Skrifture
2 Nefi 4


Hoofstuk 4

Lehi gee sy nageslag raad en seën hulle—Hy sterf en word begrawe—Nefi roem in die goedheid van God—Nefi plaas sy vertroue in die Here vir ewig. Ongeveer 588–570 v.C.

1 En nou, ek, Nefi, spreek aangaande die profesieë wat my vader gespreek het aangaande Josef, wat weggevoer is na Egipte.

2 Want kyk, hy het waarlik geprofeteer aangaande al sy saad. En die profesieë wat hy geskrywe het, is daar nie baie groter nie. En hy het geprofeteer aangaande ons, en ons toekomstige geslagte; en hulle is geskrywe op die plate van brons.

3 Daarom, nadat my vader ’n einde gemaak het om te spreek aangaande die profesieë van Josef, het hy die kinders van Laman geroep, sy seuns, en sy dogters, en vir hulle gesê: Kyk, my seuns, en my dogters, wat die seuns en die dogters is van my eersgeborene, ek wil hê dat julle die oor neig na my woorde.

4 Want die Here God het gesê dat: In soverre julle my gebooie sal onderhou, sal julle voorspoedig wees in die land; en in soverre julle nie my gebooie sal onderhou nie, sal julle afgesny word van my teenwoordigheid.

5 Maar kyk, my seuns en my dogters, ek kan nie neerdaal in my graf tensy ek ’n seëning laat op julle nie; want kyk, ek weet dat as julle onderrig word in die weg wat julle moet gaan, sal julle nie daarvan afwyk nie.

6 Daarom, as julle vervloek is, kyk, ek laat my seëning op julle, dat die vloek van julle weggeneem mag word en verantwoord word op die hoofde van julle ouers.

7 Daarom, as gevolg van my seëning sal die Here God nie toelaat dat julle sal vergaan nie; daarom, Hy sal barmhartig wees teenoor julle en julle saad vir ewig.

8 En dit het gebeur dat nadat my vader ’n einde gemaak het om met die seuns en dogters van Laman te spreek, het hy dit so bewerkstellig dat die seuns en dogters van Lemuel voor hom gebring word.

9 En hy het met hulle gespreek, en gesê: Kyk, my seuns en my dogters, wat die seuns en dogters van my tweede seun is, kyk, ek laat aan julle dieselfde seëning wat ek aan die seuns en dogters van Laman gelaat het; daarom, julle sal nie heeltemal vernietig word nie; maar aan die einde sal julle saad geseën word.

10 En dit het gebeur dat nadat my vader ’n einde gemaak het om met hulle te spreek, kyk, het hy met die seuns van Ismael gespreek, ja, en wel met sy hele huisgesin.

11 En nadat hy ’n einde gemaak het om met hulle te spreek, het hy met Sam gespreek, en gesê: Geseënd is jy, en jou saad; want jy sal die land beërwe soos jou broer Nefi. En jou saad sal gereken word met sy saad; en jy sal soos jou broer wees, en jou saad soos sy saad; en jy sal geseënd wees in al jou dae.

12 En dit het gebeur nadat my vader, Lehi, met sy hele huisgesin gespreek het, volgens die gevoelens van sy hart en die Gees van die Here wat in hom was, het hy oud geword. En dit het gebeur dat hy gesterwe het, en begrawe is.

13 En dit het gebeur dat nie baie dae na sy dood nie, Laman en Lemuel en die seuns van Ismael vir my kwaad was vanweë die vermaninge van die Here.

14 Want ek, Nefi, was gedwing om met hulle te spreek, volgens sy woord; want ek het baie dinge met hulle gespreek, asook my vader, voor sy dood; baie van hierdie woorde is geskrywe op my ander plate; want ’n meer geskiedkundige deel is geskryf op my ander plate.

15 En op hierdie skrywe ek die dinge van my siel, en baie van die skrifture wat gegraveer is op die plate van brons. Want my siel verlustig hom in die skrifture, en my hart bepeins hulle, en skryf hulle neer vir die lering en die voordeel van my kinders.

