Skrifture
Mosia 19


Hoofstuk 19

Gídeon poog om koning Noag te dood—Die Lamaniete beset die land—Koning Noag ly die dood deur vuur—Limhi heers as ’n skatpligtige vors. Ongeveer 145–121 v.C.

1 En dit het gebeur dat die leër van die koning teruggekeer het, nadat hulle tevergeefs gesoek het na die volk van die Here.

2 En nou kyk, die magte van die koning was klein, omdat hulle verminder is, en daar het begin om ’n verdeling te kom onder die oorblywende volk.

3 En die kleiner gedeelte het dreigemente begin uitblaas teen die koning, en daar het ’n groot twis onder hulle begin ontstaan.

4 En nou was daar ’n man onder hulle wie se naam Gídeon was, en omdat hy ’n sterk man was en ’n vyand van die koning, daarom het hy sy swaard uitgetrek, en het gesweer in sy toorn dat hy die koning sou doodmaak.

5 En dit het gebeur dat hy geveg het met die koning; en toe die koning sien dat hy op die punt was om hom te oorweldig, het hy gevlug en gehardloop en die toring bestyg wat naby die tempel was.

6 En Gídeon het hom agternagesit en was op die punt om die toring te bestyg om die koning te dood, en die koning het sy oë rondomheen laat gaan na die land Semlon, en kyk, die leër van die Lamaniete was binne die grense van die land.

7 En nou het die koning uitgeroep in die angs van sy siel, en gesê: Gídeon, spaar my, want die Lamaniete is op ons, en hulle sal ons vernietig; ja, hulle sal my volk vernietig.

8 En nou was die koning nie sodanig bekommerd oor sy volk as wat hy was oor sy eie lewe nie; nogtans, Gídeon het sy lewe gespaar.

9 En die koning het die volk beveel dat hulle voor die Lamaniete moes uitvlug, en hy het voor hulle uitgegaan, en hulle het die wildernis ingevlug, met hulle vroue en hulle kinders.

10 En dit het gebeur dat die Lamaniete hulle agternagesit het, en hulle ingehaal, en hulle begin doodmaak het.

11 Nou het dit gebeur dat die koning hulle beveel het dat al die mans hulle vroue en kinders moes agterlaat, en uitvlug voor die Lamaniete.

12 Nou, daar was baie wat hul nie wou agterlaat nie, maar eerder wou bly en omkom saam met hulle. En die res het hulle vroue en hul kinders agtergelaat en gevlug.

13 En dit het gebeur dat diegene wat by hulle vroue en hulle kinders gebly het, hulle mooi dogters na vore laat kom het en by die Lamaniete pleit dat hulle hul nie moes doodmaak nie.

14 En dit het gebeur dat die Lamaniete ontferming gehad het met hulle, want hulle is betower deur die skoonheid van hulle vroue.

15 Daarom het die Lamaniete hulle lewens gespaar, en hulle gevange geneem en hulle teruggevoer na die land Nefi, en hulle toegelaat dat hulle die land mag besit, op voorwaarde dat hulle koning Noag sou oorlewer in die hande van die Lamaniete, en hulle eiendom oorlewer, en wel een helfte van alles wat hulle besit het, een helfte van hul goud, en hul silwer, en al hul kosbare dinge, en so moes hulle belasting betaal aan die koning van die Lamaniete van jaar tot jaar.

16 En nou was daar een van die seuns van die koning onder diegene wat gevange geneem is, wie se naam Limhi was.

17 En nou was Limhi begerig dat sy vader nie moes vernietig word nie; nogtans, Limhi was nie onkundig omtrent die ongeregtighede van sy vader nie, omdat hyself ’n regverdige man was.

18 En dit het gebeur dat Gídeon manne die wildernis ingestuur het in die geheim, om te soek na die koning en na diegene wat by hom was. En dit het gebeur dat hulle die mense in die wildernis teëgekom het, almal behalwe die koning en sy priesters.

19 Nou, hulle het in hulle harte gesweer dat hulle sou terugkeer na die land Nefi, en as hulle vroue en hulle kinders doodgemaak is, en ook diegene wat by hulle agtergebly het, dat hulle wraak sou soek, en ook omkom met hulle.

20 En die koning het hulle beveel dat hulle nie moes terugkeer nie; en hulle was toornig op die koning, en het hom laat ly en wel tot die dood toe deur vuur.

21 En hulle was op die punt om die priesters ook te neem en hulle dood te maak, en hulle het voor hulle uitgevlug.

22 En dit het gebeur dat hulle op die punt was om terug te keer na die land Nefi, en hulle het die manne van Gídeon teëgekom. En die manne van Gídeon het hulle vertel van alles wat gebeur het met hulle vroue en hul kinders; en dat die Lamaniete hulle gegun het dat hulle die land mag besit deur belasting te betaal aan die Lamaniete van een helfte van alles wat hulle besit het.

23 En die volk het vir die manne van Gídeon vertel dat hulle die koning doodgemaak het, en dat sy priesters van hulle af weggevlug het, verder die wildernis in.

24 En dit het gebeur dat nadat hulle die plegtigheid beëindig het, het hulle teruggekeer na die land Nefi, jubelend, omdat hulle vroue en hul kinders nie doodgemaak is nie; en hulle het vir Gídeon vertel wat hulle gedoen het aan die koning.

25 En dit het gebeur dat die koning van die Lamaniete ’n eed teenoor hulle geneem het dat sy volk hulle nie sou doodmaak nie.

26 En ook Limhi, omdat hy die seun van die koning was, omdat die koninkryk aan hom oorgedra is deur die volk, het ’n eed geneem teenoor die koning van die Lamaniete dat sy volk belasting sou betaal aan hom, en wel een helfte van alles wat hulle besit het.

27 En dit het gebeur dat Limhi begin het om die koninkryk te stig, en om vrede te vestig onder sy volk.

28 En die koning van die Lamaniete het wagte opgestel rondom die land, sodat hy die volk van Limhi in die land kon hou, dat hulle nie mag wegtrek in die wildernis nie; en hy het sy wagte onderhou uit die belasting wat hy ontvang het van die Nefiete.

29 En nou het koning Limhi voortdurende vrede gehad in sy koninkryk vir ’n tydperk van twee jaar, omdat die Lamaniete hulle nie aangerand of probeer het om hulle te vernietig nie.