2022
Die Krag van Geestelike Momentum
Mei 2022


Maandelikse Liahona-boodskap, Mei 2022

Die Krag van Geestelike Momentum

Ek wil graag vyf spesifieke aksies voorstel wat ons kan uitvoer om ons te help om positiewe geestelike momentum te behou.

My liewe broers en susters, ek is lief vir julle. Ek koester hierdie geleentheid om vandag met julle te praat. Ek bid daagliks dat julle beskerm sal word teen die hewige aanvalle van die teenstander en die krag sal hê om vorentoe te beur deur watter uitdagings julle ook al in die gesig gestaar word.

Party beproewinge is diep private laste wat niemand anders kan sien nie. Ander word op die wêreldverhoog afgespeel. Die gewapende konflik in Oos-Europa is een hiervan. Ek was al baie keer in Rusland en Oekraïne. Ek is lief vir daardie lande, die mense en hulle tale. Ek ween en bid vir almal wat deur hierdie konflik geraak word. As ʼn kerk doen ons alles in ons vermoë om diegene te help wat ly en sukkel om te oorleef. Ons nooi almal om aan te hou vas en bid vir al die mense wat deur hierdie ramp pyn aangedoen word. Enige oorlog is ʼn verskriklike skending van alles waarvoor die Here Jesus Christus staan en leer.

Nie een van ons kan nasies of die optrede van ander of selfs lede van ons eie gesinne beheer nie. Maar ons kan onsself beheer. My oproep vandag, liewe broers en susters, is om konflikte wat in jou hart, jou huis en jou lewe woed, te beëindig. Begrawe enige en alle neigings om ander seer te maak—hetsy daardie neigings ʼn humeur, ʼn skerp tong of ʼn wrok is teenoor iemand wat jou seergemaak het. Die Saligmaker het ons gebied om die ander wang te draai,1 om ons vyande lief te hê, en te bid vir diegene wat ons met minagting misbruik.2

Dit kan pynlik moeilik wees om woede te laat vaar wat so geregverdig voel. Dit kan onmoontlik lyk om diegene te vergewe wie se vernietigende optrede die onskuldiges seergemaak het. En tog het die Saligmaker ons vermaan om “alle mense te vergewe.”3

Ons is volgelinge van die Prins van Vrede. Nou, meer as ooit tevore, het ons die vrede nodig wat net Hy kan bring. Hoe kan ons verwag dat daar vrede in die wêreld sal bestaan wanneer ons nie individueel vrede en harmonie soek nie? Broers en susters, ek weet wat ek voorstel, is nie maklik nie. Maar volgelinge van Jesus Christus moet die voorbeeld stel vir die hele wêreld om te volg. Ek pleit by julle om alles in jul vermoë te doen om persoonlike konflikte wat tans in julle harte en in jul lewens woed, te beëindig.

Mag ek hierdie oproep tot aksie beklemtoon deur ʼn konsep te bespreek waaraan ek onlangs herinner is terwyl ek na ʼn basketbalwedstryd gekyk het.

In daardie wedstryd was die eerste helfte ʼn wipplankstryd, heen en weer. Toe, gedurende die laaste vyf sekondes van die eerste helfte, het ʼn doelwagter van een span ʼn pragtige driepuntskoot geskiet. Met slegs een sekonde oor het sy spanmaat die inkomende bal gesteel en nog ʼn doel geskiet toe die fluitjie blaas! Daardie span het dus met vier punte voor in die kleedkamer gegaan met ʼn tasbare oplewing van momentum. Hulle kon met daardie momentum die tweede helfte ingaan en die wedstryd wen.

Momentum is ʼn kragtige konsep. Ons het dit almal in een of ander vorm ervaar—byvoorbeeld in ʼn voertuig wat versnel of met ʼn meningsverskil wat skielik in ʼn argument verander.

Ek vra dus, wat kan geestelike momentum laat ontvlam? Ons het voorbeelde van beide positiewe sowel as negatiewe momentum gesien. Ons ken volgelinge van Jesus Christus wat bekeer en in hulle geloof gegroei het. Maar ons weet ook van eens toegewyde gelowiges wat weggeval het. Momentum kan enige kant toe swaai.

