Skrifture
2 Nefi 24


Hoofstuk 24

Israel sal versamel word en sal millenniale rus geniet—Lucifer is uitgewerp uit die hemel vanweë rebelsheid—Israel sal triomfeer oor Babilon (die wêreld)—Vergelyk Jesaja 14. Ongeveer 559–545 v.C.

1 Want die Here sal Hom ontferm oor Jakob, en sal Israel nog kies en hulle plaas in hul eie land; en die vreemdelinge sal by hulle aansluit, en hulle sal verenig word met die huis van Jakob.

2 En die mense sal hulle neem en bring na hulle plek; ja, van ver tot die eindes van die aarde; en hulle sal terugkeer na hul lande van belofte. En die huis van Israel sal hulle besit, en die land van die Here sal wees vir diensknegte en diensmaagde; en hulle sal hul gevange neem wat hulle gevangene gehou het; en hulle sal heers oor hulle verdrukkers.

3 En dit sal gebeur in daardie dag dat die Here jou rus sal gee, van jou smart, en van jou vrees, en van die harde slawerny waarin jy gedwing was om te dien.

4 En dit sal gebeur in dié dag, dat jy hierdie spreuk sal aanhef teen die koning van Babilon, en sê: Hoe het die verdrukker opgehou, die goue stad opgehou!

5 Die Here het die staf verbreek van die goddelose, die septers van die heersers.

6 Hy wat die volke geslaan het in toorn met ’n aanhoudende slag, hy wat geheers het oor die nasies in toorn, word vervolg en niemand verhinder nie.

7 Die hele aarde rus, en is stil; hulle breek uit in gesang.

8 Ja, die dennebome is verheug oor jou, en ook die seders van Libanon, en sê: Vandat jy daar neergelê is, het geen houtkapper teen ons opgekom nie.

9 Die hel van benede is in beroering oor jou, om jou te ontmoet by jou koms; dit wek die dooies op vir jou, en wel al die heersers van die aarde; dit het al die konings van die nasies van hulle trone laat opstaan.

10 Hulle almal sal spreek en vir jou sê: Het jy ook swak geword soos ons? Het jy soos ons geword?

11 Jou praal is neergebring na die graf, die geruis van jou viole word nie gehoor nie; die wurm is gesprei onder jou, en die wurms bedek jou.

12 Hoe het jy geval van die hemel, o Lucifer, seun van die daeraad! Is jy afgesny tot die grond, wat die nasies verswak het!

13 Want jy het gesê in jou hart: Ek sal opgaan na die hemel, ek sal my troon verhef bo die sterre van God; ek sal ook sit op die berg van samekoms, in die kante van die noorde;

14 Ek sal opgaan bo die hoogtes van die wolke; ek sal wees soos die Allerhoogste.

15 Tog sal jy afgebring word na die hel, na die kante van die kuil.

16 Hulle wat jou sien, sal jou noulettend aanskou, en sal jou in ag neem, en sal sê: Is dit die man wat die aarde laat bewe het, wat koninkryke geskud het?

17 En die wêreld soos ’n wildernis gemaak het, en die stede daarvan verwoes het, en nie die huis van sy gevangenes oopgesluit het nie?

18 Al die konings van die nasies, ja, almal van hulle, lê in eer, elkeen van hulle in sy eie huis.

19 Maar jy is uitgewerp, uit jou graf, soos ’n gruwelike tak, en die oorblyfsel van dié wat gedood is, deurboor met ’n swaard, wat neerdaal na die klippe van die kuil; soos ’n karkas vertrap onder voete.

20 Jy sal nie verenig word met hulle in die graf nie, want jy het jou land verwoes, en jou volk gedood; die saad van boosdoeners sal nooit geëer word nie.

21 Maak ’n slagting gereed vir sy kinders, vanweë die ongeregtighede van hulle vaders, dat hulle nie opstaan, nóg die land besit, nóg die aangesig van die wêreld met stede vul.

22 Want Ek sal opstaan teen hulle, spreek die Here van die Leërskare, en die naam van Babilon afsny, en die oorblyfsel, en seun, en neef, sê die Here.

23 Ek sal dit ook ’n besitting maak vir die roerdomp, en poele van water; en Ek sal dit wegvee met die besem van vernietiging, spreek die Here van die Leërskare.

24 Die Here van die Leërskare het gesweer, en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so sal dit gebeur; en soos Ek beplan het, so sal dit staan—

25 Dat Ek die Assiriër in my land sal bring, en op my berge hom vertrap onder my voet; dan sal sy juk van hulle weggaan, en sy las weggaan vanaf hulle skouers.

26 Dit is die bedoeling wat bedoel is oor die hele aarde; en dit is die hand wat uitgestrek is oor alle nasies.

27 Want die Here van die Leërskare het beplan, en wie sal verydel? En sy hand is uitgestrek, en wie sal dit terugdraai?

28 In die jaar wat koning Agas oorlede is, is hierdie uitspraak gemaak.

29 Verbly jou nie, ganse Palestina, want die roede van hom wat jou geslaan het, is gebreek; want uit die slang se wortel sal ’n giftige slang voortkom, en sy vrug sal ’n vurige vlieënde slang wees.

30 En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal neerlê in veiligheid; en Ek sal jou wortel doodmaak deur hongersnood, en hy sal jou oorblyfsel dood.

31 Huil, o poort; skreeu, o stad; jy, ganse Palestina, is versmelt want daar sal uit die noorde ’n rook kom, en niemand sal alleen wees in sy bestemde tye nie.

32 Wat sal dan die boodskappers van die nasies antwoord? Dat die Here Sion gegrondves het, en dat die armes van sy volk vertroue daarin sal hê.