Skrifture
Leer en Verbonde 33


Afdeling 33

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan Ezra Thayre en Northrop Sweet, te Fayette, New York, Oktober 1830. In die bekendmaking van hierdie openbaring het Joseph Smith se geskiedenis bevestig dat “die Here … altyd gereed is om diegene wat Hom ywerig in geloof soek, te onderrig.”

1–4, Arbeiders word geroep om die evangelie te verkondig in die elfde uur; 5–6, Die Kerk word gevestig, en die uitverkorenes moet versamel word; 7–10, Bekeer, want die koninkryk van die hemel is op hande; 11–15, Die Kerk is gebou op die rots van die evangelie; 16–18, Berei voor op die koms van die Bruidegom.

1 Kyk, Ek sê vir julle, my diensknegte Ezra en Northrop, open julle ore en slaan ag op die stem van die Here julle God, wie se woord lewend en kragtig is, skerper as ’n tweesnydende swaard, om vanmekaar te skei beide gewrigte en murg, siel en gees; en ’n onderskeider is van die gedagtes en bedoelinge van die hart.

2 Want voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat julle geroep is om julle stemme te verhef soos met die klank van ’n trompet, om my evangelie te verkondig aan ’n verkeerde en ’n verdraaide geslag.

3 Want kyk, die veld is wit, gereed vir die oes; en dit is die elfde uur, en die laaste keer dat Ek die arbeiders in my wingerd sal roep.

4 En my wingerd het bedorwe geraak, elke gedeelte; en daar is niemand wat goeddoen nie behalwe ’n paar; en hulle dwaal in vele opsigte vanweë priesterliste, almal met verdorwe verstand.

5 En voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat Ek hierdie kerk gevestig en geroep het uit die wildernis.

6 En net so sal Ek my uitverkorenes versamel van die vier hoeke van die aarde, en wel soveel as wat in My sal glo, en ag slaan op my stem.

7 Ja, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, dat die veld wit is, gereed vir die oes; daarom, steek in julle sekels en oes met al julle mag, verstand en krag.

8 Open julle monde en hulle sal gevul word, en julle sal word net soos Nefi van ouds, wat gereis het van Jerusalem in die wildernis.

9 Ja, open julle monde en hou nie terug nie, en julle sal belaai word met gerwe op julle rûe, want sien, Ek is met julle.

10 Ja, open julle monde en hulle sal gevul word, en sê: Bekeer, bekeer, en berei julle die weg van die Here, en maak sy paaie reguit; want die koninkryk van die hemel is op hande;

11 Ja, bekeer en word gedoop, elkeen van julle, vir ’n vergifnis van julle sondes; ja, word gedoop en wel deur water, en dan kom die doop van vuur en van die Heilige Gees.

12 Kyk, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, dit is my evangelie; en onthou dat hulle geloof sal hê in My anders kan hulle geensins gered word nie;

13 En op hierdie rots sal Ek my kerk bou, ja op hierdie rots is julle gebou, en as julle voortgaan, sal die poorte van die hel nie seëvier oor julle nie.

14 En julle sal die kerk se artikels en verbonde onthou om hulle te onderhou.

15 En wie ook al geloof het, sal julle bevestig in my kerk, deur die oplegging van hande, en Ek sal die gawe van die Heilige Gees aan hulle skenk.

16 En die Boek van Mormon en die heilige skrifture word deur My gegee vir jul onderrig; en die krag van my Gees verkwik alle dinge.

17 Daarom, wees getrou, bid altyd, hou julle lampe gereed en brandend, en olie by julle, sodat julle gereed mag wees met die koms van die Bruidegom

18 Want kyk, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat Ek spoedig kom. Dit is so. Amen.