Skrifture
1 Nefi 15


Hoofstuk 15

Lehi se saad sal die evangelie ontvang van die nie-Jode in die laaste dae—Die versameling van Israel word vergelyk met ’n olyfboom waarvan die natuurlike takke weer geënt sal word—Nefi lê die visioen van die boom van die lewe uit en spreek oor die geregtigheid van God in die skeiding van die bose en die regverdiges. Ongeveer 600–592 v.C.

1 En dit het gebeur dat nadat ek, Nefi, in die Gees weggevoer is, en al hierdie dinge gesien het, ek teruggekeer het na my vader se tent.

2 En dit het gebeur dat ek my broers gesien het, en hulle was besig om met mekaar te twis oor die dinge waaroor my vader met hulle gespreek het.

3 Want hy het waarlik baie groot dinge met hulle gespreek, wat moeilik te verstane was, behalwe as ’n mens God sou vra; en omdat hulle verhard was in hulle harte, daarom het hulle hul nie gewend tot die Here soos hulle hoort nie.

4 En nou was ek, Nefi, bedroef oor die hardheid van hulle harte, en ook, vanweë die dinge wat ek gesien het, en geweet het dat hulle onvermydelik moes geskied vanweë die groot boosheid van die kinders van mense.

5 En dit het gebeur dat ek oorstelp was deur my verdrukkinge, want ek het gedink dat my verdrukkinge groter was bo alle ander, vanweë die vernietiging van my volk, want ek het hulle val gesien.

6 En dit het gebeur dat nadat ek krag ontvang het, het ek met my broers gespreek, begerig om te weet wat die oorsaak was van hulle twiste.

7 En hulle het gesê: Kyk, ons kan die woorde van ons vader nie verstaan wat hy aangaande die natuurlike takke van die olyfboom gespreek het, en ook aangaande die nie-Jode nie.

8 En ek het vir hulle gesê: Het julle die Here gevra?

9 En hulle het vir my gesê: Ons het nie; want die Here maak glad nie so iets aan ons bekend nie.

10 Kyk, het ek vir hulle gesê: Hoekom is dit dat julle nie die gebooie van die Here onderhou nie? Hoekom wil julle vergaan, vanweë die hardheid van julle harte?

11 Onthou julle nie die dinge wat die Here gesê het nie?—As julle nie julle harte verhard nie, en My in geloof vra, en glo dat julle sal ontvang, en ywerig my gebooie onderhou, sal hierdie dinge sekerlik bekend gemaak word aan julle.

12 Kyk, ek sê vir julle, dat die huis van Israel vergelyk is met ’n olyfboom, deur die Gees van die Here wat in ons vader was; en kyk, is ons nie afgebreek van die huis van Israel nie, en is ons nie ’n tak van die huis van Israel nie?

13 En nou, die ding wat ons vader bedoel het met die enting van die natuurlike takke deur middel van die volheid van die nie-Jode, is dat in die laaste dae, wanneer ons saad sal gekwyn het in ongeloof, ja, vir ’n tydperk van baie jare, en baie geslagte nadat die Messias liggaamlik geopenbaar sal wees aan die kinders van mense, dan sal die volheid van die evangelie van die Messias na die nie-Jode kom, en van die nie-Jode na die oorblyfsel van ons saad—

14 En in daardie dag sal die oorblyfsel van ons saad weet dat hulle van die huis van Israel is en dat hulle die verbondsvolk van die Here is; en dan sal hulle weet en die kennis bekom van hulle voorvaders, en ook die kennis van die evangelie van hulle Verlosser, wat deur Hom bedien is aan hulle vaders, daarom sal hulle die kennis verkry van hulle Verlosser en die juiste punte van sy leer, dat hulle mag weet hoe om na Hom te kom en gered te word.

15 En dan in daardie dag sal hulle hulle nie verbly en hul ewigdurende God loof, hulle rots en hulle heil nie? Ja, in daardie dag, sal hulle nie die krag en die voeding van die ware wingerdstok ontvang nie? Ja, sal hulle nie kom na die ware kudde van God nie?

16 Kyk, ek sê vir julle, Ja; hulle sal onthou word onder die huis van Israel; hulle sal geënt word omdat hulle ’n natuurlike tak is van die olyfboom, in die ware olyfboom.

17 En dit is wat ons vader bedoel; hy bedoel dat dit nie sal gebeur tot nadat hulle verstrooi is deur die nie-Jode nie, en hy bedoel dat dit sal geskied deur middel van die nie-Jode, sodat die Here sy mag kan toon aan die nie-Jode, om die juiste rede dat Hy verwerp sal word deur die Jode, of deur die huis van Israel.

