2018
Susters se Deelname in die Versameling van Israel
November 2018


Beeld
ministering

Eerste Presidensie-boodskap, November 2018

Susters se Deelname in die Versameling van Israel

Ek reik ʼn profetiese pleidooi uit aan julle, die vroue van die Kerk, om die toekoms te vorm deur te help om verstrooide Israel te versamel.

Dit is wonderlik om saam met julle te wees, my dierbare en kosbare susters. Dalk sal ʼn onlangse ondervinding julle ʼn blik gee oor hoe ek oor julle voel en die hemelse vaardighede waarmee julle begiftig is.

Een dag terwyl ek ʼn vergadering in Suid-Amerika toegespreek het, het ek uiters opgewonde geraak oor my onderwerp, en op ʼn keerpunt-oomblik het ek gesê: “As die moeder van 10 kinders, kan ek vir julle sê dat …” En toe het ek voortgegaan om my boodskap te voltooi.

Ek het nie besef dat ek die woord moeder gesê het nie. My vertaler wat aangeneem het dat ek my verspreek het, het die woord moeder verander na vader, dus het die gehoor nooit geweet dat ek na myself verwys het as moeder nie. Maar my vrou Wendy het dit gehoor, en sy het my Freudiaanse glips geniet.

Op daardie oomblik het die diepste begeerte van my hart om ʼn verskil in die wêreld te maak—soos net ʼn moeder kan—uit my hart geborrel. Deur die jare, wanneer ek gevra is hoekom ek gekies het om ʼn mediese dokter te word, was my antwoord altyd dieselfde: “Omdat ek nie kon kies om ʼn moeder te wees nie.”

Let asseblief op dat elke keer wat ek die woord moeder gebruik, praat ek nie net van vroue wat geboorte geskenk het of kinders in hierdie lewe aangeneem het nie. Ek praat van al ons Hemelse Ouers se volwasse dogters. Elke vrou is ʼn moeder op grond van haar ewige goddelike bestemming.

Dus,vanaand, as die vader van 10 kinders—nege dogters en een seun—en as President van die Kerk, bid ek dat julle sal besef hoe diep ek oor julle voel—oor wie julle is en al die goed wat julle kan doen. Niemand kan doen wat ʼn regverdige vrou kan doen nie. Niemand kan die invloed van ʼn moeder dupliseer nie.

Mans kan en dra dikwels die liefde van Hemelse Vader en die Saligmaker oor aan andere. Maar vroue het ʼn spesiale gawe daarvoor—ʼn goddelike gawe. Julle het die vermoë om te weet wat iemand nodig het—en wanneer hy of sy dit nodig het. Julle kan uitreik, troos, onderrig en iemand versterk in sy of haar oomblik van nood.

Vroue sien dinge anders as mans, en o, hoe het ons julle perspektief nodig! Julle aard lei julle om eerste aan andere te dink, om die gevolg wat enige plan van aksie op andere sal hê, te oorweeg.

Soos President Eyring uitgewys het, dit was ons wonderbaarlike Moeder Eva—met haar verreikende visie van ons Hemelse Vader se plan—wat dít wat ons “die Val” noem, aan die gang gesit het. Haar wyse en dapper keuse en Adam se ondersteunende besluit het God se plan van vreugde voorwaarts laat beweeg. Hulle het dit vir elkeen van ons moontlik gemaak om na die aarde te kom, ʼn liggaam te ontvang, en te bewys dat ons sou kies om nou vir Jesus Christus op te staan, net soos ons in die vooraardse bestaan gedoen het.

My geliefde susters, julle het spesiale geestelike gawes en neigings. Ek moedig julle vanaand aan, met ál die hoop in my hart, om te bid om julle geestelike gawes te verstaan—om hulle te ontwikkel, te gebruik, en uit te brei, selfs meer as wat julle ooit gehad het. Julle sal die wêreld verander as julle dit doen.

As vroue inspireer julle ander en stel ʼn standaard waardig om na te streef. Laat ek julle ʼn bietjie agtergrond gee van twee van die groot aankondigings wat by ons vorige algemene konferensie gemaak is. Julle, my liewe susters, was die sleutel tot elkeen.

