Skrifture
Jakob 5


Hoofstuk 5

Jakob haal Zenos aan met betrekking tot die gelykenis van die mak en wilde olyfbome—Hulle stel Israel en die nie-Jode voor—Die verspreiding en versameling van Israel word versinnebeeld—Verwysings word gemaak na die Nefiete en die Lamaniete en die hele huis van Israel—Die nie-Jode sal geënt word by Israel—Uiteindelik sal die wingerd verbrand word. Ongeveer 544–421 v.C.

1 Kyk, my broers, onthou julle nie dat julle die woorde gelees het van die profeet Zenos, wat hy met die huis van Israel gespreek, en gesê het:

2 Slaan ag, o julle huis van Israel, en hoor die woorde van my, ’n profeet van die Here.

3 Want kyk, so sê die Here, Ek sal julle vergelyk, o huis van Israel, met ’n mak olyfboom, wat ’n man geneem en versorg het in sy wingerd; en dit het gegroei, en oud geword, en begin om te vergaan.

4 En dit het so gebeur dat die meester van die wingerd uitgegaan het, en hy het gesien dat sy olyfboom begin om te vergaan; en hy het gesê: Ek sal dit snoei, en daaromheen spit, en dit versorg, dat dit miskien jong en sagte takke sal uitspruit, en dit nie vergaan nie.

5 En dit het so gebeur dat hy dit gesnoei het, en daaromheen gespit het, en dit versorg het volgens sy woord.

6 En dit het so gebeur dat na baie dae dit ’n bietjie begin uitspruit het, jong en sagte takke; maar kyk, die kroon daarvan het begin vergaan.

7 En dit het gebeur dat die meester van die wingerd dit gesien het, en hy het aan sy dienskneg gesê: Dit bedroef my dat ek hierdie boom moet verloor; daarom, gaan en pluk die takke van ’n wilde olyfboom, en bring hulle hier na my toe; en ons sal daardie hooftakke afpluk wat begin om weg te dor, en ons sal hulle in die vuur werp sodat hulle verbrand mag word.

8 En kyk, sê die Heer van die wingerd, ek neem baie van hierdie jong en sagte takke weg, en ek sal hulle ent waar ek ook al wil; en dit maak nie saak dat as dit so sal wees dat die wortel van hierdie boom sal vergaan nie, ek die vrugte daarvan vir myself mag behou; daarom, ek sal hierdie jong en sagte takke neem, en ek sal hulle inent waar ek ook al wil.

9 Neem jy die takke van die wilde olyfboom, en ent hulle, in plaas daarvan; en dié wat ek afgepluk het, sal ek in die vuur werp en hulle verbrand, dat hulle nie die grond van my wingerd bemors nie.

10 En dit het gebeur dat die dienskneg van die Heer van die wingerd gehandel het volgens die woord van die Heer van die wingerd, en die takke van die wilde olyfboom geënt het.

11 En die Heer van die wingerd het opdrag gegee dat daaromheen gespit moet word, en gesnoei, en versorg word, en hy sê vir sy dienskneg: Dit bedroef my dat ek hierdie boom moet verloor; daarom, dat ek miskien die wortels daarvan mag behou, dat hulle nie vergaan nie, dat ek hulle vir myself mag behou, het ek hierdie ding gedoen.

12 Daarom, gaan voort; pas die boom op en versorg dit, volgens my woorde.

13 En dié sal ek plaas in die verste gedeelte van my wingerd, waar ek ook al wil, dit gaan jou nie aan nie; en ek doen dit dat ek vir myself die natuurlike takke van die boom mag behou; en ook, dat ek vrugte daarvan vir myself mag bêre vir die volgende seisoen; want dit bedroef my dat ek hierdie boom en sy vrug sal verloor.

14 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd voortgegaan het, en die natuurlike takke verberg het van die mak olyfboom in die verste dele van die wingerd, sommige in een plek en sommige in ’n ander, volgens sy wil en behae.

15 En dit het gebeur dat ’n lang tyd verbygegaan het, en die Heer van die wingerd het aan sy dienskneg gesê: Kom, laat ons afgaan in die wingerd, dat ons mag arbei in die wingerd.

16 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd, en ook die dienskneg, afgegaan het in die wingerd om te arbei. En dit het gebeur dat die dienskneg aan sy meester gesê het: Sien, kyk hier, aanskou die boom.

