Skrifture
Leer en Verbonde 35


Afdeling 35

Openbaring gegee aan Joseph Smith die Profeet en Sidney Rigdon, te of naby Fayette, New York, 7 Desember 1830. Op hierdie tydstip was die Profeet besig, feitlik op ’n daaglikse basis, om ’n vertaling te maak van die Bybel. Die vertaling is so vroeg as Junie 1830 begin, en beide Oliver Cowdery en John Whitmer het as skrywers gedien. Aangesien hulle nou tot ander pligte geroep is, is Sidney Rigdon geroep deur goddelike aanstelling om te dien as die Profeet se skrywer in hierdie werk (sien vers 20.) As ’n voorwoord tot die verslag van hierdie openbaring, verklaar Joseph Smith se geskiedenis: “In Desember het Sidney Rigdon [van Ohio] gekom om by die Here navraag te doen, en saam met hom het Edward Partridge gekom. … Kort na die aankoms van hierdie twee broers, só het die Here gespreek.”

1–2, Hoe mense die seuns van God mag word; 3–7, Sidney Rigdon word geroep om te doop en om die Heilige Gees toe te ken; 8–12, Tekens en wonderwerke word deur geloof teweeggebring; 13–16, Die Here se diensknegte sal die nasies dors deur die krag van die Gees; 17–19, Joseph Smith hou die sleutels van die verborgenhede; 20–21, Die uitverkorenes sal die dag van die koms van die Here verdra; 22–27, Israel sal gered word.

1 Luister na die stem van die Here julle God, naamlik Alfa en Omega, die begin en die einde, wie se verloop een ewige kringloop is, dieselfde vandag as gister, en vir ewig.

2 Ek is Jesus Christus, die Seun van God, wat gekruisig is vir die sondes van die wêreld, en wel soveel as wat sal glo in my Naam, sodat hulle die kinders van God mag word, en wel een in My soos Ek een is in die Vader, soos die Vader een in My is, sodat Ons een mag wees.

3 Kyk, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir my dienskneg Sidney, Ek het jou en jou werke aanskou. Ek het jou gebede aangehoor, en jou voorberei vir ’n groter werk.

4 Jy is geseënd, want jy sal groot dinge doen. Kyk, jy was uitgestuur, net soos Johannes, om die weg voor My voor te berei, en voor Elía wat sal kom, en jy het dit nie geweet nie.

5 Jy het gedoop met water tot bekering, maar hulle het nie die Heilige Gees ontvang nie;

6 Maar nou gee Ek aan jou ’n gebod, dat jy sal doop met water, en hulle sal die Heilige Gees ontvang deur die oplegging van die hande, net soos die apostels van ouds.

7 En dit sal gebeur dat daar ’n groot werk in die land sal wees, en wel onder die nie-Jode, want hulle dwaasheid en hulle gruwels sal openbaar gemaak word in die oë van alle mense.

8 Want Ek is God, en my arm is nie verkort nie; en Ek sal wonderwerke, tekens, en wonders toon aan al diegene wat glo in my Naam.

9 En wie ook al dit sal vra in my Naam in geloof, hulle sal duiwels uitwerp; hulle sal die siekes genees; hulle sal die blindes hulle sig laat ontvang, en die dowes laat hoor, en die stommes laat spreek, en die verlamdes te laat loop.

10 En die tyd kom spoedig dat groot dinge bekend gemaak sal word aan die kinders van mense;

11 Maar sonder geloof sal niks bekendgemaak word nie, behalwe verwoestings oor Babilon, sy wat alle nasies laat drink van die wyn van die toorn van haar ontug.

12 En daar is niemand wat goeddoen nie, behalwe diegene wat gereed is om die volheid van my evangelie te ontvang, wat Ek uitgestuur het aan hierdie geslag.

13 Nou, Ek doen ’n beroep op die swak dinge van die wêreld, diegene wat ongeleerd en verag is, om die nasies te dors deur die krag van my Gees;

14 En hulle arm sal my arm wees, en Ek sal hul skild en hul pantser wees; en Ek sal hulle lendene omgord, en hulle sal dapper veg vir My; en hulle vyande sal onder hul voete wees; en Ek sal die swaard laat val om hul ontwil, en deur die vuur van my verontwaardiging sal Ek hulle bewaar.

15 En die armes en die sagmoediges sal die evangelie aan hulle gepreek hoor, en hulle sal uitsien na die tyd van my koms, want dit is op hande

16 En hulle sal die gelykenis van die vyeboom leer, want nou reeds is die somer naby.

17 En Ek het die volheid van my evangelie uitgestuur deur die hand van my dienskneg Joseph; en in swakheid het Ek hom geseën;

18 En Ek het aan hom die sleutels van die verborgenhede gegee van daardie dinge wat verseël is, naamlik dinge wat was vanaf die grondlegging van die wêreld, en die dinge wat sal plaasvind van hierdie tyd tot die tyd van my koms, as hy in My bly, en indien nie, sal Ek ’n ander plant in sy plek.

19 Nou, waak oor hom dat sy geloof nie faal nie, en dit sal gegee word deur die Trooster, die Heilige Gees, wat alle dinge weet.

20 En ’n gebod gee Ek aan jou—dat jy vir hom sal skryf; en die skrifture sal gegee word, net soos hulle in my eie boesem is, vir die heil van my eie uitverkorenes;

21 Want hulle sal my stem hoor, en sal My sien, en sal nie slaap nie, en sal die dag van my koms verdra; want hulle sal gereinig word, net soos Ek rein is.

22 En nou sê Ek aan jou, vertoef by hom, en hy sal saam met jou reis; verlaat hom nie, en hierdie dinge sal sekerlik vervul word.

23 En in soverre jy nie skryf nie, kyk, dit sal aan hom gegee word om te profeteer; en jy sal my evangelie predik en jou beroep op die heilige profete om sy woorde te bewys, na gelang hulle aan hom gegee sal word.

24 Onderhou al die gebooie en verbonde waardeur julle gebind is; en Ek sal die hemele laat skud tot julle voordeel, en Satan sal bewe en Sion sal haar verbly op die heuwels en floreer;

25 En Israel sal gered word in my eie bepaalde tyd; en deur die sleutels wat Ek gegee het sal hulle gelei word, en nooit weer verwar word nie.

26 Hef op julle harte en wees bly, julle verlossing kom nader.

27 Vrees nie klein kuddetjie, die koninkryk is julle s’n tot Ek kom. Kyk, Ek kom spoedig. Dit is so. Amen.