2021
Jesus Christus het Ons van die Sonde en die Dood Gered
April 2021


“Jesus Christus het Ons van die Sonde en die Dood Gered,” Liahona, April 2021

Maandelikse Liahona-boodskap, April 2021

Jesus Christus het Ons van die Sonde en die Dood Gered

As gevolg van sy offerande, het ons almal die kans om ewige vrede en vreugde te vind.

Beeld
Die Laaste Avondmaal

Christ Creating the Earth (Christus Skep die Aarde), deur Robert T. Barrett

Ons verwys na Jesus Christus as ons Saligmaker. Dit is omdat Hy die prys vir ons sondes betaal het en die mag van die dood oorwin het. Hy het ons gered! Sy offerande vir ons, wat die Versoening genoem word, is die belangrikste gebeurtenis wat ooit plaasgevind het. As gevolg van Hom is die dood nie die einde nie. As gevolg van Hom kan ons sondes vergewe word, en ons kan weer skoon word en elke dag beter word.

Jesus Christus Was die Eersgeborene

Voordat ons aarde toe gekom het, het ons by ons hemelse ouers gewoon. As die Eersgeborene het Jesus Christus gehelp om hierdie pragtige wêreld te skep. Hy is gekies om ons Saligmaker te wees en het ingestem om op aarde gebore te word sodat Hy ʼn volmaakte voorbeeld kon stel, sy evangelie kon onderrig en die Versoening vir ons kon voltooi.

Beeld
Jesus Christus bid in Getsémané

O My Father (O My Vader), deur Simon Dewey

Jesus Christus het vir Ons Sondes Betaal

Toe Jesus geweet het dat Hy binnekort sou sterf, het Hy na ʼn tuin met die naam Getsémané gegaan om te bid. Gedurende daardie gebed het Hy die prys vir ons sondes begin betaal. Hy het gewillig gely sodat ons nie hoef nie—as ons ons bekeer. Wanneer ons wegdraai van ons sondes en eerder die Saligmaker volg, kan ons vergifnis en genesing vind. As gevolg van wat Hy in Getsémané ervaar het, verstaan Jesus presies hoe dit is om elkeen van ons te wees. Hy het al ons hartseer, siektes en pyn ervaar. Dit is die eerste deel van die Versoening.

Beeld
Christus word begrawe

The Burial of Christ (Christus Word Begrawe), deur Carl Heinrich Bloch

Jesus Christus het die Dood Oorwin

Na sy gebed in Getsémané is Jesus verraai, gevange geneem en tot die dood veroordeel deur kruisiging. Al was Hy almagtig, het Jesus Homself toegelaat om aan die kruis te sterf. Sy volgelinge het sy liggaam liefdevol in ʼn graf geplaas. Hulle het nie besef dat hoewel sy liggaam dood was, sy gees nog geleef het in die geesteswêreld nie. Drie dae later het Jesus weer lewend geword en hulle besoek en bewys dat Hy die dood kon oorwin. Dit het die Versoening voltooi. Omdat Jesus opgewek is, sal elkeen van ons weer lewe nadat ons gesterf het.

Beeld
Christus en Maria by die graf

He Lives (Hy Leef), deur Simon Dewey

Die betekenis van Kersfees en Paasfees

Groot dele van die wêreld vier twee vakansiedae wat ons help om die Versoening van Jesus Christus te onthou. Met Kersfees onthou ons met dankbaarheid dat Jesus bereid was om die sending te aanvaar om na die aarde toe te kom, alhoewel dit ingesluit het om vir ons te ly en te sterf. Paasfees vier die Saligmaker se oorwinning oor die sonde en die dood, wat ons hoop gee op ʼn ewige toekoms van vreugde.

Beeld
Christus roep Petrus en Andreas

Christ Calling Peter and Andrew (Christus Roep Petrus en Andreas), deur James Taylor Harwood

Wat sê die Skrifture oor die Saligmaker se Versoening?

Omdat Jesus ons volkome ken, kan Hy ons “bystaan,” of help (sien Alma 7:11–12).

Die Saligmaker verstaan ons droefheid en leed (sien Jesaja 53:2–5).

God het Jesus gestuur om ons te red omdat God elkeen van ons liefhet (sien Johannes 3:16–17).

Jesus het vir sy volgelinge, insluitende ons, gebid om beskerm te word teen die bose en om een te wees met Hom en met Hemelse Vader (sien Johannes 17).

Ons Saligmaker nooi ons om Hom te volg en terug te keer na sy teenwoordigheid (sien Leer en Verbonde 19:16–19, 23–24; 132:23).