2020
Bediening deur Kerk-aktiwiteite
Julie 2020


“Bediening deur Kerk-aktiwiteite,” Liahona, Julie 2020

Beeld
bediening

Foto van jong mans wat besig is om ʼn tent op te slaan deur Bud Corkin; foto van meisie wat besig is om die tafel te dek deur Sherie Price McFarland; agtergrond van Getty Images

Beginsels van Bediening, Julie 2020

Bediening deur Kerk-aktiwiteite

Redakteur se nota: Hierdie artikel is geskep voor die COVID-19 pandemie. Sommige van die volgende voorstelle sal nie van toepassing wees gedurende tye van sosiale distansiëring nie, maar sal van toepassing word wanneer Kerkvergaderings en -aktiwiteite weer hervat word. Indien nodig, pas asseblief hierdie voorstelle aan volgens huidige Kerk- en regeringsriglyne.

Een manier waarop ons mede-wykslede, bure en vriende kan dien is deur Kerk-aktiwiteite. Jy kan ʼn aktiwiteit beplan rondom die behoeftes en belangstellings van iemand wat jy dien, of jy kan hulle nooi om te deel in aktiwiteite of diensgeleenthede vir andere, aktiwiteite op ʼn wyk-, pen- of selfs multipen-vlak kan betekenisvolle en vermaaklike geleenthede verskaf om eenheid te bevorder en lede te versterk.

Kerk-aktiwiteite kan ook die deur oopmaak vir vele geleenthede om te dien. Kerk-aktiwiteite kan byvoorbeeld geleenthede verskaf om deel te neem aan diensprojekte wat andere seën en help om positiewe verhoudings in die gemeenskap te bou. Kerk-aktiwiteite kan ook ʼn geleentheid wees om uit te reik na minder aktiewe lede van die Kerk en na vriende van ander gelowe of vriende met geen godsdienstige bande nie.

Deur baie mense te betrek by Kerk-aktiwiteite, skep dit geleenthede vir die Here om ons wyke en takke, ons woonbuurte en gemeenskappe te seën en te versterk.

Om Betekenisvolle Verhoudings te Bou

Winter was op pad en David Dickson het geen idee gehad hoe om sy familie warm te hou nie.

David, sy vrou, en twee dogters het onlangs na die plattelandse stad van Fredonia, Arizona, VSA getrek, ʼn hoogliggende woestynlandskap wat omring is deur majestueuse rooi kranse, wildeals en immergroen bome.

Die huis wat die Dicksons gehuur het, het ʼn houtstoof gebruik as primêre hittebron. David het gou geleer dat om hout bymekaar te maak ʼn noodsaaklike vaardigheid was omdat die winters in Fredonia vol sneeu en ys was.

“Ek het geen vuurmaakhout of ʼn kettingsaag gehad nie, of selfs die kennis van hoe om een te gebruik nie!” het David gesê. “Ek het nie geweet wat ek sou doen nie.”

Van die lede in die wyk het David gevra of sy familie genoeg hout gehad het om deur die winter te kom. “Dit het hulle nie lank gevat om te besef dat ek nie gehad het nie,” het David gesê. “Die ouderlingskworum het gou aangebied om my te help om hout bymekaar te maak. Oorweldig met dankbaarheid het ek hulle aanbod aanvaar.”

David het gou uitgevind dat hierdie hout-insamelingsuitstappie tipies was van vele goedbeplande, goed georganiseerde en goed bygewoonde wyksaktiwiteite. Een Saterdagoggend het David, die ouderlingskworum president en ander lede van die wyk die berge ingevaar met ʼn karavaan van trokke en sleepwaens.

“In een middag, danksy hulle kennis en toerusting, het wykslede my familie van genoeg hout voorsien om ons die grootste deel van twee winters te hou,” het David gesê. “Selfs meer belangrik, is ek alles geleer wat ek moes weet oor hoe om op my eie hout bymekaar te maak. Teen die tyd wat ek Fredonia verlaat het, het ek geweet hoe om ʼn kettingsaag te gebruik en ek het op meer wyk hout-insamelingsaktiwiteite uitgehelp as wat ek kon tel.”