Eerstens, bediening. Die belangrike standaard van bediening is dié van ons Saligmaker, Jesus Christus. Oor die algemeen is vroue, en was altyd gewees, nader aan daardie standaard as mans. Wanneer julle waarlik dien, volg julle jul gevoelens om iemand anders te help om meer van die Saligmaker se liefde te ervaar. Die neiging om te dien is inherent aan regverdige vroue. Ek ken vroue wat elke dag bid: “Wie wil U hê moet ek vandag help?”

Voor die April 2018 aankondiging oor die hoër en heiliger manier om vir ander te sorg, was die geneigdheid van sommige mans om hulle huisbesoekopdrag af te merk as “gedoen” en aan te beweeg na die volgende taak.

Maar wanneer julle gevoel het dat ʼn suster vir wie julle besoek, hulp nodig het, het julle onmiddellik en dan dwarsdeur die maand gereageer. Dus, dit was hoe julle tuisbesoek gedoen het wat ons opwaartse beweging na bediening geïnspireer het.

Tweedens, tydens die vorige algemene konferensie het ons ook die Melgisédekse Priesterskapkworums herstruktureer. Toe ons geworstel het met hoe om die mans van die Kerk te help om meer effektief in hulle verantwoordelikhede te wees, het ons die voorbeeld van die Verligtingsvereniging noukeurig oorweeg.

In die Verligtingsvereniging vergader vroue van verskillende ouderdomme en stadiums van die lewe saam. Elke dekade van die lewe bring unieke uitdagings, en tog was julle daar, week na week, julle het saam vergader, gegroei en mekaar die evangelie geleer, en ʼn ware verskil in die wêreld gemaak.

Nou, ooreenkomstig julle voorbeeld, is Melgisédekse Priesterskapdraers lede van die ouderlingskworum. Hierdie mans se ouderdomme strek van 18 tot 98 (miskien meer), met net so ʼn wye verskeidenheid priesterskap- en Kerk-ondervinding. Hierdie broers kan nou sterker broederskapsbande vorm, saam leer, en andere meer effektief seën.

Julle onthou dat Suster Nelson en ek verlede Junie met die jeug van die Kerk gepraat het. Ons het hulle genooi om by die Here se jeugbattaljon aan te sluit om te help om Israel aan beide kante van die voorhangsel te versamel. Hierdie versameling is “die grootste uitdaging, die grootste saak, en die grootste werk vandag op aarde”!1

Dit is ʼn aangeleentheid wat dringend vroue benodig, want vroue vorm die toekoms. Dus rig ek vanaand ʼn profetiese pleidooi aan julle, die vroue van die Kerk, om die toekoms te vorm deur te help om verstrooide Israel te versamel.

Waar kan julle begin?

Mag ek vier uitnodigings aan julle rig:

Eerstens, ek nooi julle om deel te neem aan ʼn 10-dag vas van sosiale media en van enige ander media wat negatiewe en onreine gedagtes in julle gedagtes bring. Bid om te weet watter invloede om te verwyder gedurende julle vas. Die effek van julle 10-dag vas mag julle verbaas. Wat merk julle op na julle ʼn blaaskans geneem het van die wêreldse perspektiewe wat julle gees verwond het? Is daar ʼn verandering in waar julle nou julle tyd en energie wil spandeer? Het enige van julle prioriteite verskuif—selfs net ʼn bietjie? Ek maan julle om dit neer te skryf en deur te volg op elke indruk.

Tweedens, ek nooi julle om die Boek van Mormon tussen nou en die einde van die jaar te lees. So onmoontlik as wat dit mag lyk met alles wat julle in julle lewens probeer hanteer, as julle hierdie uitnodiging aanvaar met volle doel van hart, sal die Here julle help om ʼn manier te vind om dit te vermag. En, terwyl julle biddend studeer, belowe ek dat die hemele vir julle sal open. Die Here sal julle seёn met toenemende inspirasie en openbaring.

Terwyl julle lees, moedig ek julle aan om elke vers wat van ons Saligmaker praat of na Hom verwys, te merk. Dan, praat doelbewus oor Christus, verbly julle in Christus, en predik van Christus met julle families en vriende.2 Julle en hulle sal nader aan die Saligmaker kom deur hierdie proses. En veranderinge, selfs wonderwerke, sal begin gebeur.