17 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd gekyk het en die boom aanskou het waarin die wilde olyftakke geënt was; en dit het uitgeloop en begin vrugte dra. En hy het gesien dat dit goed was; en die vrugte daarvan was soos die natuurlike vrugte.

18 En hy het aan die dienskneg gesê: Kyk, die takke van die wilde boom het vat gekry op die sap van die wortel daarvan, sodat die wortel daarvan baie krag voortgebring het; en vanweë die groot krag van die wortel daarvan het die wilde takke mak vrugte voortgebring. Nou, as ons nie hierdie takke geënt het nie, sou die boom daarvan vergaan het. En nou, kyk, ek sal baie vrugte wegbêre, wat die boom daarvan voortgebring het; en die vrugte daarvan sal ek vir myself bêre vir die volgende seisoen.

19 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd aan die dienskneg gesê het: Kom, laat ons gaan na die verste deel van die wingerd, en sien of die natuurlike takke van die boom nie ook baie vrugte voortgebring het nie, sodat ek van die vrugte daarvan mag wegbêre vir die volgende seisoen, vir myself.

20 En dit het gebeur dat hulle voortgegaan het tot waar die meester die natuurlike takke van die boom verberg het, en hy het aan die dienskneg gesê: Aanskou hierdie; en hy het die eerste aanskou dat dit baie vrugte voortgebring het; en hy het ook aanskou dat dit goed was. En hy het aan die dienskneg gesê: Neem van die vrugte daarvan, en bêre dit vir die volgende seisoen, sodat ek dit kan behou vir myself; want kyk, het hy gesê, hierdie lang tyd het ek dit versorg, en dit het baie vrugte voortgebring.

21 En dit het gebeur dat die dienskneg aan sy meester gesê het: Hoe kom u hierheen om dié boom te plant, of hierdie tak van die boom? Want kyk, dit was die swakste stuk grond van die hele land van u wingerd.

22 En die Heer van die wingerd het aan hom gesê: Moenie my raad gee nie; ek het geweet dat dit ’n swak stuk grond was; daarom, ek het aan jou gesê, ek het dit hierdie lang tyd versorg, en jy sien dat dit baie vrugte voortgebring het.

23 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd aan sy dienskneg gesê het: Kyk hier; sien, ek het ’n ander tak van die boom ook geplant; en jy weet dat hierdie stuk grond swakker was as die eerste. Maar, aanskou die boom. Ek het dit hierdie lang tyd versorg, en dit het baie vrugte opgelewer; daarom, versamel dit, en bêre dit vir die volgende seisoen, dat ek dit kan behou vir myself.

24 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd weer aan sy dienskneg gesê het: Kyk hier, en sien ’n ander tak ook, wat ek geplant het; kyk, dat ek dit ook versorg het, en dit het vrugte voortgebring.

25 En hy het aan die dienskneg gesê: Kyk hier, en aanskou die laaste. Kyk, hierdie het ek geplant in ’n goeie stuk grond; en ek het dit hierdie lang tyd versorg, en slegs ’n deel van die boom het mak vrugte voortgebring, en die ander deel van die boom het wilde vrugte voortgebring; kyk, ek het hierdie boom versorg soos die ander.

26 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd aan die dienskneg gesê het: Pluk die takke af wat nie goeie vrugte voortgebring het nie, en werp hulle in die vuur.

27 Maar kyk, die dienskneg het aan hom gesê: Laat ons dit snoei, en daaromheen spit, en dit ’n rukkie langer versorg, dat dit miskien goeie vrugte mag voortbring vir u, dat u dit kan bêre vir die volgende seisoen.

28 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd en die dienskneg van die Heer van die wingerd al die vrugte van die wingerd versorg het.

29 En dit het gebeur dat ’n lang tyd verbygegaan het, en die Heer van die wingerd het aan sy dienskneg gesê: Kom, laat ons afgaan in die wingerd, dat ons weer mag arbei in die wingerd. Want kyk, die tyd kom nader, en die einde kom gou; daarom, ek moet vrugte vir die volgende seisoen bêre, vir myself.

30 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd en die dienskneg afgegaan het in die wingerd; en hulle het by die boom gekom waarvan die natuurlike takke afgebreek was, en die wilde takke geënt was; en kyk, allerhande soorte vrugte het die boom oorlaai.

31 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd van die vrugte geproe het, elke soort volgens sy hoeveelheid. En die Heer van die wingerd het gesê: Kyk, hierdie lang tyd het ons dié boom versorg, en ek het vir myself baie vrugte gebêre vir die volgende seisoen.