Beeld
jong dame

Ons het nog nooit positiewe geestelike momentum meer nodig gehad as nou nie, om die spoed waarmee boosheid en die tekens van die tye toeneem, teen te werk nie. Positiewe geestelike momentum sal ons aanhou om vorentoe te beweeg te midde van die vrees en onsekerheid wat deur pandemies, tsoenami’s, vulkaniese uitbarstings en gewapende vyandelikhede geskep word. Geestelike momentum kan ons help om die meedoënlose, goddelose aanvalle van die teenstander te weerstaan en sy pogings om ons persoonlike geestelike fondament te ondermyn, te dwarsboom.

Baie aksies kan positiewe geestelike momentum laat ontvlam. Gehoorsaamheid, liefde, nederigheid, diens en dankbaarheid4 is maar net ʼn paar.

Ek wil vandag vyf spesifieke aksies voorstel wat ons kan doen om ons te help om positiewe geestelike momentum te behou.

Eerstens: Kom op die verbondspad en bly daar.

Ek het onlangs ʼn helder droom gehad waarin ek ʼn groot groep mense ontmoet het. Hulle het my baie vrae gevra, waarvan die mees algemene oor die verbondspad gegaan het en waarom dit so belangrik is.

In my droom het ek verduidelik dat ons die verbondspad betree deur gedoop te word en ons eerste verbond met God te sluit.5 Elke keer as ons die nagmaal gebruik, belowe ons weer om die Naam van die Saligmaker op ons te neem, om Hom te onthou en sy gebooie te onderhou.6 In ruil daarvoor verseker God ons dat ons altyd die Gees van die Here mag hê om met ons te wees.

Ons sluit later bykomende verbonde in die tempel, waar ons selfs groter beloftes ontvang. Ordinansies en verbonde gee ons toegang tot goddelike krag. Die verbondspad is die enigste pad wat tot verheffing en die ewige lewe lei.

In my droom het ʼn vrou toe gevra hoe iemand wat sy of haar verbonde verbreek het, weer op daardie pad kan kom. My antwoord op haar vraag lei tot my tweede voorstel:

Ontdek die vreugde van daaglikse bekering.

Hoe belangrik is bekering? Alma het geleer dat ons “niks moes preek nie tensy dit bekering en geloof in die Here is.”7 Bekering word vereis van elke verantwoordbare persoon wat die ewige heerlikheid begeer.8 Daar is geen uitsonderings nie. In ʼn openbaring aan die Profeet Joseph Smith, het die Here vroeë Kerkleiers getugtig omdat hulle nie die evangelie vir hul kinders geleer het nie.9 Bekering is die sleutel om te vorder. Suiwer geloof hou ons voortbeweeg op die verbondspad.

Moet asseblief nie vrees of uitstel om te bekeer nie. Satan verlustig hom in jou ellende. Knip dit kort. Verdryf sy invloed uit jou lewe! Begin vandag om die vreugde te ervaar om die natuurlike mens af te lê.10 Die Saligmaker het ons altyd lief, maar veral wanneer ons bekeer. Hy het belowe dat alhoewel “berge mag wyk en heuwels wankel … my goedertierenheid sal van jou nie wyk nie.”11

As jy voel dat jy te ver of te lank van die verbondspad afgedwaal het en geen manier het om terug te keer nie, is dit eenvoudig nie waar nie.12 Kontak asseblief jou biskop of takpresident. Hy is die Here se verteenwoordiger en sal jou help om die vreugde en verligting van berou te ervaar.

Nou, ʼn waarskuwing: Om terug te keer na die verbondspad beteken nie dat die lewe maklik sal wees nie. Hierdie pad is moeilk en sal soms soos ʼn steil, opdraande voel.13 Hierdie opdraande is egter bedoel om ons te toets en te leer, ons natuur te verfyn en ons te help om heiliges te word. Dit is die enigste pad wat tot verheffing lei. Een profeet14 het die “geseënde en gelukkige toestand van diegene wat die gebooie van God onderhou” beskryf. “Want kyk, hulle is geseënd in alle dinge, beide stoflik en geestelik; en as hulle getrou bly tot die einde, word hulle in die hemel ontvang, sodat hulle daardeur met God mag woon in ’n toestand van nimmereindigende geluk.”15

Om die verbondspad te loop, tesame met daaglikse bekering, laat positiewe geestelike momentum ontvlam.

Beeld
vrou wat konferensie kyk

Uruguay

My derde voorstel: Leer oor God en hoe Hy werk.

