2020
Bediening deur die Nagmaaldiens
Junie 2020


“Bediening deur die Nagmaaldiens,” Liahona, Junie 2020

Beeld
bediening

Illustrasies deur Edward McGowan

Beginsels van Bediening, Junie 2020

Bediening deur die Nagmaaldiens

Die nagmaaldiens bied geleenthede om met ander te verkeer en hulle te dien.

Die nagmaaldiens is ʼn tyd vir geestelike voeding en persoonlike nadenking oor die Saligmaker en sy Versoening. Wanneer ons elke week die nagmaal gebruik, word ons saam geestelik opgebou (sien Leer en Verbonde 84:110). Maar sommiges in ons wyke en takke bring swaar laste saam met hulle, of is glad nie daar nie.

Hier is ʼn paar geleenthede hoe ons daardie heilige uur kan gebruik om ander te dien en ʼn verskil in hulle lewens te maak.

Help om die Nagmaaldiens Beter te Maak vir Diegene wat Jy Dien

Die eerste stap om te leer hoe om te dien, is om die individue of families en hulle behoeftes te leer ken. Daar kan maniere wees hoe jy kan help om hulle nagmaal-aanbiddingsondervinding beter te maak deur bloot meer omtrent hulle te leer.

Vir Mindy, ʼn jong moeder van tweelingkleuters, het die eenvoudige pogings van haar bedieningsuster elke week ʼn groot verskil gemaak in haar nagmaaldiens-ondervinding.

“As gevolg van my man se werkskedule neem ek elke week ons tweelingdogtertjies alleen kerk toe,” verduidelik Mindy. “Dit is regtig oorweldigend om dit deur die hele nagmaaldiens met twee besige kleuters te probeer maak, maar my bedieningsuster het dit op haarself geneem om my te help.

“Sy sit elke week by ons en help my om na my dogtertjies om te sien. Net om haar langs my te hê beteken so baie en verlig werklik my angstigheid wanneer hulle uitbarstings het of veeleisend raak. Ek dink nie sy sal ooit weet watter impak haar aksies in hierdie tydstip van my lewe gehad het nie. Sy het my behoefte as ʼn jong, angstige moeder raakgesien, en sy help om kerk ʼn vreedsame en gelukkige plek vir ons almal te maak.”

Idees om Diegene met Spesiale Behoeftes te Help

  • Doen verslag aan ouderlingskworum- en Verligtingsverenigingsleiers oor die behoeftes van lede.

  • Leiers beplan nagmaaldienspraatjies om te help om in lede se behoeftes te voldoen. As diegene wat jy dien sal baat vind by ʼn sekere boodskap, deel die idee met jou leiers.

  • As jy weet dat iemand ʼn gestremdheid of voedselallergie het wat hulle verhoed om die seëninge van die nagmaal te geniet, vra hulle vir besonderhede en watter aanpassings gemaak kan word om hulle aanbiddingservaring te verbeter. Deel hierdie inligting met jou leiers.

  • As iemand wat jy dien of van weet wat huisgebonde is, hetsy permanent of tydelik, vra jou biskop of die nagmaal aan hulle by die huis bedien kan word. Jy kan selfs notas neem tydens die nagmaaldiens en dit telefonies, per e-pos of persoonlik met hulle deel.

  • As iemand wat jy dien jong kinders het, kan jy aanbied om hulle gedurende die nagmaaldiens te help.

  • As diegene wat jy dien nie gereeld na die nagmaaldiens kom nie, probeer om te verstaan en oorweeg maniere hoe jy kan help. As hulle vervoer benodig, kan jy hulle ʼn saamrygeleentheid aanbied. As hulle voel hulle familie ondersteun hulle nie, kan jy hul nooi om by jou te sit. Jy kan spesiale uitnodigings maak om hulle te help om welkom en geborge te voel by die nagmaaldiens.