18 Daarom het ons vader nie alleen gespreek van ons saad nie, maar ook van die hele huis van Israel, met verwysing na die verbond wat vervul sal word in die laaste dae; welke verbond die Here gesluit het met ons vader Abraham deur te sê: In jou saad sal al die stamme van die aarde geseën word.

19 En dit het gebeur dat ek, Nefi, baie aangaande hierdie dinge met hulle gespreek het; ja, ek het met hulle gespreek aangaande die herstelling van die Jode in die laaste dae.

20 En ek het die woorde van Jesaja aan hulle herhaal, wat gespreek het aangaande die herstelling van die Jode, of van die huis van Israel; en nadat hulle herstel is, sou hulle nie langer vermeng word nie, ook sou hulle nie weer verstrooi word nie. En dit het gebeur dat ek baie woorde met my broers gespreek het, sodat hulle gekalmeer is en hulle verootmoedig het voor die Here.

21 En dit het gebeur dat hulle weer met my gespreek en gesê het: Wat beteken hierdie ding wat ons vader gesien het in ’n droom? Wat beteken die boom wat hy gesien het?

22 En ek het vir hulle gesê: Dit was ’n voorstelling van die boom van die lewe.

23 En hulle het vir my gesê: Wat beteken die staaf van yster wat ons vader gesien het, wat na die boom gelei het?

24 En ek het vir hulle gesê dat dit die woord van God is; en wie ook al sou ag slaan op die woord van God, en daaraan vashou, hulle sou nooit vergaan nie; ook kon die versoekings en die vurige pyle van die teenstander hulle nie oorweldig tot blindheid, en hulle weglei tot vernietiging nie.

25 Daarom het ek, Nefi, hulle vermaan om ag te slaan op die woord van die Here; ja, ek het hulle vermaan met al die energie van my siel, en met al die vermoëns wat ek besit het dat hulle ag sou slaan op die woord van God en onthou om altyd sy gebooie te onderhou in alle dinge.

26 En hulle het vir my gesê: Wat beteken die rivier van water wat ons vader gesien het?

27 En ek het vir hulle gesê dat die water wat my vader gesien het, vieslikheid was; en dat sy verstand so in beslag geneem was met ander dinge, dat hy nie die vieslikheid van die water gesien het nie.

28 En ek het vir hulle gesê dat dit ’n vreeslike kloof was wat die bose van die boom van die lewe geskei het, en ook van die heiliges van God.

29 En ek het vir hulle gesê dat dit ’n voorstelling was van daardie verskriklike hel wat die engel vir my gesê het, berei was vir die bose.

30 En ek het vir hulle gesê dat ons vader ook gesien het dat die geregtigheid van God ook die bose van die regverdiges geskei het; en die helderheid daarvan was soos die helderheid van ’n vlammende vuur, wat opstyg tot God vir ewig en ewig, en geen einde het nie.

31 En hulle het vir my gesê: Beteken hierdie ding die pyniging van die liggaam gedurende die dae van toetsing, of beteken dit die uiteindelike toestand van die siel na die dood van die stoflike liggaam, of spreek dit van die dinge wat stoflik is?

32 En dit het gebeur dat ek vir hulle gesê het dat dit ’n voorstelling was van dinge beide stoflik en geestelik; want die dag sal kom dat hulle geoordeel moet word volgens hulle werke, ja, en wel die werke wat gedoen is deur die stoflike liggaam tydens hulle dae van toetsing.

33 Daarom, as hulle sou sterwe in hulle boosheid, moet hulle verwerp word, ook wat die geestelike dinge betref, wat betrekking het op regverdigheid; daarom, hulle moet gebring word om voor God te staan, om geoordeel te word volgens hulle werke; en as hulle werke vieslikheid was, moet hulle noodwendig ook vieslik wees; en as hulle vieslik is kan hulle nie in die koninkryk van God woon nie; indien wel, sal die koninkryk van God ook vieslik wees.

34 Maar kyk, ek sê vir julle, dat die koninkryk van God nie vieslik is nie, en daar kan geen onrein ding die koninkryk van God binnegaan nie; daarom moet daar noodwendig ’n plek van vieslikheid wees wat berei is vir dit wat vieslik is.

35 En daar is ’n plek berei, ja, en wel daardie verskriklike hel waarvan ek gespreek het, en die duiwel is die voorbereider daarvan; daarom die uiteindelike toestand van die siele van mense is om te woon in die koninkryk van God, of om uitgewerp te word vanweë daardie geregtigheid waarvan ek gespreek het.

36 Daarom, die bose word geskei van die regverdiges, en ook van daardie boom van die lewe, waarvan die vrugte uiters kosbaar en begeerliker is bo alle ander vrugte; ja, en dit is die grootste van al die gawes van God. En so het ek met my broers gespreek. Amen.