32 Maar kyk, hierdie keer het dit baie vrugte voortgebring, en daar is niks daarvan wat goed is nie. En kyk, daar is allerhande soorte slegte vrugte; en dit baat my niks, desnieteenstaande al ons arbeid; en nou bedroef dit my dat ek hierdie boom moet verloor.

33 En die Heer van die wingerd het aan die dienskneg gesê: Wat sal ons doen aan die boom, dat ek weer goeie vrugte daarvan vir myself mag bêre?

34 En die dienskneg het aan sy meester gesê: Kyk, omdat u die takke geënt het van die wilde olyfboom, het hulle die wortels gevoed, sodat hulle lewendig is en hulle het nie vergaan nie; daarom, u sien dat hulle nog goed is.

35 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd aan sy dienskneg gesê het: Die boom baat my niks, en die wortels daarvan baat my niks solank as dit slegte vrugte voortbring nie.

36 Nogtans, ek weet dat die wortels goed is, en vir my eie doel het ek hulle behou; en vanweë hulle groot krag het hulle tot nou goeie vrugte van die wilde takke voortgebring.

37 Maar kyk, die wilde takke het gegroei en het die wortels daarvan oorgroei; en omdat die wilde takke die wortels daarvan oorgroei het, het dit baie slegte vrugte voortgebring; en omdat dit soveel slegte vrugte voortgebring het, sien jy dat dit begin vergaan; en dit sal gou ryp word, dat dit in die vuur gewerp mag word, tensy ons iets daaraan doen om dit te behou.

38 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd aan sy dienskneg gesê het: Laat ons afgaan na die verste gedeeltes van die wingerd, en sien of die natuurlike takke ook slegte vrugte voortgebring het.

39 En dit het gebeur dat hulle afgegaan het na die verste gedeeltes van die wingerd. En dit het gebeur dat hulle gesien het dat die vrugte van die natuurlike takke ook bedorwe geword het; ja, die eerste en die tweede en ook die laaste; en hulle het almal bedorwe geword.

40 En die wilde vrugte van die laaste het dié deel van die boom oorgroei wat goeie vrugte voortgebring het, totdat die tak verdor het en dood is.

41 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd geween het, en aan die dienskneg gesê het: Wat kon ek meer gedoen het vir my wingerd?

42 Kyk, ek het geweet dat al die vrugte van die wingerd, behalwe hierdie, bedorwe geraak het. En nou hierdie, wat eens goeie vrugte voortgebring het, het ook bedorwe geraak; en nou is al die bome van my wingerd vir niks goed nie behalwe om afgekap en in die vuur gewerp te word.

43 En kyk hierdie laaste, wie se tak verdor het, het ek geplant in ’n goeie stuk grond; ja, en wel dit wat uitverkore was vir my bo alle ander dele van die land van my wingerd.

44 En jy het gesien dat ek ook dít afgekap het wat hierdie stuk grond bemors het, dat ek dié boom mag plant in die plek daarvan.

45 En jy het gesien dat ’n deel daarvan goeie vrugte voortgebring het, en ’n deel daarvan wilde vrugte voortgebring het; en omdat ek nie die takke daarvan afgebreek en in die vuur gewerp het nie, kyk, hulle het die goeie tak oorgroei sodat dit verdor het.

46 En nou, kyk, desnieteenstaande al die sorg wat ons bestee het aan my wingerd, het die bome daarvan bedorwe geword, sodat hulle geen goeie vrugte voortbring nie; en het ek gehoop om hierdie te behou, om die vrug daarvan vir die volgende seisoen vir myself te bêre. Maar kyk, hulle het geword soos die wilde olyfboom, en hulle is vir niks goed nie behalwe om afgekap en in die vuur gewerp te word; en dit bedroef my dat ek hulle moet verloor.

47 Maar wat kon ek meer gedoen het in my wingerd? Het ek my hand verslap, dat ek dit nie versorg het nie? Nee, ek het dit versorg, en ek het daaromheen gespit, en ek het dit gesnoei, en ek het dit bemes; en ek het my hand uitgestrek byna die hele dag lank, en die einde kom nader. En dit bedroef my dat ek al die bome van my wingerd moet afkap, en hulle in die vuur werp dat hulle verbrand moet word. Wie is dit wat my wingerd bederf het?