Vanoggend is die aankondiging gemaak aangaande die nuwe Sondag-skedule en tuis-gesentreerde, Kerk-ondersteunde kurrikulum. Julle, my geliefde susters, is ʼn sleutel tot die sukses van hierdie nuwe, gebalanseerde en gekoördineerde evangelie-onderrigpoging. Leer asseblief diegene vir wie julle lief is wat julle uit die skrifture leer. Leer hulle hoe om hulle tot die Saligmaker te wend vir sy helende en suiwerende krag wanneer hulle sondig. En leer hulle hoe om elke dag van hulle lewens op sy versterkende krag te steun.

Derdens, vestig ʼn patroon van gereelde tempelbywoning. Dit mag ʼn bietjie meer opoffering in julle lewens vereis. Meer gereelde tyd in die tempel sal die Here help om julle te leer hoe om krag te put uit sy priesterskapkrag waarmee julle in sy tempel begiftig is. Vir dié van julle wat nie naby ʼn tempel bly nie, nooi ek julle uit om biddend te leer oor tempels in die skrifture en uit die woorde van lewende profete. Streef om meer te weet, om meer te verstaan, om meer te voel oor tempels as wat julle ooit voorheen gedoen het.

In ons wêreldwye jeug geestelike byeenkoms verlede Junie het ek gepraat van ʼn jong man wie se lewe verander het toe sy ouers sy slimfoon verruil het vir ʼn flipfoon. Hierdie jong man se ma is ʼn vreeslose vrou van geloof. Sy het gesien haar seun dryf na keuses wat hom kon verhoed om op sending te gaan. Sy het in die tempel gaan pleit om te weet wat die beste oplossing sou wees om haar seun te help. Sy het toe deurgevolg op elke indruk.

Sy het gesê: “Ek het gevoel hoe die Gees my gelei het om my seun se foon op spesifieke tye te deursoek om spesifieke dinge te vind. Ek weet nie hoe om hierdie slimfone te navigeer nie, maar die Gees het my deur al die sosiale media gelei wat ek nie eens gebruik nie! Ek weet dat die Gees ouers help wat op soek is na leiding om hulle kinders te beskerm. [Aan die begin] was my seun woedend. … Maar na net drie dae het hy my bedank! Hy kon die verskil voel.”

Haar seun se gedrag en houdings het dramaties verander. Hy het meer behulpsaam geword tuis, meer geglimlag en was meer aandagtig by die kerk. Hy het baie daarvan gehou om in ‘n tempel se doop-area te dien en om vir sy sending voor te berei.

My vierde uitnodiging, vir julle wat oud genoeg is, is om ten volle mee te doen aan die Verligtingsvereniging. Ek moedig julle aan om die huidige Verligtingsvereniging se doelverklaring te bestudeer. Dit is inspirerend. Dit mag julle lei om julle eie doelverklaring vir julle eie lewens te ontwikkel. Ek pleit ook by julle om die waarhede in die Verligtingsvereniging se verklaring wat bykans 20 jaar gelede gepubliseer is, te geniet.3 ʼn Geraamde kopie van hierdie verklaring hang aan die muur in die Eerste Presidensie se kantoor. Ek is opgewonde elke keer wat ek dit lees. Dit beskryf wie julle is en wie die Here julle nodig het om te wees op hierdie presiese tyd terwyl julle jul deel doen om verstrooide Israel te versamel.

My liewe susters, ons het julle nodig! Ons “benodig julle krag, julle bekering, julle oortuiging, julle vermoë om te lei, julle wysheid en julle stemme.”4 Ons kan eenvoudig nie Israel versamel sonder julle nie.

Ek het julle lief en seën julle nou met die vermoë om die wêreld agter te laat terwyl julle behulpsaam is in hierdie noodsaaklike en dringende werk. Saam kan ons alles doen wat ons Hemelse Vader ons nodig het om te doen om die wêreld voor te berei vir die Tweede Koms van sy Geliefde Seun.

Jesus is die Christus. Dit is sy Kerk. Ek getuig hiervan in die Naam van Jesus Christus, amen.

Notas

  1. Russell M. Nelson, “Hope of Israel” (worldwide youth devotional, 3 Junie 2018), HopeofIsrael.lds.org.

  2. Sien 2 Nefi 25:26.

  3. Vir die Verligtingsvereniging se “declaration”, sien Mary Ellen Smoot, “Rejoice, Daughters of Zion,” Liahona, Jan. 2000, 111–14.

  4. Russell M. Nelson, “A Plea to My Sisters,” Liahona, Nov. 2015, 96; beklemtoning bygevoeg.