Skrifture
Leer en Verbonde 133


Afdeling 133

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Hiram, Ohio, 3 November 1831. As voorwoord tot hierdie openbaring, verklaar Joseph Smith se geskiedenis, “Op hierdie tydstip was daar vele dinge wat die Ouderlinge begerig was om te weet betreffende die prediking van die Evangelie aan die inwoners van die aarde, en betreffende die versameling; en om in die ware lig te wandel, en onderrig te word van omhoog, het ek op die 3de November 1831, navraag by die Here gedoen en die volgende belangrike openbaring ontvang.” Hierdie afdeling is eers tot die boek van die Leer en Verbonde bygevoeg as ’n aanhangsel en is sedertdien ’n afdelingsnommer toegeken.

1–6, Die Heiliges word gebied om voor te berei vir die Tweede Koms; 7–16, Almal word gebied om van Babilon te vlug, na Sion te kom, en voor te berei vir die groot dag van die Here; 17–35, Hy sal op Berg Sion staan, die vastelande sal een land word, en die verlore stamme van Israel sal terugkeer; 36–40, Die evangelie is deur Joseph Smith herstel om gepreek te word in die hele wêreld; 41–51, Die Here sal in wraak neerkom op die bose; 52–56, Dit sal die jaar van sy verlostes wees; 57–74, Die evangelie moet uitgestuur word om die Heiliges te red en vir die vernietiging van die bose.

1 Slaan ag, o julle volk van my kerk, sê die Here julle God, en hoor die woord van die Here aangaande julle—

2 Die Here sal skielik na sy tempel kom; die Here wat sal neerkom op die wêreld met ’n vloek tot oordeel; ja, op al die nasies wat God vergeet, en op al die goddeloses onder julle.

3 Want Hy sal sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal die heil van hulle God sien.

4 Daarom, berei julle voor, berei julle voor, o my volk; heilig julleself; versamel byeen, o julle volk van my kerk, op die land Sion, al julle wat nie gebied is om te vertoef nie.

5 Gaan julle uit van Babilon. Wees julle skoon wat die voorwerpe van die Here dra.

6 Belê julle plegtige samekomste, en spreek dikwels met mekaar. En laat elkeen die Naam van die Here aanroep.

7 Ja, voorwaar Ek sê weer vir julle, die tyd het gekom wanneer die stem van die Here tot julle is: Gaan julle uit van Babilon; versamel julle van onder die nasies, van die vier winde, van die een einde van die hemel tot die ander.

8 Stuur die ouderlinge van my kerk uit na die nasies wat ver weg is; na die eilande van die see; stuur uit na vreemde lande; doen ’n beroep op alle nasies, eers op die nie-Jode, en dan op die Jode.

9 En kyk, en sien, dit sal hulle geroep wees, en die stem van die Here tot alle volke: Gaan julle uit na die land Sion, sodat die grense van my volk vergroot mag word, en dat haar penne versterk mag word, en sodat Sion mag uitbrei na die streke rondomheen.

10 Ja, laat die geroep uitgaan onder alle volke: Ontwaak en staan op en gaan uit om die Bruidegom te ontmoet; kyk en sien, die Bruidegom kom; gaan julle uit om Hom te ontmoet. Berei julleself voor vir die groot dag van die Here.

11 Waak, daarom, want julle weet nóg die dag, nóg die uur.

12 Laat hulle, daarom, wat onder die nie-Jode is, na Sion vlug.

13 En laat hulle wat van Juda is, vlug na Jerusalem, na die berge van die huis van die Here.

14 Gaan julle uit van onder die nasies, naamlik van Babilon, uit die midde van die boosheid, wat geestelike Babilon is.

15 Maar voorwaar, so sê die Here, laat jou vlug nie inderhaas wees nie. Maar laat alle dinge vooraf voorberei word vir jou; en hy wat gaan, moet nie dat hy terugkyk nie, sodat skielike vernietiging nie oor hom kom nie.

16 Slaan ag en hoor, o julle inwoners van die aarde. Luister, tesame julle ouderlinge van my kerk, en hoor die stem van die Here; want hy doen ’n beroep op alle mense, en hy gebied almal orals om te bekeer.

17 Want kyk, die Here God het ’n engel uitgestuur wat roep deur die midde van die hemel, en sê: Berei julle die weg van die Here, en maak sy paaie reguit, want die uur van sy koms is naby—

18 Wanneer die Lam op Berg Sion sal staan, en saam met Hom ’n honderd vier en veertig duisend, met sy Vader se Naam op hulle voorhoofde geskrywe.

