Kerkgeskiedenis
ʼn Lewenslange Verbintenis tot Opvoeding


ʼn Lewenslange Verbintenis tot Opvoeding

Khumbulani Mdletshe het in KwaMashu Township naby Durban, op Suid-Afrika se suid-oostelike kus, grootgeword. Sy ouers, Soka John en Qondeni Florence, het geen formele opvoeding gehad nie. John moes hard werk, soms meer as 12 uur per dag, om Khumbulani en sy ses broers en susters te onderhou. Soka John en Qondeni Florence het al hulle kinders die belangrikheid geleer van die verkryging van ʼn opvoeding sodat hulle beter geleenthede as hulle ouers kon hê. Sy pa het dikwels gesê: “Die enigste ding wat gelykheid in Suid-Afrika kan bring is opvoeding.”

Khumbulani het hierdie boodskap ter harte geneem, skool toe gegaan en sy bes probeer. Omdat sy ouers nie gelowige mense was nie, was dit op skool waar leerlinge gebid, skrifture gelees het, en godsdiensklasse bygewoon het, dat hy eerste kennis gemaak het met godsdiens.

In 1980, toe Khumbulani 15 was, was KwaMashu ʼn bykans eksklusiewe swart gemeenskap onder apartheid, en min blankes het ooit daarheen gegaan. Een middag terwyl hy sokker met sy vriende in die straat gespeel het, het Khumbulani ʼn kar daar naby sien stop en twee blanke mans in wit hemde en dasse uit die voertuig sien klim. Rassespanning en gewettigde ongelykheid het Khumbulani geleer om agterdogtig oor blankes te wees. Khumbulani se eerste instink toe hy die mans sien was om te hardloop, denkende dat hulle polisiemanne was.

Die mans, twee Laaste Dae Heilige sendelinge, het die tieners geroep om te wag. Khumbulani en sy vriende het gevra hoekom hulle na hulle moes luister—wit mense het immers na hulle land gekom en hulle land gevat. Die sendelinge het hulle verseker dat hulle nie daar was om oor politiek te praat nie, maar wou net vriende wees. “Daar was geen kwessie van swart en wit by hulle nie,” onhou Khumbulani. “Hulle was anders as al die blankes wat ek al voorheen ontmoet het.” Oor die volgende paar weke het die sendelinge na die township gekom dikwels om sokker saam met die groep seuns te speel en om hulle die beginsels van die herstelde evangelie te leer. Twee maande later is verskeie van die jong mans, insluitend Khumbulani, gedoop.

Verskeie jare later het Khumbulani ʼn sending in Engeland gedien. Terwyl hy daar was het hy ʼn lid van die Kerk ontmoet wat aangebied het om hom te borg sodat hy na Brigham Young Universiteit–Hawaii kon gaan, waar hy ʼn graad in geskiedenis en politieke wetenskappe in 1991 verwerf het.

Getrou aan sy vader se vermanings het hy opvoeding ʼn lewenslange strewe gemaak. Hy het ʼn meestersgraad in opvoeding aan Brigham Young Universiteit in 1992 verwerf en ʼn PhD in onderwysbestuur aan die Randse Afrikaanse Universiteit in 1999. Deur sy kundigheid in die diens van ander jong Heiliges van die Laaste Dae in Suid-Afrika aan te wend het hy vir die Church Educational System gewerk, waar hy oorsig oor seminaries en institute van godsdiens in amper 30 lande gehad het.

Khumbulani glo sy kinders sal terugkyk en sê: “Die feit dat my pa by die Kerk aangesluit het, het al die verskil gemaak.” Hy gaan voort: “As hulle na die toestande kyk wat voorheen geheers het, was dit ʼn geskiedenis van onopgevoede mense wat geen hoop gehad het nie, en die Kerk het gekom en het dit alles gebreek en het ons ʼn ander soort hoop gegee.”