48 En dit het gebeur dat die dienskneg aan sy meester gesê het: Is dit nie die hoogheid van die wingerd nie—het die takke daarvan nie die wortels oorgroei wat goed is nie? En omdat die takke die wortels daarvan oorgroei het, kyk, hulle het vinniger gegroei as die krag van die wortels, en krag tot hulleself geneem. Kyk, ek sê, is dit nie die rede dat die bome van u wingerd bedorwe geraak het nie?

49 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd aan die dienskneg gesê het: Laat ons heengaan en die bome van die wingerd afkap en hulle in die vuur werp, dat hulle nie die grond van my wingerd sal bemors nie, want ek het alles gedoen. Wat kon ek meer gedoen het vir my wingerd?

50 Maar kyk, die dienskneg het aan die Heer van die wingerd gesê: Spaar dit ’n bietjie langer.

51 En die Heer het gesê: Ja, ek sal dit ’n bietjie langer spaar, want dit bedroef my dat ek die bome van my wingerd moet verloor.

52 Daarom, laat ons van die takke neem van hierdie wat ek geplant het in die verste gedeeltes van my wingerd, en laat ons hulle ent op die boom van waar hulle gekom het; en laat ons van die boom pluk daardie takke waarvan die vrugte die bitterste is, en die natuurlike takke van die boom ent in die plek daarvan.

53 En dit sal ek doen sodat die boom nie mag vergaan nie, sodat ek miskien die wortels daarvan vir myself mag behou vir my eie doeleindes.

54 En kyk, die wortels van die natuurlike takke van die boom wat ek geplant het waar ek wou, is nog lewendig; daarom, sodat ek hulle ook mag behou vir my eie doeleindes, sal ek van die takke van hierdie boom neem, en ek sal hulle daarop ent. Ja, ek sal op hulle die takke van hulle moederboom inent, sodat ek ook die wortels vir myself mag behou, dat wanneer hulle sterk genoeg is, hulle miskien goeie vrugte vir my mag voortbring, en ek nog behae mag hê in die vrugte van my wingerd.

55 En dit het gebeur dat hulle van die natuurlike boom wat wild geword het geneem het, en geënt het in die natuurlike bome, wat ook wild geword het.

56 En hulle het ook van die natuurlike bome geneem wat wild geword het, en geënt op hulle moederboom.

57 En die Heer van die wingerd het aan die dienskneg gesê: Pluk nie die wilde takke van die bome nie, behalwe daardie wat die bitterste is; en in hulle sal jy ent volgens dit wat ek gesê het.

58 En ons sal weer die bome van die wingerd versorg, en ons sal die takke daarvan snoei; en ons sal van die bome daardie takke pluk wat ryp geword het, wat moet vergaan, en hulle in die vuur werp.

59 En dit doen ek dat, miskien, die wortels daarvan krag mag put vanweë hulle goedheid; en vanweë die verwisseling van die takke, sodat die goeie die bose mag oorwin.

60 En omdat ek die natuurlike takke en die wortels daarvan behou het, en dat ek weer die natuurlike takke in hulle moederboom geënt het, en die wortels van die moederboom behou het, dat, miskien, die bome van my wingerd weer goeie vrugte mag voortbring; en dat ek weer vreugde mag hê in die vrugte van my wingerd, en, miskien, dat ek my uitermate mag verheug dat ek die wortels en takke van die eerste vrugte behou het—

61 Daarom, gaan heen, en roep diensknegte, dat ons ywerig mag arbei met ons mag in die wingerd, dat ons die weg mag voorberei, sodat ek weer die natuurlike vrugte mag voortbring, welke natuurlike vrugte goed is en die waardevolste bo alle ander vrugte.

62 Daarom, laat ons heengaan en arbei met ons mag hierdie laaste keer, want kyk, die einde kom nader, en dit is vir die laaste keer dat ek my wingerd sal snoei.

63 Ent die takke; begin by die laastes dat hulle eerste mag wees, en dat die eerstes laaste mag wees, en spit om die bome, beide oud en jonk, die eerste en die laaste; en die laaste en die eerste, dat almal weer eens versorg mag word vir die laaste keer.

64 Daarom, spit rondom hulle, en snoei hulle, en bemes hulle nog ’n keer, vir die laaste keer, want die einde kom nader. En as dit so is dat hierdie laaste ente sal groei, en die natuurlike vrugte voortbring, dan sal jy die weg vir hulle voorberei, sodat hulle mag groei.