Onthou, Eenvoudige Gebare Beteken Baie

Suster Jean B. Bingham, Verligtingsvereniging Algemene President, het oor bediening gesê: “Ons dink soms dat ons iets groots en heldhaftig moet doen om te ‘tel’ as om ons naaste te dien. Tog kan eenvoudige aksies van diens ʼn diep en blywende effek op ander hê—asook op onsself.”1

In ʼn klein tak in België bied Evita dikwels aan om vir Spaans-sprekende besoekers en lede tydens Kerkvergaderings te tolk. Evita is eenkeer voorgestel aan iemand van die Dominikaanse Republiek wat meer van die Kerk geleer het. Hy het ʼn bietjie Engels geken, maar Spaans was sy moedertaal. Evita het aangebied om stilweg vir hom te tolk in die nagmaaldiens sodat hy meer gemaklik kon voel.

“Vertaling kan soms my Sabbat ʼn bietjie meer gejaagd maak,” sê Evita. “Maar om die fluisterings te volg om ander te vra of hulle ʼn tolk nodig het, gee my definitief ʼn gevoel van vreugde en warmte in die wete dat ek iemand kan help om die Gees te voel en hulle vergaderings te geniet.”

Idees om te Help deur Eenvoudige Gebare

  • Praat met jou leiers om te sien wie ʼn bietjie ekstra diens nodig het tydens die nagmaaldiens. Of as jy weet van iemand wat dit wel nodig het, maak seker jou leiers is bewus van hulle.

  • Sit stil terwyl jy wag vir die diens om te begin. Dit sal “die ander gebroke harte en bedroefde geeste om ons”2 help wat die vrede nodig het wat deur eerbied in ʼn heilige plek kan kom.

  • Oorweeg dit om jou vas en gebede op te dra aan iemand wat jy dien wat ekstra vertroosting nodig het op vas Sondag.

  • Bid om te weet of daar iemand is wat baat kan vind deur langs of naby hulle te sit tydens die nagmaaldiens, en of daar ʼn ander manier is hoe jy kan help.

Die Nagmaaldiens kan ʼn Verwelkomende Plek vir Almal Wees

President Joseph Fielding Smith (1876–1972) het geleer: “Die nagmaaldiens is die heiligste van alle vergaderings van die Kerk.”3 In welke geval dit belangrik is om seker te maak dat almal wat die nagmaaldiens bywoon, welkom en geestelik gevoed voel—veral nuwe lede of lede wat vir ʼn ruk lank nie bygewoon het nie.

Merania van Nieu-Suid-Wallis, Australië, het met ʼn vrou in haar wyk bevriend geraak wat besig was om meer van die Kerk te leer. “Sy het nou een van my dierbare vriende geword,” sê Merania. “Ek hou daarvan om elke week by haar in die nagmaaldiens te sit, en vra altyd hoe dit met haar gaan en of daar enigiets is wat ek kan doen om haar te help.” Na ʼn rukkie is Merania se vriend gedoop. Die pogings van die wykslede, sowel as die verwelkomende atmosfeer in die nagmaaldiens het ʼn groot rol in haar besluit gespeel.

Idees om Terugkerende of Nuwe Lede te Dien

  • As jy in ʼn nagmaaldiens gaan praat kan jy vriende, familie, en andere nooi om na jou boodskap te kom luister.

  • Jy kan uitkyk vir diegene wat alleen is of hulp nodig het en hulle verwelkom. Vra of jy by hulle kan sit of nooi hulle om by jou te sit.

  • Wanneer die diens eindig kan jy diegene wat jy dien en andere nooi na opkomende Kerkaktiwiteite, na die tempel, of na ʼn sosiale geleentheid.

  • As iemand wat jy dien vir ʼn rukkie nie by ʼn nagmaaldiens was nie, kan jy hulle vra of hulle enige vrae het oor wat geleer is. Sê vir hulle dat hulle altyd welkom is om jou te nader as daar ʼn term, storie, of leerstelling is wat hulle nie verstaan nie. Julle kan ook die antwoorde saam opsoek indien nodig.

Notas

  1. Jean B. Bingham, “Ministering as the Savior Does,” Liahona, Mei 2018, 104.

  2. Jeffrey R. Holland, “Behold the Lamb of God,” Liahona, Mei 2019, 46.

  3. Joseph Fielding Smith, in Conference Report, Okt. 1929, 60–61.