Skrifture
Mosia 15


Hoofstuk 15

Hoe Christus beide die Vader en die Seun is—Hy sal voorspraak doen en die oortredinge dra van sy volk—Hulle en al die heilige profete is sy saad—Hy bring die Opstanding teweeg—Klein kindertjies het die ewige lewe. Ongeveer 148 v.C.

1 En nou het Abinadi aan hulle gesê: Ek wil hê dat julle moet verstaan dat God self sal neerdaal onder die kinders van mense, en sy volk sal verlos.

2 En omdat Hy woon in die vlees, sal Hy die Seun van God genoem word, en omdat Hy die vlees onderwerp het aan die wil van die Vader, is Hy die Vader en die Seun—

3 Die Vader, omdat Hy verwek is deur die krag van God; en die Seun, vanweë die vlees; dus word Hy die Vader en Seun—

4 En hulle is een God, ja, die ware Ewige Vader van hemel en aarde.

5 En so word die vlees onderwerp aan die Gees, of die Seun aan die Vader, omdat hulle een God is, ondergaan versoeking, en gee nie toe aan die versoeking nie, maar laat Homself bespot, en gésel, en uitgewerp word, en verloën word deur sy volk.

6 En na dit alles, nadat Hy vele magtige wonderwerke onder die kinders van mense gedoen het, sal Hy gelei word, ja, en wel soos Jesaja gesê het, soos ’n skaap wat stom is voor die skeerder, so het Hy sy mond nie oopgemaak nie.

7 Ja, net so sal Hy gelei word, gekruisig, en doodgemaak word, omdat die vlees onderwerp sal word aan die dood, die wil van die Seun sal opgeneem word in die wil van die Vader.

8 En so verbreek God die bande van die dood, omdat Hy die oorwinning behaal het oor die dood; en Hy gee die Seun mag om voorspraak te maakvir die kinders van mense—

9 En Hy het opgevaar in die hemel, en Hy het innerlike ontferming; en is gevul met barmhartigheid teenoor die kinders van mense; staande tussen hulle en geregtigheid; en Hy het die bande van die dood verbreek, hulle ongeregtigheid en hulle oortredinge op Homself geneem, en het hulle verlos, en het voldoen aan die eise van geregtigheid.

10 En nou sê ek aan julle, wie sal sy geslag verklaar? Kyk, ek sê vir julle, dat wanneer sy siel tot ’n offerande vir die sonde gemaak is, sal Hy sy saad sien. En nou, wat sê julle? En wie sal sy nageslag wees?

11 Kyk, ek sê vir julle, dat wie ook al die woorde van die profete gehoor het, ja, al die heilige profete wat geprofeteer het aangaande die koms van die Here—ek sê vir julle, dat al diegene wat ag geslaan het op hulle woorde, en geglo het dat die Here sy volk sou verlos, en vooruitgesien het na daardie dag vir ’n vergifnis van hulle sondes, ek sê vir julle, dat diesulkes sy saad is, of hulle is die erfgename van die koninkryk van God.

12 Want dit is hulle wie se sondes Hy gedra het; dit is hulle vir wie Hy gesterwe het, om hulle te verlos van hul oortredinge. En nou, is hulle nie sy saad nie?

13 Ja, en is nie die profete, elkeen wat sy mond geopen het om te profeteer, wat nie verval het in oortreding nie, ek bedoel al die heilige profete sedert die wêreld begin het? Ek sê vir julle dat hulle sy saad is.

14 En dit is hulle wat vrede verkondig het, wat goeie tydings gebring het van die goeie, wat heil verkondig het; en aan Sion gesê het: U God heers!

15 En o, hoe lieflik op die berge was hulle voete!

16 En verder, hoe lieflik op die berge is die voete van diegene wat steeds vrede verkondig!

17 En verder, hoe lieflik op die berge is die voete van diegene wat hierna vrede sal verkondig, ja, vanaf hierdie tyd en vir ewig!

18 En kyk, ek sê vir julle, dit is nie al nie. Want, o hoe lieflik op die berge is die voete van Hom wat goeie tydings bring, wat die stigter van vrede is, ja, naamlik die Here, wat sy volk verlos het; ja, Hom wat heil geskenk het aan sy volk;

19 Want as dit nie was vir die verlossing wat Hy gemaak het vir sy volk, wat berei is vanaf die grondlegging van die wêreld nie, ek sê vir julle, as dit nie hiervoor was nie, moes die hele mensdom vergaan het.

20 Maar kyk, die bande van die dood sal verbreek word, en die Seun heers, en het mag oor die dood; daarom, Hy bring die opstanding van die dode teweeg.

21 En daar kom ’n opstanding, naamlik ’n eerste opstanding; ja, naamlik ’n opstanding van hulle wat was, en wat is, en wat sal wees, en wel tot die opstanding van Christus—want so sal Hy genoem word.

22 En nou, die opstanding van al die profete, en al diegene wat geglo het in hulle woorde, of al diegene wat die gebooie van God onderhou het, sal te voorskyn kom in die eerste opstanding; daarom, hulle is die eerste opstanding.

23 Hulle word opgewek om by God te woon wat hulle verlos het; dus het hulle die ewige lewe deur Christus, wat die bande van die dood verbreek het.

24 En dit is hulle wat deel het aan die eerste opstanding; en dit is hulle wat gesterf het voordat Christus gekom het, in hulle onkunde, sonder dat heil aan hulle verkondig is. En so bring die Here die herstelling van diesulkes teweeg; en hulle het deel aan die eerste opstanding, of het die ewige lewe, omdat hulle verlos is deur die Here.

25 En klein kindertjies het ook die ewige lewe.

26 Maar kyk, en vrees, en bewe voor God, want julle behoort te bewe; want die Here verlos nie diesulkes wat teen Hom rebelleer en sterwe in hulle sondes nie; ja, en wel al diegene wat vergaan het in hulle sondes sedert die wêreld begin het, wat moedswillig gerebelleer het teen God, wat die gebooie van God geken het, en hulle nie wou onderhou nie; dit is hulle wat geen deel het aan die eerste opstanding nie.

27 Daarom, behoort julle nie te bewe nie? Want heil kom nie na diesulkes nie; want die Here het diesulkes nie verlos nie; ja, nóg kan die Here diesulkes verlos; want Hy kan Homself nie weerspreek nie; want Hy kan nie die geregtigheid weier wanneer dit sy eis stel nie.

28 En nou sê ek aan julle dat die tyd sal kom dat die heil van die Here verkondig sal word aan elke nasie, stam, taal en volk.

29 Ja, Here, u wagte sal hulle stem verhef, met die stem tesame sal hulle sing; want hulle sal van oog tot oog sien wanneer die Here Sion weer sal bring.

30 Breek uit in gejubel, sing saam, julle verwoeste plekke van Jerusalem; want die Here het sy volk vertroos, Hy het Jerusalem verlos.

31 Die Here het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies; en al die eindes van die aarde sal die heil van ons God sien.