2020
Deel die Saligmaker se Lig tydens Kersfees
Desember 2020


“Deel die Saligmaker se Lig tydens Kersfees,” Liahona, Desember 2020

Beeld
bediening

Foto van die geboortetoneel deur Niltza Beatriz Santillan Castillo; foto van die geskenk deur Getty Images

Beginsels van Bediening, Desember 2020

Deel die Saligmaker se Lig tydens Kersfees

Dink aan diegene wat jy dien. Hoe kan jy hulle help om hierdie Kersfees nader aan Christus te kom?

Terwyl ons die Saligmaker Jesus Christus die hele jaar onthou, is Kersfees die seisoen wanneer ons die grootste geskenk vier wat ooit gegee is: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het” (Johannes 3:16). Terwyl ons dien tydens Kersfees, kan ons ook geskenke gee wat ander help om nader aan die Saligmaker te kom. Dit is wonderlik om aan onsself te dink as ʼn spieëlbeeld van die geskenk wat deur Hemelse Vader gegee is.

Ek Koester Steeds die Geskenk

Susan Hardy, Kalifornië, VSA

Toe ek 11 jaar oud was, het my Sondagskoolonderwyser, Broer Deets, vir ons klas gesê dat as ons die Geloofsartikels memoriseer en aan hom verduidelik wat dit beteken, sou hy vir ons ons eie stel skrifture koop.

Broer en Suster Deets was ʼn pasgetroude jong paartjie. Ek was nie seker of Broer Deets dit kon bekostig om vir enigeen ʼn geskenk te koop nie. Maar ek het besluit dat as hy dink dat die Geloofsartikels belangrik genoeg is om te memoriseer, sal ek die uitdaging aanvaar.

Nadat ek met al 13 klaar was, het die tyd verloop en ek het van sy belofte vergeet.

Toe, op Kersdag, het ek ʼn pakkie ontvang met my naam op. Ek het dit oopgemaak en ʼn stel skrifture gevind net vir my, met ʼn kaartjie wat my aanmoedig om dit gereeld te lees. Dit was in 1972 en tot vandag toe het ek nog steeds daardie skrifture. Hulle is kosbaar vir my.

Dit was nie die koste van die geskenk nie, maar die goedhartigheid wat hy aan my getoon het en die opoffering wat hy bereid was om vir my te maak wat my met ʼn diep begeerte gelaat het om die woord van God te bestudeer. Ek probeer Broer Deets se voorbeeld van bediening volg deur betekenisvolle geskenke aan diegene rondom my te gee, in die hoop dat ek ander se lewens kan seën soos hy myne geseën het.

ʼn Uitnodiging om ʼn Rol te Speel

Richard M. Romney, Utah, VSA

Toe diegene wat ons Kersfunksie beplan my gevra het om ʼn sekere minder aktiewe lid te besoek en hom nooi om aan die program deel te neem, moet ek erken dat ek senuweeagtig was. Ek het Darren net een keer tevore ontmoet, toe hy aan ʼn vorige aktiwiteit van die wyk deelgeneem het. Hy het ʼn motorfiets kopband oor sy voorkop gedra. Sy lang wit hare was in ʼn poniestert vasgemaak, hy het ʼn vol wit baard gehad en sy arms was met tatoeëermerke bedek.

Nou, vergesel deur ʼn komiteelid, staan ek voor Darren se deur en wonder wat hy mag sê. Hy het ons gevra om binne te kom en ons het hom vertel waarom ons daar was. Hy het gesê: “O, ek sal dit graag wil doen!”

Hy het ʼn ongelooflike werk gedoen en gehelp om die aktiwiteit vir so baie betekenisvol te maak. ʼn Kort tydjie later is ek en my bedieningsbroer gevra om Darren gereeld te besoek. Hy het altyd bly gelyk om ons te sien en ons het aangename gesprekke gehad. Ek is dankbaar dat die inspirasie om hom te nooi om deel te neem aan die program van ʼn wyk se aktiwiteit, gelei het tot ʼn gekoesterde verhouding.

Bediening aan Ander tydens Kersfees

Hier is ʼn paar dinge wat jy kan doen om seker te maak dat diegene wat jy dien sal weet dat jy aan hulle dink, veral hierdie tyd van die jaar.

  1. Soms werk ʼn foonoproep of ʼn teksboodskap wonders. Om ʼn gesprek te begin met ʼn eenvoudige “Hallo, hoe gaan dit met jou?” kan ʼn verskil maak.

  2. Neem deel aan hul vieringe waar toepaslik. Kersfees kan ʼn goeie tyd wees om te leer van die oortuigings wat ons in gemeen het. Wanneer jy oortuigings deel en na ander luister, maak jy die deur oop vir groter begrip.

  3. Bid vir hulle by naam. Vra vir Hemelse Vader om jou te help dink aan maniere om hulle nader aan sy Seun te bring.

  4. Eenvoudige geskenke word dikwels die beste onthou. Geskenke hoef nie oordadig te wees om geliefd te wees nie. Die geskenk van tyd, die geskenk van om te luister, die deel van ʼn foto of ʼn herinnering—hierdie kan almal geskenke van die hart wees.

  5. Gee die geskenk van getuienis. Vra hulle om hul liefde vir die Saligmaker met jou te deel en bied aan om jou liefde vir Hom met hulle te deel.

  6. Nooi ander om ʼn Kersdiens by te woon. Sommige mense wil aanbid, maar weet nie waarheen om te gaan nie. Nooi hulle om saam met jou te kom aanbid.

  7. Vul hul huis met vrede. Laat hulle weet dat sendelinge ʼn spesiale Kersboodskap het wat hulle kan deel, een wat hoop en liefde in hul harte sal bring.

Bediening aan Almal as ʼn Gemeente

Elke gemeente se behoeftes is uniek. Sommige vind baat by die organisering van ʼn groter aktiwiteit. Ander gemeentes mag baat vind by iets klein en eenvoudig. Diegene wat betrokke is by die beplanning en organisering van aktiwiteite oorweeg biddend hoe om te voorsien in die behoeftes wat bestaan.

  • Lede van die drie penne in Parys, Frankryk, het gehelp om ʼn Verlig die Wêreld-musiekaand te ondersteun wat ʼn talentvertoning en modeskou ingesluit het. Hulle het items voorberei wat aan vlugtelinge en mense wat haweloos was, gegee is.

  • Die Charlotte-Noord Sentraal-pen het ʼn “Kersfees rondom die Wêreld” geleentheid vir die gemeenskap gehou, met ʼn sosiale geleentheid ter viering van Christus deur voedsel, internasionale Kersfees-tradisie uitstallings, musiek, diensprojekte en ʼn kinder-Kersspel.

  • Lede van die Vero Beach Florida-pen het deelgeneem aan ʼn gemeenskapsherdenking waarom ons Kersfees vier. Speelgoed is aan liefdadigheidsorganisasies in die gemeenskap geskenk. ʼn Primêre Organisasie kinderkoor het opgetree en baie kerke het stalletjies gehad wat inligting uitgestal het.

  • Die Jacksonville Florida-Suid-pen het ʼn Saligmaker van die Wêreld produksie aangebied vir die gemeenskap.