Skrifture
Leer en Verbonde 87


Afdeling 87

Openbaring en ’n profesie oor oorlog, gegee deur Joseph Smith die Profeet te of naby Kirtland, Ohio, 25 Desember 1832. Op hierdie tydstip was geskille in die Verenigde State oor slawerny en South Carolina se nietigverklaring van federale tariewe aan die orde van die dag. Joseph Smith se geskiedenis verklaar dat “verskynings van probleme onder die nasies” “meer sigbaar” begin word het vir die Profeet “as wat hulle voorheen was sedert die Kerk haar reis uit die wildernis begin het.”

1–4, Oorlog word voorspel tussen die Noordelike State en die Suidelike State; 5–8, Groot rampe sal oor die inwoners van die aarde kom.

1 Voorwaar, so sê die Here aangaande die oorloë wat binnekort sal plaasvind, beginnende by die rebellie van South Carolina, wat uiteindelik sal uitloop op die dood en ellende van vele siele;

2 En die tyd sal kom dat oorlog uitgestort sal word op alle nasies, beginnende by hierdie plek.

3 Want kyk, die Suidelike State sal verdeeld wees teen die Noordelike State, en die Suidelike State sal ’n beroep doen op ander nasies, naamlik die nasie van Groot-Brittanje, soos dit genoem word, en hulle sal ook ’n beroep doen op ander nasies om hulleself te verdedig teen ander nasies; en dan sal oorlog uitgestort word op alle nasies.

4 En dit sal gebeur, na vele dae, dat slawe in opstand sal kom teen hulle meesters, wat georganiseer en opgelei sal wees vir oorlog.

5 En dit sal ook gebeur dat die oorblyfsels wat oor is in die land hulleself sal organiseer en sal uitermate kwaad word, en sal die nie-Jode met ’n groot kwelling kwel.

6 En dus, deur die swaard en as gevolg van die vergieting van bloed sal die inwoners van die aarde treur; en deur hongersnood, en plae, en aardbewing, en die donderweer van die hemel, en ook deur die kwaai en helder weerlig, sal die inwoners van die aarde gedwing word om die toorn te voel, en die verontwaardiging, en kastydende hand van ’n Almagtige God, tot die vernietiging wat beveel is ’n volledige einde sal maak aan alle nasies;

7 Dat die geroep van die heiliges, en van die bloed van die heiliges, sal ophou om op te styg tot in die ore van die Here van Sebaot, van die aarde, om gewreek te word op hulle vyande.

8 Daarom, staan julle in heilige plekke, en moenie wankel nie, totdat die dag van die Here kom; want kyk, dit kom spoedig, sê die Here. Amen.