Skrifture
1 Nefi 9


Hoofstuk 9

Nefi maak twee stelle kronieke—Elkeen word genoem die plate van Nefi—Die groter plate bevat ’n wêreldse geskiedenis; die kleiner plate handel hoofsaaklik oor heilige dinge. Ongeveer 600–592 v.C.

1 En al hierdie dinge het my vader gesien, en gehoor, en gespreek terwyl hy in ’n tent in die vallei van Lemuel gewoon het, en ook baie meer dinge, wat nie geskrywe kan word op hierdie plate nie.

2 En nou, soos ek gespreek het aangaande dié plate, kyk, hulle is nie die plate waarop ek ’n volledige kroniek maak van die geskiedenis van my volk nie; want die plate waarop ek ’n volledige kroniek maak van my volk, het ek die naam van Nefi gegee; daarom, hulle word die plate van Nefi genoem, na my eie naam; en hierdie plate word ook die plate van Nefi genoem.

3 Desnieteenstaande, ek het ’n gebod van die Here ontvang dat ek hierdie plate moes maak vir die besondere doel dat daar ’n kroniek gegraveer sou word van die bediening van my volk.

4 Op die ander plate moes ’n kroniek gegraveer word van die heerskappy van die konings, en die oorloë en twiste van my volk; daarom handel hierdie plate grotendeels oor die bediening, en die ander plate handel grotendeels oor die heerskappy van die konings en die oorloë, en twiste van my volk.

5 Daarom, die Here het my gebied om hierdie plate te maak, vir ’n wyse doel in Hom, welke doel ek nie ken nie.

6 Maar die Here weet alle dinge van die begin af; daarom berei Hy ’n weg om al sy werke te volbring onder die kinders van mense, want kyk, Hy het alle mag tot die vervulling van al sy woorde. En so is dit. Amen.