede en hulpbronne te bestuur, asook om geestelik voorbereid te wees. Ons dien wanneer ons die hindernisse identifiseer wat ons broers en susters weghou van die tempel en hulle help om oplossings te vind.

Die Tempel Is ʼn Seëning wat Enigeen Kan Geniet

Meg, ʼn sendeling wat onlangs teruggekeer het, het in die rigting van die deure van die Kona Hawaii-tempel gestap toe sy ʼn jong vrou sien wat alleen buite op ʼn bankie gesit het. Meg het gevoel sy moet met die jong vrou praat, maar sy was nie seker wat om te sê nie. Sy vra toe wat die betekenis van die tatoeëermerk op die jong vrou se enkel is. ʼn Gesprek het begin wat die jong vrou, Lani, toegelaat het om haar storie te deel.

Lani het Meg vertel van haar stryd om weer ten volle betrokke te raak by die Kerk, die goeie lede wat haar gehelp het, en haar hoop om eendag aan haar babadogtertjie verseël te word.

Meg het Lani genooi om saam met haar in die tempel se wagkamer te sit. Hulle sou nie verder in die tempel kon ingaan nie, maar hul sou die drumpel kon oorsteek. Lani het ingestem en hulle het saam deur die hoofdeure gegaan. ʼn Tempelwerker het hulle na ʼn bankie onder ’n skildery van die Saligmaker vergesel.

Terwyl hulle saamgesit het, het Lani gefluister: “Ek wou regtig vandag die tempel binnegaan, maar ek was senuweeagtig.” Omdat Meg die Gees gevolg het, het sy gehelp om Lani se stille gebed te beantwoord.

Idees om Diegene sonder ʼn Aanbeveling te Help

Selfs diegene wat nog nie ʼn tempelaanbeveling het nie, kan deur die tempel geseën word.

Maak Tempelbywoning Makliker vir Andere

Selfs vir lidmate met ʼn tempelaanbeveling kan dit ʼn uitdaging wees om die tempel by te woon. Sommiges sal dalk lang afstande moet reis. Ander het miskien klein kinders of bejaarde familielede wat versorg moet word. Ons kan saamwerk om tempeldiens vir almal moontlik te maak.

Leola Chandler het oorweldig gevoel omdat sy haar siek man en vier kinders moes versorg. Sy het toe besluit om elke Dinsdag tyd te maak om die nabygeleë tempel te besoek. Dit het ʼn bron van vrede en krag in haar lewe geword.

Eendag het sy gehoor dat ʼn paar ouer susters in haar wyk desperaat was om die tempel te besoek, maar dat hulle geen vervoer gehad het nie. Leola het ʼn saamrygeleentheid vir hulle aangebied. Vir die volgende 40 jaar het sy selde alleen na die tempel gegaan.2

Leola is geseën, en sy het ander geseën toe sy aangebied het om hulle saam met haar na die tempel te neem.

Idees om Andere te Help om die Tempel by te Woon

Hoe kan jy andere help om meer gereeld by die tempel uit te kom? Jy mag vind dat dieselfde idees jou ook kan help.

  • Gaan saam. Bied aan om vervoer vir iemand te reël of te voorsien. Dit kan dalk iemand anders aanspoor om ook die tempel te besoek.

  • Vra lede van jou familie of wyk om jou te help om ordinansies vir jou voorgeslagte te doen, veral as jy baie familiename het wat gereed is vir ordinansies.

  • Bied aan om kinders op te pas sodat hul ouers die tempel kan besoek. Of reël om beurte te maak om na mekaar se kinders om te sien.

Wanneer die Tempel Ver Weg Is

Chandradas “Roshan” en Sheron Antony van Colombo, Sri Lanka, het besluit om in die tempel verseël te word. Hulle vriende, Ann en Anton Kumarasamy was so opgewonde vir hulle. Maar hulle het geweet dat dit nie maklik of goedkoop sou wees om by die Manila Filippyne-tempel uit te kom nie.

Roshan en Sheron het hulle geld gespaar en maande voor die tyd vlugte bespreek om ʼn vlug te kry wat hulle kon bekostig. Uiteindelik het die dag aangebreek. Maar, tydens hul skakeling in Maleisië het hulle ontdek dat hulle óf ʼn visum nodig het óf met ʼn ander lugredery moes vlieg om hulle reis na die Filippyne voort te sit. Dit was nie moontlik om ʼn visum te kry nie en hul kon nie kaartjies vir ʼn ander lugredery bekostig nie. Maar hulle kon nie die gedagte aanvaar om huis toe te keer sonder om verseël te word nie.

Roshan was onseker wat om te doen en het vir Anton geskakel. Anton en Ann wou baie graag help. Hulle was een van die min paartjies in Sri Lanka wat in die tempel verseël is, en hulle het geweet wat ’n seëning dit was. Maar hulle het onlangs hul spaargeld gebruik om ʼn familielid in nood by te staan, en hulle het nie genoeg geld gehad om vir Roshan en Sheron te help om kaartjies vir ʼn nuwe vlug te koop nie.

In Sri Lanka is dit gebruiklik vir die bruidegom om ʼn goue halssnoer vir die bruid te koop sodat sy geld sal hê as haar man sou sterf. Ann het besluit om haar halssnoer te verkoop om te help om die nuwe kaartjies te koop. Haar vrygewige geskenk het dit vir Roshan en Sheron moontlik gemaak om hul afspraak by die tempel in Manila na te kom.

“Ek weet hoe waardevol ʼn tempelverseëling is,” het Ann gesê. “Ek het geweet Sheron en Roshan sal ʼn groot bate vir die tak wees. Ek wou nie hê dat hulle hierdie geleentheid moes misloop nie.”3

Idees om Diegene te Help Wat nie die Tempel kan Besoek nie

Jy kan geroep word om diegene te dien wat as gevolg van afstande of kostes nie gereeld by die tempel kan uitkom nie. Maar jy kan steeds maniere vind om hulle te help om die seëninge van die tempel te waardeer.

  • Leer of neem saam deel aan ʼn tempelvoorbereiding- of familiegeskiedenisklas.

  • Gee vir hulle ʼn foto van die tempel om in hul huis op te hang.

  • Indien jy in die tempel was, deel jou gevoelens oor jou ervaring en jou getuienis van die tempelordinansies.

  • Help hulle om meer te leer oor die verbonde wat hulle gesluit het en hoe om dit te onderhou. Oorweeg dit om “Understanding Our Covenants with God: An Overview of Our Most Important Promises,” in die Julie 2012 Liahona te gebruik.

Notas

  1. Russell M. Nelson, “Becoming Exemplary Latter-day Saints,” Liahona, Nov. 2018, 114.

  2. Sien LaRene Gaunt, “Finding Joy in Temple Service,” Ensign Okt. 1994, 8.

  3. Ann en Anton kon hulle halssnoer terugkry nadat hulle vergoed is deur die Kerk se Algemene Tempelbywonershulpfonds. Dié fonds bied eenmalige finansiële bystand aan kerklede wat andersins nie kon bekostig om die tempel by te woon nie.