Skrifture
Leer en Verbonde 36


Afdeling 36

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet aan Edward Partridge, naby Fayette, New York, 9 Desember 1830 (sien die opskrif van afdeling 35). Joseph Smith se geskiedenis verklaar dat Edward Partridge “’n voorbeeld was van vroomheid, en een van die Here se groot manne.”

1–3, Die Here lê sy hand op Edward Partridge deur die hand van Sidney Rigdon; 4–8, Elke man wat die evangelie en die priesterskap ontvang, moet geroep word om uit te gaan en te preek.

1 So sê die Here God, die Magtige Een van Israel: Kyk, Ek sê vir jou, my dienskneg Edward, dat jy geseënd is, en jou sondes is jou vergewe, en jy word geroep om my evangelie te preek soos met die stem van ’n trompet;

2 En Ek sal my hand op jou lê deur die hand van my dienskneg Sidney Rigdon, en jy sal my Gees ontvang, die Heilige Gees, naamlik die Trooster, wat jou die vredige dinge van die koninkryk sal leer;

3 En jy sal dit verkondig met ’n luide stem, en sê: Hosanna, prys die Naam van die Allerhoogste God.

4 En nou, hierdie roeping en gebod gee Ek aan jou aangaande alle mense—

5 Dat soveel as wat voor my diensknegte Sidney Rigdon en Joseph Smith, Jr. sal kom, en hierdie roeping en gebod omhels, geordineer sal word en uitgestuur word om die ewigdurende evangelie te predik onder die nasies—

6 En bekering uitroep, en sê: Red julleself van hierdie verdraaide geslag, en kom uit die vuur uit, en haat selfs die kleding wat bevlek is deur die vlees.

7 En hierdie gebod sal gegee word aan die ouderlinge van my kerk, dat elke man wat dit sal omhels met eenvoud van hart geordineer mag word en uitgestuur word, net soos Ek gespreek het.

8 Ek is Jesus Christus, die Seun van God; daarom, omgord jou lendene en Ek sal skielik na my tempel kom. Dit is so. Amen.