Skrifture
2 Nefi 7


Hoofstuk 7

Jakob gaan voort om uit Jesaja te lees: Jesaja spreek namens die Messias—Die Messias sal die tong van die geleerde hê—Hy sal sy rug gee vir die slaners—Hy sal nie beskaam word nie—Vergelyk Jesaja 50. Ongeveer 559–545 v.C.

1 Ja, want so sê die Here: Het Ek jou verstoot, of het Ek jou verwerp vir ewig? Want so sê die Here: Waar is die skeibrief van julle moeder se egskeiding? Aan wie het Ek julle gegee, of aan watter van my skuldeisers het Ek julle verkoop? Ja, aan wie het Ek julle verkoop? Kyk, weens julle ongeregtighede het julle julself verkoop, en weens julle oortredinge is julle moeder verstoot.

2 Daarom, toe Ek gekom het, was daar geen mens nie; toe Ek geroep het, ja, daar was niemand om te antwoord nie. O Huis van Israel, is my hand enigsins te kort om te verlos, of het Ek geen krag om te red nie? Kyk, deur my bestraffing droog Ek die see op, Ek maak hulle riviere ’n woestyn en hulle visse stink omdat die waters opgedroog is, en hulle sterf as gevolg van dors.

3 Ek beklee die hemel met swartheid, en Ek maak ’n roukleed hul bedekking.

4 Die Here God het my die tong gegee van die geleerde, dat Ek sou weet hoe om op die regte tyd ’n woord te spreek met jou, o huis van Israel. Wanneer julle moeg is, wek Hy oggend na oggend. Hy wek my oor om te hoor soos die geleerde.

5 Die Here God het my oor geopen, en Ek was nie rebels nie; ook het Ek nie teruggedraai nie.

6 Ek het my rug gegee aan die slaner, en my wange vir dié wat die hare uitgepluk het. Ek het nie my aangesig verberg vir smaad en bespuwing nie.

7 Want die Here God sal my help, daarom sal Ek nie beskaam wees nie. Daarom het Ek my aangesig gemaak soos ’n vuurklip en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan nie.

8 En die Here is naby, en Hy regverdig my. Wie sal met My stry? Laat ons saam staan. Wie is my teenstander? Laat hom naderkom na My toe, en Ek sal hom slaan met die krag van my mond.

9 Want die Here God sal My help. En al diegene wat My sal veroordeel, kyk, hulle almal sal wegslyt soos ’n kleed, en die mot sal hulle opeet.

10 Wie is onder julle wat die Here vrees, wat gehoorsaam is aan die stem van sy dienskneg, wat wandel in duisternis en geen lig het nie?

11 Kyk al julle wat ’n vuur aansteek, wat julle omgord met vonke, wandel in die lig van julle vuur en in die vonke wat julle aangesteek het. Dit sal julle hê uit my hand—julle sal neerlê in smart.