65 En soos hulle begin om te groei, sal jy die takke verwyder wat bitter vrugte voortbring, volgens die krag van die goeies en die grootte daarvan; en jy sal nie die slegte takke daarvan tegelyk verwyder nie, uit vrees dat die wortels daarvan te sterk sou wees vir die ent, en die ent daarvan sal vergaan, en ek die bome van my wingerd verloor.

66 Want dit bedroef my dat ek die bome van my wingerd moet verloor; daarom, jy sal die slegtes verwyder na gelang die goeies sal groei, sodat die wortel en die kroon gelyk in krag mag wees, totdat die goeies die slegtes sal oorwin, en die slegtes afgekap word en in die vuur gewerp word, sodat hulle nie die grond van my wingerd bemors nie; en sodoende sal ek die slegtes wegvee uit my wingerd.

67 En die takke van die natuurlike boom sal ek weer ent in die natuurlike boom;

68 En die takke van die natuurlike boom sal ek ent in die natuurlike takke van die boom; en so sal ek hulle weer bymekaar bring, dat hulle die natuurlike vrugte sal voortbring, en hulle sal een wees.

69 En die slegtes sal weggewerp word, ja, en wel uit die hele land van my wingerd; want kyk, net hierdie een maal sal ek my wingerd snoei.

70 En dit het gebeur dat die Heer van die wingerd sy dienskneg gestuur het; en die dienskneg het gegaan en gedoen soos die Heer hom gebied het, en ander diensknegte gebring; en hulle was min.

71 En die Heer van die wingerd het aan hulle gesê: Gaan heen, en arbei in die wingerd, met julle mag. Want kyk, dit is die laaste keer dat ek my wingerd sal versorg; want die einde is op hande, en die seisoen kom spoedig; en as julle arbei met julle mag saam met my, sal julle vreugde hê in die vrugte wat ek vir my sal bêre vir die tyd wat gou sal kom.

72 En dit het gebeur dat die diensknegte gegaan en met hulle magte gearbei het; en die Heer van die wingerd het ook gearbei saam met hulle; en hulle het die bevele gehoorsaam van die Heer van die wingerd in alle dinge.

73 En daar het weer natuurlike vrugte in die wingerd begin kom; en die natuurlike takke het begin groei en uitermate gedy; en daar is begin om die wilde takke te pluk en weg te werp; en hulle het die wortel en die kroon daarvan gelyk gehou, volgens die krag daarvan.

74 En so het hulle gearbei, met alle ywer, volgens die bevele van die Heer van die wingerd, en wel totdat die slegtes weggewerp is uit die wingerd, en die Heer het vir homself behou dat die bome weer die natuurlike vrugte voortbring; en hulle het geword soos een liggaam; en die vrugte was soortgelyk; en die Heer van die wingerd het die natuurlike vrugte vir homself behou, wat die kosbaarste was vir hom vanaf die begin.

75 En dit het gebeur dat toe die Heer van die wingerd gesien het dat sy vrugte goed is, en dat sy wingerd nie langer bedorwe was nie, het hy sy diensknegte geroep en aan hulle gesê: Kyk, vir hierdie laaste keer het ons my wingerd versorg; en julle sien dat ek volgens my wil gedoen het; en ek het die natuurlike vrugte behou, dat dit goed is, en wel soos dit was aan die begin. En salig is julle; want omdat julle ywerig was om saam met my in my wingerd te arbei, en my bevele onderhou het, en weer vir my die natuurlike vrugte gebring het, sodat my wingerd nie langer bedorwe is nie, en die slegtes weggewerp is, kyk, julle sal vreugde met my hê vanweë die vrugte van my wingerd.

76 Want kyk, vir ’n lang tyd sal ek van die vrugte van my wingerd vir myself bêre vir die volgende seisoen, wat spoedig kom; en vir die laaste keer het ek my wingerd versorg, en dit gesnoei, en daaromheen gespit, en dit bemes; daarom sal ek vir myself die vrugte vir ’n lang tyd bêre, volgens dit wat ek gespreek het.

77 En wanneer die tyd kom dat slegte vrugte weer in my wingerd sal kom, dan sal ek opdrag gee dat die goeies en die slegtes ingesamel word; en die goeies sal ek behou vir myself, en die slegtes sal ek wegwerp in hul eie plek. En dan kom die seisoen en die einde; en my wingerd sal ek met vuur laat verbrand.