Skrifture
Leer en Verbonde 66


Afdeling 66

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Hiram, Ohio, 29 Oktober 1831. William E. McLellin het by die Here in die geheim gepleit om deur die Profeet die antwoord op vyf vrae bekend te maak wat nie aan Joseph Smith bekend was nie. Op McLellin se versoek het die Profeet by die Here navraag gedoen en hierdie openbaring ontvang.

1–4, Die ewigdurende verbond is die volheid van die evangelie; 5–8, Ouderlinge moet preek, getuig en met die mense redeneer; 9–13, Getroue geestelike bediening verseker ’n erfenis van die ewige lewe.

1 Kyk, so sê die Here vir my dienskneg William E. McLellin—Geseënd is jy, in soverre jy weggedraai het van jou ongeregtighede, en my waarhede ontvang het, sê die Here jou Verlosser, die Saligmaker van die wêreld, en wel van soveel as wat in my Naam glo.

2 Voorwaar Ek sê vir jou, geseënd is jy omdat jy my ewigdurende verbond ontvang het, naamlik die volheid van my evangelie, uitgestuur aan die kinders van mense, sodat hulle lewe mag hê en deelgenote gemaak word van die heerlikhede wat in die laaste dae geopenbaar sal word, soos dit geskryf is deur die profete en apostels in die dae van ouds.

3 Voorwaar Ek sê vir jou, my dienskneg William, dat jy skoon is, maar nie alles nie; bekeer, daarom, van daardie dinge wat nie welbehaaglik in my oë is nie, sê die Here, want die Here sal hulle aan jou toon.

4 En nou, voorwaar, Ek die Here, sal aan jou toon wat Ek wil aangaande jou, of wat my wil is aangaande jou.

5 Kyk, voorwaar Ek sê vir jou, dat dit my wil is dat jy my evangelie sal verkondig van gebied tot gebied, en van stad tot stad, ja, in daardie streke rondomheen waar dit nie verkondig is nie.

6 Vertoef nie vele dae op hierdie plek nie; gaan nie nou op na die land Sion nie; maar in soverre jy kan stuur, stuur; andersins, dink nie aan jou besittings nie.

7 Gaan na die oostelike gebiede, lewer getuienis in elke plek, aan elke volk en in hul sinagoges, redenerend met die volk.

8 Laat my dienskneg Samuel H. Smith saam met jou gaan, en verlaat hom nie, en gee hom jou instruksies; en hy wat getrou is, sal sterk gemaak word in elke plek; en Ek, die Here, sal saam met jou gaan.

9 Lê jou hande op die siekes, en hulle sal herstel. Moenie terugkeer totdat Ek, die Here, jou sal stuur nie. Wees geduldig in verdrukking. Vra, en jy sal ontvang, klop, en dit sal vir jou oopgemaak word.

10 Soek nie daarna om belas te wees nie. Versaak alle ongeregtigheid. Pleeg nie egbreuk nie—’n versoeking waarmee jy gepla was.

11 Gehoorsaam hierdie woorde, want hulle is waar en getrou; en jy moet jou amp verheerlik en stoot vele mense na Sion met gesange van ewigdurende vreugde op hulle hoofde.

12 Volhard in hierdie dinge tot die einde, en jy sal ’n kroon van die ewige lewe ontvang aan die regterhand van my Vader, wat vol genade en waarheid is.

13 Voorwaar, so sê die Here jou God, jou Verlosser, naamlik Jesus Christus. Amen.