Een van ons grootste uitdagings vandag is om te onderskei tussen die waarhede van God en die vervalsings van Satan. Dit is hoekom die Here ons gewaarsku het om “altyd te bid, … dat [ons] Satan mag oorwin, en … die hande van die diensknegte van Satan mag ontvlug wat sy werk steun.”16

Moses het ʼn voorbeeld gegee van hoe om tussen God en Satan te onderskei. Toe Satan Moses versoek het, het hy die misleiding bespeur omdat hy pas ʼn aangesig-tot-aangesig-interaksie met God gehad het. Moses het gou besef wie Satan is en het hom beveel om weg te gaan.17 Toe Satan volhard het, het Moses geweet hoe om God aan te roep vir meer hulp. Moses het goddelike krag ontvang en die bose weer bestraf en gesê: “Gaan weg van my, Satan, want slegs hierdie een God sal ek aanbid.”18

Ons moet daardie voorbeeld volg. Verdryf Satan se invloed uit jou lewe! Moet hom asseblief nie na die “kloof van smart en eindelose wee” volg nie.19

ʼn Getuienis wat nie daagliks gevoed word “deur die goeie woord van God” nie, kan met skrikwekkende spoed verkrummel.20 Die teenmiddel vir Satan se plan is dus duidelik: ons het daaglikse ervarings nodig om die Here te aanbid en sy evangelie te bestudeer. Ek pleit by julle om God toe te laat om in jul lewens te seëvier. Gee hom ʼn billike deel van jou tyd. As jy dit doen, let op wat met jou positiewe geestelike momentum gebeur.

Voorstel nommer 4: Soek en verwag wonderwerke.

Moroni het ons verseker dat “God nie opgehou het om ʼn God van wonderwerke te wees nie.”21 Elke boek van die skrifture demonstreer hoe gewillig die Here is om in te gryp in die lewens van diegene wat in Hom glo.22 Hy het die Rooi See vir Moses geskei, Nefi gehelp om die koperplate te gaan haal, en sy Kerk deur die Profeet Joseph Smith herstel. Elkeen van hierdie wonderwerke het tyd geneem en was dalk nie presies wat daardie individue oorspronklik van die Here gevra het nie.

Net so sal die Here jou seën met wonderwerke as jy in Hom glo, “en glad nie twyfel nie.”23 Doen die geestelike werk om wonderwerke te soek. Vra God biddend om jou te help om daardie soort geloof uit te oefen. Ek belowe dat jy vir jouself kan ervaar dat Jesus Christus “die vermoeide [krag gee] en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.”24 Min dinge sal jou geestelike momentum meer versnel as om te besef dat die Here jou help om ʼn berg in jou lewe te versit.

Beeld
familie wat konferensie kyk

Taiwan

Voorstel nommer 5: Beëindig konflik in jou persoonlike lewe.

Ek herhaal my oproep om die konflikte in julle lewens te beëindig. Beoefen die nederigheid, moed en krag wat nodig is beide om te vergewe en vergifnis te soek. Die Saligmaker het belowe dat “as [ons] die mense hulle oortredings vergewe, sal [ons] hemelse Vader [ons] ook vergewe.”25

Ons vier vandag oor twee weke Paasfees. Tussen nou en dan nooi ek julle uit om ʼn einde te maak aan ʼn persoonlike konflik wat julle bedroef. Kan daar ʼn meer gepaste daad van dankbaarheid teenoor Jesus Christus wees vir sy Versoening? As vergifnis tans onmoontlik lyk, pleit vir krag deur die versoenende bloed van Jesus Christus om julle te help. As julle dit doen, belowe ek persoonlike vrede en ʼn voortstuwing van geestelike momentum.

Toe die Saligmaker vir die hele mensdom versoening gedoen het, het Hy ʼn manier geopen sodat diegene wat Hom volg, toegang tot sy genesing, versterking en verlossende krag kan hê. Hierdie geestelike voorregte is beskikbaar vir almal wat probeer om Hom te hoor en Hom te volg.

My liewe broers en susters, met al die pleidooie van my hart, doen ek ʼn beroep op julle om op die verbondspad te kom en daar te bly. Ervaar die vreugde van daaglikse bekering. Leer oor God en hoe Hy werk. Soek en verwag wonderwerke. Strewe om konflik in julle lewens te beëindig.