Sulke wyksaktiwiteite het nie net positiewe verhoudings tussen lede van die Kerk gebou nie, maar het ook positiewe verhoudings met almal in die gemeenskap gebou.

“Ek onthou een vrou, nie ʼn lid van die Kerk nie, wat nuut was in ons area,” het David gesê. “Sy het uiteindelik houtpanele uit haar huis gebrand om warm te bly. Toe ons van haar benarde situasie uitgevind het, het ons seker gemaak sy het genoeg hout om haar deur die winter te sien. Sy was so dankbaar, sy kon skaars praat.”

Bedieningspogings in Fredonia het verseker dat almal veilig en warm deur die winter kon gaan.

Om Uit te Reik Na Andere

Terwyl sy ʼn sending in Roemenië gedien het, het Meg Yost en haar metgesel gereeld ʼn familie besoek wat vir ʼn baie lang tyd nie Kerk bygewoon het nie. “Die Stanicas was onder die vroegste lede van die Kerk in Roemenië,” het Meg gesê, “en ons was lief vir hulle.”

Toe dit tyd was om ʼn tak-aktiwiteit te beplan, het leiers besluit dat die tak ʼn “Pionier Aand” sou hou. Dit sou ʼn aand wees om die moedige pioniers te vier wat oor die Verenigde State na die Salt Lake-vallei getrek het. Dit sou ook ʼn geleentheid wees om die pioniers van die Kerk in Roemenië te eer.

“Ons het gedink dat dit ʼn wonderlike manier sou wees vir sommige van die lede om van hulle bekering te getuig en hoe hulle die Kerk in Roemenië sien groei het,” het Meg gesê. “Ons het onmiddellik gedink dat die Stanica-familie betrokke moes wees. Ons het hulle genooi om deel te neem en hulle was baie opgewonde!”

Op die aand van die aktiwiteit, het die Stanicas nog nie opgedaag toe dit tyd was om te begin nie.

“Ons was bekommerd dat hulle nie sou opdaag nie,” het Meg onthou. “Maar hulle het net betyds by die deur ingekom. Die Stanicas het ʼn pragtige getuienis van die evangelie en die Kerk gedeel. Hulle het ook gesellig verkeer met ander lede wat hulle in ʼn baie lang tyd nie gesien het nie.”

Die lede van die tak het hulle arms oopgemaak en die Stanicas verwelkom. Die volgende Sondag was Meg aangenaam verras om Suster Stanica by die kerk te sien.

“Toe ek die tak ʼn paar maande later weer besoek het, het sy nog steeds gekom!” het Meg gesê. “Ek dink die geleentheid om haar getuienis te deel en om te voel dat sy betrokke en nodig was in die tak het haar werklik gehelp.”

4 Idees vir Bediening deur Kerk-aktiwiteite

  • Beplan aktiwiteite wat in behoeftes voorsien: Aktiwiteite is ʼn wonderlike manier om in baie verskillende behoeftes te voorsien. Hulle kan beplan word om in die spesifieke behoeftes van ʼn individu of groep te voorsien. Hulle moet ook in die behoeftes van diegene wat deelneem voorsien, of dit nou is om mekaar beter te leer ken, om meer oor die evangelie te leer of om die Gees aan te voel.

  • Nooi almal: Wanneer jy aktiwiteite beplan, wend ʼn spesiale poging aan om diegene uit te nooi wat baat sal vind deur deelname. Hou nuwe lede, minder-aktiewe lede, jeug, enkel volwassenes, mense met gestremdhede en mense van ander gelowe in gedagte. Stuur die uitnodiging uit met hul beste belange in gedagte, en verseker hulle dat jy hulle baie graag daar sal wil sien.

  • Moedig deelname aan: Diegene wat jy uitnooi sal meer uit die aktiwiteite kry indien hulle die geleentheid kry om deel te neem. Een manier om deelname aan te moedig is om individue te kry om hulle gawes, vaardighede en talente gedurende die aktiwiteite te gebruik.

  • Verwelkom almal: Indien jou vriende ʼn aktiwiteit bywoon, doen alles wat jy kan om hulle welkom te laat voel. Soortgelyk, indien jy iemand sien wat jy nie ken nie, wees vriendelik en verwelkom hulle ook!