2020
Hoor Hom
Mei 2020


Beeld
bediening

Foto deur Mason Coberly

Eerste Presidensie-boodskap, Mei 2020

Hoor Hom

Ons Vader weet dat wanneer ons deur onsekerheid en vrees omring word, wat ons die meeste sal help is om sy Seun te hoor.

My liewe broers en susters, hoe dankbaar is ek dat ons deur die gebruik van tegnologie op hierdie Sondagoggend kon saamkom en aanbid! Hoe geseënd is ons om te weet dat die evangelie van Jesus Christus op die aarde herstel is!

Die afgelope paar weke het die meeste van ons ontwrigting in ons persoonlike lewens ervaar. Aardbewings, brande, oorstromings, plae en die gevolge daarvan het roetines ontwrig en tekorte aan voedsel, noodsaaklike goedere en spaargeld veroorsaak.

Te midde van dit alles, wil ons julle prys en julle bedank dat julle gekies het om tydens hierdie onstuimige tyd die Woord van die Here te hoor deur by ons aan te sluit vir algemene konferensie. Die toenemende duisternis wat met beproewing gepaardgaan, maak die lig van Jesus Christus selfs helderder. Dink net aan die goeie wat elkeen van ons gedurende hierdie wêreldwye ontwrigting kan doen. Julle liefde vir en geloof in die Saligmaker kan heel moontlik die katalisator wees waardeur iemand die Herstelling van die volheid van die Evangelie van Jesus Christus ontdek.

Die afgelope twee jaar het ek en suster Nelson duisende van julle oor die wêreld heen ontmoet. Ons het saam met julle in buitelugarenas en in hotelbalsale vergader. Op elke plek het ek gevoel dat ek in die teenwoordigheid van die uitverkorenes van die Here was en dat ek die versameling van Israel voor my oë sien gebeur.

Ons leef in die dag wat “ons voorvaders afgewag het met angstige verwagtinge.”1 Ons het sitplekke in die voorste ry om lewende getuies te wees van wat die profeet Nefi slegs in visioen gesien het, dat “die mag van die Lam van God” sou neerdaal “op die verbondsvolk van die Here, wat verstrooi was oor die hele aangesig van die aarde; en hulle was gewapen met geregtigheid, en met die krag van God in groot heerlikheid.”2

Julle, my broers en susters, is onder daardie mans, vroue en kinders wat Nefi gesien het. Dink daaraan!

Ongeag waar julle woon of wat julle omstandighede is, die Here Jesus Christus is julle Saligmaker, en God se profeet Joseph Smith is julle profeet. Hy is voor die skepping van die aarde vooraf bestem om die profeet van hierdie laaste tydvak te wees, wanneer “niks teruggehou sal word”3 van die Heiliges nie. Openbaring vloei voort van die Here tydens hierdie voortdurende herstelproses.

Wat beteken dit vir julle dat die Evangelie van Jesus Christus op die aarde herstel is?

Dit beteken dat jy en jou gesin vir ewig saam verseël kan word! Dit beteken dat, omdat julle gedoop is deur iemand wat gesag het van Jesus Christus en wat as lid van sy Kerk bevestig is, julle die voortdurende gemeenskap van die Heilige Gees kan geniet. Hy sal julle lei en beskerm. Dit beteken dat julle nooit sonder vertroosting of toegang tot die krag van God om julle te help, gelaat sal word nie. Dit beteken dat priesterskapkrag julle kan seën wanneer julle noodsaaklike ordinansies ontvang en verbonde met God sluit en nakom. Wat ʼn anker vir ons siele is hierdie waarhede, veral in hierdie tye waarin die storm woed.

Die Boek van Mormon doen verslag oor die klassieke opkoms en val van twee groot beskawings. Hulle geskiedenis demonstreer hoe maklik dit vir die meeste mense is om God te vergeet, die waarskuwings van die Here se profete te verwerp, en mag, gewildheid en die luste van die vlees na te jaag.4 Vorige profete het herhaaldelik “groot en wonderbaarlike dinge verklaar aan die volk, wat hulle nie geglo het nie.”5

Dit is nie anders in ons tyd nie. Deur die jare heen is groot en wonderbaarlike dinge van gewyde kansels oor die hele aarde gehoor. Tog neem die meeste mense nie hierdie waarhede aan nie—hetsy omdat hulle nie weet waar om dit te vind nie6 of omdat hulle luister na diegene wat nie die hele waarheid het nie, of omdat hulle die waarheid verwerp het ten gunste van wêreldse strewe/strewinge?.

Die teenstander is slim. Vir duisende jare al laat hy die goeie boos lyk en die bose goed.7 Sy boodskappe is geneig om luid, vermetel en grootpraterig te wees.

Boodskappe van ons Hemelse Vader is egter opvallend anders. Hy kommunikeer eenvoudig, stil en met sulke verstommende duidelikheid dat ons Hom nie kan misverstaan nie.8

Byvoorbeeld, wanneer Hy ook al sy Eniggebore Seun aan sterflinge op die aarde voorgestel het, het Hy dit met opmerklik min woorde gedoen. Op die Berg van Verheerliking het God aan Petrus, Jakobus en Johannes gesê: “Dit is my geliefde Seun: luister na Hom.”9 Sy woorde aan die Nefiete in Oorvloed van ouds was: “Kyk, my geliefde Seun, in wie Ek ’n welbehae het, in wie Ek my Naam verheerlik het—luister julle na Hom.”10 En aan Joseph Smith, in daardie diepgaande verklaring wat hierdie tydvak geopen het, het God eenvoudig gesê: “Dit is My Geliefde Seun. Hoor Hom!11

My broers en susters, dink nou aan die feit dat die betrokkenes in hierdie drie gevalle wat pas genoem is, net voordat die Vader die Seun voorgestel het, in ʼn toestand van vrees en, in ʼn mate, desperaatheid verkeer het.

