Skrifture
Alma 28


Hoofstuk 28

Die Lamaniete word verslaan in ’n geweldige stryd—Tienduisende word gedood—Die bose word toegewys tot ’n toestand van eindelose wee; die regverdiges verwerf ’n nimmereindigende geluk. Ongeveer 77–76 v.C.

1 En nou het dit gebeur dat nadat die volk van Ammon gevestig is in die land Jerson, en ’n kerk ook gevestig is in die land Jerson, en die leërs van die Nefiete opgestel is rondom die land Jerson, ja, op al die grense rondom die land Zarahemla; kyk, die leërs van die Lamaniete het hulle broers die wildernis in gevolg.

2 En dus was daar ’n geweldige stryd; ja, en wel so een soos nooit tevore bekend was onder al die mense in die land vanaf die tyd toe Lehi Jerusalem verlaat het nie; ja, en tienduisende van die Lamaniete is gedood en ver en wyd verstrooi.

3 Ja, en daar was ook ’n geweldige slagting onder die volk van Nefi; nogtans, die Lamaniete is verdryf en verstrooi, en die volk van Nefi het weer teruggekeer na hulle land.

4 En nou, dit was ’n tyd dat daar groot rouklag en geween gehoor is dwarsdeur die hele land, onder al die volk van Nefi:

5 Ja, die geween van die weduwees wat rou oor hulle mans, en ook van vaders wat rou oor hulle seuns, en die dogter oor die broer, ja, die broer oor die vader; en dus is die rouklag gehoor onder hulle almal, vir hulle verwante wat gedood is.

6 En nou waarlik, dit was ’n droewige dag; ja, ’n tyd van erns, en ’n tyd van veel vas en bid.

7 En so eindig die vyftiende jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi.

8 En dit is die kroniek van Ammon en sy broers, hulle reise in die land Nefi, hulle lydings in die land, hulle smarte, en hulle verdrukkinge, en hulle onbegryplike vreugde, en die ontvangs en veiligheid van die broers in die land Jerson. En nou mag die Here, die Verlosser van alle mense, hulle siele seën vir ewig.

9 En dit is die kroniek van die oorloë en twiste onder die Nefiete, en ook die oorloë tussen die Nefiete en die Lamaniete; en die vyftiende jaar van die heerskappy van die regters is beëindig.

10 En vanaf die eerste jaar tot die vyftiende het die vernietiging teweeggebring van baie duisende lewens; ja, dit het ’n verskriklike toneel van bloedvergieting teweeggebring.

11 En die liggame van baie duisende is weggelê in die aarde, terwyl die liggame van baie duisende ontbind in hope op die aangesig van die aarde; ja, en baie duisende rou oor die verlies van hulle verwante, want hulle het rede om te vrees, volgens die beloftes van die Here, dat hulle toegewys is tot ’n toestand van eindelose wee.

12 Terwyl baie duisende ander waarlik rouklaag oor die verlies van hulle verwante, tog verheug hulle hul, en juig in die hoop, en weet wel, volgens die beloftes van die Here, dat hulle opgewek word om aan die regterhand van God te woon, in ’n toestand van nimmereindigende geluk.

13 En so sien ons hoe groot die ongelykheid van die mens is vanweë sonde en oortreding, en die mag van die duiwel, wat kom deur die sluwe planne wat hy bedink het om die harte van mense te verstrik.

14 En so sien ons die groot oproep om ywer by mense om te arbei in die wingerde van die Here; en so sien ons die groot rede van droefheid, en ook van vreugde—droefheid vanweë dood en verwoesting onder mense, en vreugde vanweë die lig van Christus tot die lewe.