Wanneer julle op hierdie strewes optree, belowe ek julle die vermoë om met groter momentum op die verbondspad vorentoe te beweeg, ten spyte van watter struikelblokke julle ook al in die gesig staar. En ek belowe julle groter krag om versoeking te weerstaan, meer gemoedsrus, vryheid van vrees en groter eenheid in julle families.

God lewe! Jesus is die Christus! Hy lewe! Hy het ons lief en sal ons help. Ek getuig hiervan in die heilige Naam van ons Verlosser, Jesus Christus, amen.

Notas

  1. Sien 3 Nefi 12:39.

  2. Sien 3 Nefi 12:44.

  3. Leer en Verbonde 64:10; sien ook vers 9.

  4. Soos die Apostel Paulus gesê het: “Wees in alles dankbaar” (1 Thessalonicense 5:18). Een van die sekerste teenmiddels vir wanhoop, ontmoediging en geestelike lusteloosheid is dankbaarheid. Wat is sommige van die dinge waarvoor ons God kan bedank? Bedank Hom vir die skoonheid van die aarde, vir die Herstelling van die evangelie en vir die ontelbare maniere waarop Hy en sy Seun hulle krag hier op hierdie aarde aan ons beskikbaar stel. Dank Hom vir die skrifture, vir engele wat reageer op ons pleidooie aan God om hulp, vir openbaring en vir ewige families. En bowenal, dank God vir die gawe van sy Seun en die Versoening van Jesus Christus, wat dit vir ons moontlik maak om die sendings waarvoor ons na die aarde gestuur is, te vervul.

  5. Om die verbondspad te verstaan, is dit belangrik om te verstaan dat ʼn verbond ʼn tweerigtingverbintenis tussen God en een van sy kinders behels. In ʼn verbond stel God die bepalings, en ons stem in tot daardie terme. In ruil daarvoor maak God beloftes aan ons. Baie verbonde gaan gepaard met uiterlike tekens–of heilige ordinansies–waaraan ons deelneem met getuies wat teenwoordig is. Die doop is byvoorbeeld ʼn teken vir die Here dat die persoon wat gedoop word, ʼn verbond gesluit het om die gebooie van God te onderhou.

  6. Sien Moroni 4:3; 5:2; Leer en Verbonde 20:77, 79.

  7. Mosia 18:20.

  8. Sien Moses 6:50, 57.

  9. Sien Leer en Verbonde 93:40–48.

  10. Sien Mosia 3:19.

  11. Jesaja 54:10, beklemtoning bygevoeg; sien ook 3 Nefi 22:10. Goedhartigheid word vertaal uit die Hebreeuse term hesed, ʼn kragtige woord met diepe betekenis wat goedhartigheid, barmhartigheid, verbondsliefde en meer insluit.

  12. Dit is moontlik om restitusie vir sommige sondes te maak, maar nie vir ander nie. As een persoon ʼn ander mishandel of aanrand, of as iemand die lewe van ʼn ander neem, kan volle restitusie nie gemaak word nie. Die sondaar in daardie gevalle kan net sóveel doen, en ʼn groot balans bly verskuldig. As gevolg van die Here se bereidwilligheid om ʼn balans te vergewe, kan ons na Hom toe kom, ongeag hoe ver ons afgedwaal het. Wanneer ons opreg bekeer, sal Hy ons vergewe. Enige balans as gevolg van ons sondes en ons vermoë om volle restitusie te maak, kan slegs betaal word deur die Versoening van Jesus Christus toe te pas, wat ʼn gawe van genade kan maak. Sy bereidwilligheid om ons balans te vergewe, is ʼn kosbare geskenk.

  13. Sien 2 Nefi 31:18–20.

  14. Die Nefitiese profeet Koning Benjamin.

  15. Mosia 2:41.

  16. Leer en Verbonde 10:5; beklemtoning bygevoeg.

  17. Sien Moses 1:16; sien ook verse 1–20.

  18. Moses 1:20.

  19. Helaman 5:12.

  20. Moroni 6:4.

  21. Mormon 9:15; sien ook vers 19.

  22. Johannes die Apostel het verklaar dat hy die Saligmaker se wonderwerke opgeteken het “dat [ons] kan glo dat Jesus die Christus is” (Johannes 20:31).

  23. Mormon 9:21.

  24. Jesaja 40:29.

  25. Matthéüs 6:14.