Die Apostels was bang toe hulle sien Jesus Christus word op die Berg van Verheerliking deur ʼn wolk omring.

Die Nefiete was bang omdat hulle etlike dae lank vernietiging en duisternis deurleef het.

Joseph Smith was in die greep van ʼn mag van duisternis net voordat die hemel oopgegaan het.

Ons Vader weet dat wanneer ons deur onsekerheid en vrees omring word, wat ons die meeste sal help is om sy Seun te hoor.

Want as ons probeer om sy Seun te hoor—waarlik te hoor,—sal ons gelei word om te weet wat om onder enige omstandigheid te doen.

Die heel eerste woorde in die Leer en Verbonde is “slaan ag”.12 Dit beteken “om te luister met die voorneme om gehoorsaam te wees.”13 Om ag te slaan beteken om “na Hom te luister”—om te hoor wat die Saligmaker sê en om dan Sy raad te gehoorsaam. In hierdie twee woorde—“Hoor Hom”—gee God ons die patroon vir sukses, geluk en vreugde in hierdie lewe. Ons moet die woorde van die Here hoor, ag slaan daarop, en wat Hy aan ons gesê het gehoorsaam!

Namate ons nastreef om dissipels van Jesus Christus te wees, moet ons pogings om Hom te hoor meer doelbewus wees. Dit verg bewuste en volgehoue pogings om ons daaglikse lewe met Sy woorde, Sy leringe, Sy waarhede te vul.

Ons kan eenvoudig nie vertrou op inligting wat ons op sosiale media kry nie. Met miljarde woorde aanlyn en in ʼn bemarkingsdeurdrenkte wêreld wat konstant deur lawaaierige, goddelose werke van die teenstander geïnfiltreer word, waarheen kan ons gaan om Hom te hoor?

Ons kan na die skrifture gaan. Dit leer ons van Jesus Christus en Sy Evangelie, die grootheid van Sy Versoening, en ons Vader se groot plan van geluk en verlossing. Daaglikse verdieping in die Woord van God is baie belangrik vir geestelike oorlewing, veral in hierdie dae van toenemende opskudding. Terwyl ons daagliks deur die woorde van Christus gevoed word, sal die woorde van Christus ons vertel hoe om te reageer op moeilikhede wat ons nooit gedink het ons sal ondervind nie.

Ons kan ook na die tempel gaan en Hom hoor. Die huis van die Here is ʼn huis van onderrig. Daar leer die Here ons op sy eie manier. Daar leer elke ordinansie ons van die Saligmaker. Daar leer ons hoe om die sluier te lig en duideliker met die hemel te kommunikeer. Daar leer ons hoe om die teenstander te bestraf en van die Here se priesterskapskrag gebruik te maak om ons en diegene vir wie ons lief is, te versterk. Hoe gretig moet elkeen van ons wees om daar skuiling te soek!

Wanneer hierdie tydelike COVID-19-beperkings opgehef word, moet julle asseblief gereeld tyd inruim om in die tempel te aanbid en te dien. Elke minuut van daardie tyd sal jou en jou familie seën op maniere wat niks anders kan nie. Neem tyd om na te dink oor wat julle hoor en voel terwyl julle daar is. Vra die Here om julle te leer hoe om die hemele oop te maak om julle lewens en die lewens van diegene wat julle liefhet en dien, te seën.

Terwyl aanbidding in die tempel tans nie moontlik is nie, nooi ek julle om jul deelname aan familiegeskiedenis te verhoog, insluitend navorsing oor en indeksering van familiegeskiedenis. Ek belowe dat namate julle jul tyd in tempel- en familiegeskiedeniswerk verhoog, julle jul vermoë om Hom te hoor, sal vergroot en verbeter.

Ons hoor Hom ook duideliker wanneer ons ons vermoë verfyn om die fluisteringe van die Heilige Gees te herken. Dit was nog nooit noodsaakliker om te weet hoe die Gees met julle praat as nou nie. In die Godheid is die Heilige Gees die boodskapper. Hy sal gedagtes by julle laat opkom wat die Vader en die Seun wil hê dat julle moet ontvang. Hy is die Trooster. Hy sal ʼn gevoel van vrede na julle harte bring. Hy getuig van die waarheid en sal bevestig wat waar is wanneer julle die Woord van die Here hoor en lees.

Ek hernu my pleidooi dat julle alles doen wat ook al nodig is om julle geestelike kapasiteit te verhoog om persoonlike openbaring te ontvang.

As julle dit doen, sal dit julle help om te weet hoe om met julle lewe aan te beweeg, wat om tydens krisistye te doen en hoe om die versoekings en misleiding van die teenstander te onderskei en te vermy.

En, laastens, sal ons Hom hoor wanneer ons die woorde van profete, sieners en openbaarders ter harte neem. Geordineerde Apostels van Jesus Christus getuig altyd van Hom. Hulle wys ons die pad namate ons ons pad deur die hartverskeurende doolhof van ons sterflike ervarings vind.

Wat sal gebeur wanneer julle meer doelbewus hoor, ag slaan op en ter harte neem wat die Saligmaker gesê het en wat Hy nou deur Sy profete sê? Ek belowe dat julle geseën sal word met bykomende krag om versoekings, worstelings en swakheid te hanteer. Ek belowe wonderwerke in jou huwelik, gesinsverhoudinge en daaglikse werk. En ek belowe dat jou vermoë om vreugde te ervaar sal toeneem, selfs al neem die onstuimigheid in jou lewe toe.