16 Kyk, my siel verlustig hom in die dinge van die Here; en my hart bepeins gedurig die dinge wat ek gesien en gehoor het.

17 Nogtans, nieteenstaande die groot goedheid van die Here, deur my sy groot en wonderbaarlike werke te toon, roep my hart uit: O, ellendige mens wat ek is! Ja, my hart is bedroef vanweë my vlees; my siel treur vanweë my ongeregtighede.

18 Ek is omring, vanweë die versoekinge en die sondes wat my so maklik oorval.

19 En wanneer ek my wil verheug, kreun my hart vanweë my sondes; nogtans, ek weet in wie ek vertrou het.

20 My God was my steun; Hy het my gelei deur my verdrukkinge in die wildernis; en Hy het my bewaar op die waters van die groot diepte.

21 Hy het my gevul met sy liefde, selfs tot die vertering van my vlees.

22 Hy het my vyande beskaam, en hulle laat sidder voor my.

23 Kyk, Hy het my geroep gehoor bedags en Hy het my snags kennis gegee deur visioene.

24 En bedags het ek vrymoedig geword in magtige gebed voor Hom; ja, my stem het ek omhoog gestuur; en engele het neergedaal en my gedien.

25 En op die vleuels van sy Gees is my liggaam weggevoer op uitermate hoë berge. En my oë het groot dinge gesien, ja, selfs te groot vir die mens; daarom is ek beveel om hulle nie te skryf nie.

26 O, dan, as ek sulke groot dinge gesien het, as die Here in sy neerdalendheid teenoor die kinders van mense, die mens besoek het met soveel barmhartigheid, hoekom sou my hart ween, en my siel talm in die dal van droefheid, en my vlees wegteer, en my krag verflou, vanweë my verdrukkinge?

27 En hoekom sou ek toegee aan die sonde, vanweë my vlees? Ja, hoekom, sou ek swig voor versoekinge, sodat die bose een plek kry in my hart om my vrede te vernietig en my siel te bedroef? Hoekom is ek kwaad vanweë my vyand?

28 Ontwaak, my siel! Wees nie langer bedruk in die sonde nie. Verbly jou, o my hart, en moenie langer plek gee vir die vyand van my siel nie.

29 Word nie weer kwaad vanweë my vyande nie. Moenie my krag verflou vanweë my verdrukkinge nie.

30 Verbly jou, o my hart, en roep tot die Here, en sê: O Here, ek sal U loof vir ewig; ja, my siel sal hom verbly in U, my God, en die rots van my heil.

31 O Here, sal U my siel verlos? Sal U my bevry uit die hande van my vyande? Sal U my maak dat ek mag sidder ten aanskoue van die sonde?

32 Mag die poorte van die hel gedurig gesluit wees voor my, omdat my hart gebroke is en my gees verslae is! O Here, sal U nie die poorte van u regverdigheid voor my sluit nie, dat ek mag wandel in die weg van die lae vallei, dat ek nougeset mag bly op die gelyke pad!

33 O Here, sal U my omvou in die mantel van u regverdigheid! O Here, sal U vir my ’n weg open om te ontvlug voor my vyande! Sal U my pad reguit maak voor my! Sal U nie ’n struikelblok plaas in my weg nie—maar dat U my weg sal oopmaak voor my, en nie my weg versper nie, maar die weë van my vyand.

34 O Here, ek het op U vertrou, en ek sal op U vertrou vir ewig. Ek sal nie my vertroue stel in die arm van vlees nie; want ek weet, vervloek is hy wat sy vertroue stel in die arm van vlees. Ja, vervloek is hy wat sy vertroue stel in die mens of vlees sy arm maak.

35 Ja, ek weet dat die Here mildelik sal gee aan hom wat vra. Ja, my God sal vir my gee, as ek nie verkeerd vra nie; daarom sal ek my stem verhef tot U; ja, ek sal roep tot U, my God, die rots van my regverdigheid. Kyk, my stem sal vir ewig opgaan na U, my rots en my ewigdurende God. Amen.