Skrifture
Leer en Verbonde 31


Afdeling 31

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan Thomas B. Marsh, September 1830. Die geleentheid was onmiddellik ná ’n konferensie van die Kerk (sien die opskrif van afdeling 30). Thomas B. Marsh is vroeër in die maand gedoop en is geordineer as ’n ouderling in die Kerk voor hierdie openbaring gegee is.

1–6, Thomas B. Marsh word geroep om die evangelie te predik en word verseker van sy familie se welstand; 7–13, Hy word aangeraai om geduldig te wees, altyd te bid, en om die Trooster te gehoorsaam.

1 Thomas, my seun, geseënd is jy vanweë jou geloof in my werk.

2 Kyk, jy het baie verdrukkings gehad vanweë jou familie; nietemin, Ek sal jou seën en jou familie, ja jou kindertjies; en die dag kom dat hulle sal glo en die waarheid ken en een wees met jou in my kerk.

3 Hef op jou hart en verbly jou, want die uur van jou sending het gekom; en jou tong sal losgemaak word, en jy sal blye tydings van groot blydskap verkondig aan hierdie geslag.

4 Jy sal die dinge verkondig wat geopenbaar is aan my dienskneg Joseph Smith, Jr. Jy sal begin om te preek van nou af, ja om te oes in die veld wat wit is, gereed om verbrand te word.

5 Daarom, steek in jou sekel met jou hele siel, en jou sondes word jou vergewe, en jy sal belaai word met gerwe op jou rug, want die arbeider is sy loon werd. Daarom, jou familie sal lewe.

6 Kyk, voorwaar, Ek sê vir jou, verlaat hulle slegs vir ’n kort tydjie, en verkondig my woord, en Ek sal ’n plek vir hulle berei.

7 Ja, Ek sal die harte van die mense open, en hulle sal jou ontvang. En Ek sal ’n kerk vestig deur jou hand.

8 En jy sal hulle versterk en hulle voorberei vir die tyd wanneer hulle versamel sal word.

9 Wees geduldig in verdrukking, vaar nie uit teen diegene wat uitvaar nie. Beheer jou huis met sagmoedigheid en wees standvastig.

10 Kyk, Ek sê vir jou dat jy ’n geneesheer sal wees vir die kerk, maar nie vir die wêreld nie, want hulle sal jou nie ontvang nie.

11 Gaan op jou pad waarheen Ek ook al wil, en dit sal jou deur die Trooster gegee word wat jy sal doen en waarheen jy sal gaan.

12 Bid altyd, sodat jy nie in versoeking kom nie en jou loon verbeur nie.

13 Wees getrou tot die einde, en sien, Ek is met jou. Hierdie woorde is nie van ’n mens of mense nie, maar van My, naamlik Jesus Christus, jou Verlosser, deur die wil van die Vader. Amen.