Skrifture
Leer en Verbonde 65


Afdeling 65

Openbaring oor gebed gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Hiram, Ohio, 30 Oktober 1831.

1–2, Die sleutels van die koninkryk van God word aan die mens toevertrou op die aarde en die saak van die evangelie sal oorwin; 3–6, Die millenniaanse koninkryk van die hemel sal kom en aansluit by die koninkryk van God op die aarde.

1 Slaan ag, en sien, ’n stem soos van een afgestuur van omhoog, wat magtig en kragtig is, wie se uitgang na die eindes van die aarde is, ja, wie se stem tot mense is—Berei julle die weg van die Here voor, maak sy paaie reguit.

2 Die sleutels van die koninkryk van God word toevertrou aan die mens op die aarde, en vandaar sal die evangelie voortrol tot die eindes van die aarde, net soos die klip wat uit die berg gesny was sonder hande sal voortrol totdat dit die hele aarde gevul het.

3 Ja, ’n stem wat roep—Berei julle die weg van die Here, berei julle die maaltyd van die Lam, maak gereed vir die Bruidegom.

4 Bid tot die Here, roep sy heilige Naam aan, maak sy wonderlike werke bekend onder die volk.

5 Roep die Here aan, sodat sy koninkryk mag uitgaan op die aarde, sodat die inwoners daarvan dit mag ontvang, en voorbereid wees vir die dae wat kom, waarin die Seun van die Mens sal neerdaal in die hemel, geklee in die helderheid van sy heerlikheid, om die koninkryk van God te ontmoet wat opgerig is op die aarde.

6 Daarom mag die koninkryk van God uitgaan sodat die koninkryk van die hemel mag kom, sodat U, o God, verheerlik mag word in die hemel soos op die aarde, sodat u vyande oorwin mag word, want aan U behoort die eer, krag en heerlikheid, vir ewig en ewig. Amen.