Skrifture
3 Nefi 25


Hoofstuk 25

Tydens die Tweede Koms sal die hoogmoediges en bose verbrand word soos stoppels—Elía sal terugkeer voor daardie groot en vreeslike dag—Vergelyk Maleági 4. Ongeveer 34 n.C.

1 Want kyk, die dag kom wat sal brand soos ’n oond; en al die trotsaards, ja, en almal wat booslik handel, sal stoppels wees; en die dag wat kom sal hulle verbrand, sê die Here van die Leërskare, dat dit hulle nóg wortel nóg tak sal oorlaat.

2 Maar vir julle wat my Naam eerbiedig, sal die Seun van Regverdigheid opstaan met genesing in sy vleuels; en julle sal uitgaan en opgroei soos kalwers in die stal.

3 En julle sal die bose vertrap; want hulle sal as wees onder die sole van julle voete op die dag wat Ek dit sal doen, sê die Here van die Leërskare.

4 Onthou julle die wet van Moses, my dienskneg, wat Ek aan hom gebied het op Horeb vir die hele Israel, saam met die insettinge en verordeninge.

5 Kyk, Ek sal vir julle Elía die profeet stuur voor die koms van die groot en vreeslike dag van die Here;

6 En hy sal die hart van die vaders draai tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie sal kom en die aarde tref met ’n vloek nie.