2017
Soek na Christus Tydens Kersfees
Desember 2017


Eerste Presidensie-boodskap, Desember 2017

Soek na Christus Tydens Kersfees

Aan almal wat graag beter wil verstaan wie ons as lede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae werklik is, raai ek aan om die volgende vier woorde as beginpunt te gebruik: Ons Soek na Christus.

Ons strewe om aangaande Hom te leer. Om Hom te volg. Om meer soos Hy te word.

Ons soek elke dag regdeur die jaar na Hom. Maar veral tydens hierdie tyd van die jaar—Kersfees, wanneer ons die geboorte van ons geliefde Verlosser vier—is ons harte nog meer op Hom gerig.

As deel van ons voorbereiding om Kersfees te herdenk, laat ons oorweeg hoe diegene wat twee millennia gelede gelewe het voorberei het om die Verlosser te verwelkom.

Die Herders

Ons weet nie veel van die herders nie, behalwe dat hulle “in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.”1 Die herders was heel waarskynlik gewone mense, wat soos talle prysenswaardige siele elke dag werk om ʼn bestaan te maak.

Hulle kan dalk mense voorstel wie, op een stadium, miskien nie na Christus gesoek het nie, maar wie se harte verander het nadat die hemele oop gegaan het en Christus aan hulle verkondig is.

Dit is hulle wat, nadat hulle die stemme van hemelse boodskappers gehoor het, onmiddellik na Betlehem gegaan het om te sien.2

Die Wyse Manne

Die Wyse Manne was geleerdes wat die koms van die Messias, die Seun van God, bestudeer het. Deur hulle navorsing, het hulle die tekens geïdentifiseer wat sy geboorte aangedui het. Toe hulle hul geïdentifiseer het, het hulle hul huise verlaat en na Jerusalem gereis, en gevra, “Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is?”3

Hulle kennis van Christus het nie slegs akademies gebly nie. Toe hulle die tekens van sy geboorte gesien het, het hulle gereageer. Hulle het uitgegaan om Christus te vind.

Die Wyse Manne kan diegene voorstel wat Christus deur kennis en akademiese studie soek. Hulle toewyding aan die waarheid het hulle uiteindelik gelei om die Christus te vind en Hom as Koning van Konings, en as die Saligmaker van die mensdom te aanbid.4

Símeon en Anna

Símeon en Anna kan diegene voorstel wat Christus deur die Gees soek. Hierdie wonderlike siele was ten volle gelowig en het deur vas en gebed en deur toegewyde en gehoorsame lewens te lei, gretiglik gewag vir die dag van die koms van die Seun van God.

Deur getrouheid, nederigheid, en geloof, het hulle geduldig uitgesien na die koms van die Messias.

Uiteindelik is hulle getrouheid beloon toe Maria en Josef die baba aan hulle getoon het wat eendag die sonde van die mensdom op Homself sou neem.5

Gelowiges onder die Nefiete en Lamaniete

Die roerende storie van hoe gelowiges in die Nuwe Wêreld uitgesien het na die tekens van die geboorte van die Saligmaker word in die Boek van Mormon gevind.

Julle sal onthou hoe diegene wat geloof in Christus gehad het bespot en vervolg was. Die gekunsteldes van daardie dae het die gelowiges daarvan beskuldig dat hulle aanhangers was van dwase bygelowe. Inderdaad, die ongelowiges was so luidrugtig in hulle bespotting dat hulle ʼn “groot oproer gemaak” het in die land (3 Nefi 1:7). Hulle het diegene wat geglo het dat die Redder gebore sou word, bespot.

Hulle woede en toorn het so toegeneem dat hulle vir eens en altyd almal wou stilmaak wat in die Saligmaker geglo het. Die Boek van Mormon vermeld dié dramatiese besluit.6

Die gelowiges wat in hierdie tyd gelewe het kan diegene voorstel wat Christus soek ten spyte daarvan dat ander mense lag, hulle bespot, en uittart. Hulle soek na Christus ten spyte daarvan dat ander mense hulle wil karakteriseer as onverfynd, ongekunsteld, of liggelowig.

Maar die minagting van andere sal nie ware gelowiges daarvan afskrik om Christus te soek nie.

Ons Soek na Christus

Dwarsdeur die jaar, en miskien veral gedurende hierdie Kersgety, sal dit ons almal baat om weer eens die vraag te vra “Hoe soek ek na Christus?”

Gedurende ʼn moeilike tydperk in sy lewe, het die groot Koning Dawid geskryf, “O God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U.”7

Miskien was hierdie houding om na God te soek een van die redes hoekom Dawid beskryf was as ʼn man na God se hart.8

Gedurende hierdie Kersgety en dwarsdeur die jaar, mag ons ons geliefde Saligmaker, die Prins van Vrede, die Heilige Een van Israel met ons hele hart en siel soek. Want hierdie begeerte, grotendeels, definieer nie net wie ons as lede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae werklik is nie, maar nog meer wie ons werklik is as dissipels van Christus.