19 Daarom, berei julle voor vir die koms van die Bruidegom; gaan julle, gaan julle uit om Hom te ontmoet.

20 Want kyk, Hy sal op die Olyfberg staan, en op die magtige oseaan, selfs die groot diepte, en op die eilande van die see, en op die land Sion.

21 En Hy sal sy stem uiter vanuit Sion, en Hy sal spreek van Jerusalem, en sy stem sal onder alle mense gehoor word.

22 En dit sal ’n stem wees soos die stem van baie waters, en soos die stem van groot donderweer, wat die berge sal afbreek, en die valleie sal nie gevind word nie.

23 Hy sal die groot dieptes gebied, en dit sal teruggedryf word na die noordelike lande, en die eilande sal een land word;

24 En die land Jerusalem en die land Sion sal na hul eie plek teruggebring word, en die aarde sal wees soos dit was in die dae voor dit verdeel is.

25 En die Here, naamlik die Saligmaker, sal in die midde van sy volk staan, en sal heers oor alle vlees.

26 En hulle wat in die noordelike lande is sal onthou word deur die Here; en hulle profete sal sy stem hoor, en sal hulleself nie langer terughou nie; en hulle sal die rotse slaan, en die ys sal afvloei vanweë hulle teenwoordigheid.

27 En ’n hoofweg sal opgebou word in die midde van die groot dieptes.

28 Hulle vyande sal ’n prooi vir hulle word.

29 En in die barre woestyne sal poele lewende water ontstaan; en die droë grond sal nie langer ’n dorsland wees nie.

30 En hulle sal hulle kosbare skatte na die kinders van Efraim, my diensknegte, bring.

31 En die grense van die ewigdurende berge sal bewe vanweë hul teenwoordigheid.

32 En daar sal hulle neerval en met heerlikheid gekroon word, naamlik in Sion, deur die hande van die diensknegte van die Here, naamlik die kinders van Efraim.

33 En hulle sal gevul wees met liedere van ewigdurende vreugde.

34 Kyk, dit is die seëning van die ewigdurende God op die stamme van Israel, en die ryker seëning op die hoof van Efraim en sy metgeselle.

35 En ook hulle van die stam van Juda, na hulle pyn, sal geheilig word in heiligheid voor die Here, om dag en nag in sy teenwoordigheid te woon, vir ewig en ewig.

36 En nou, voorwaar sê die Here, sodat hierdie dinge onder julle bekend mag wees, o inwoners van die aarde, het Ek my engel uitgestuur wat vlieg in die middel van die hemel, met die ewigdurende evangelie, wat verskyn het aan sommiges en dit aan die mens toevertrou het, wat aan vele sal verskyn wat op die aarde woon.

37 En hierdie evangelie sal gepreek word aan elke nasie, en stam, en taal, en volk.

38 En die diensknegte van God sal uitgaan, en met ’n luide stem sê: Vrees God en gee eer aan Hom, want die uur van sy oordeel het gekom;

39 En aanbid Hom wat die hemel, en die aarde, en die see, en die fonteine van waters gemaak het—

40 Roepende op die Naam van die Here dag en nag, en sê: O dat U die hemele sou skeur, dat U sou neerdaal, dat die berge mag neervloei vanweë u teenwoordigheid.

41 En dit sal op hulle hoofde verhoor word; want die teenwoordigheid van die Here sal wees soos die smeltende vuur wat brand, en soos die vuur wat die waters laat kook.

42 O Here, U sal neerdaal om u Naam aan u teenstanders bekend te maak, en alle nasies sal in u teenwoordigheid bewe.

43 Wanneer U vreeslike dinge doen, dinge wat hulle nie verwag nie;

44 Ja, wanneer U neerdaal, en die berge neervloei vanweë u teenwoordigheid, sal U hom tegemoetgaan wat hom verbly en regverdigheid doen, wat U onthou in u weë.

45 Want sedert die begin van die wêreld het die mens nie gehoor, nóg deur die oor waargeneem, nóg het enige oog gesien, o God, behalwe U, hoe groot dinge U voorberei het vir hom wat op U wag.

46 En dit sal gesê word: Wie is dit wat neerdaal van God in die hemel met gekleurde kleding; ja, van die streke wat nie bekend is nie, geklee in sy wonderlike gewaad, wat voortbeweeg in die grootheid van sy krag?

47 En Hy sal sê: Ek is Hy wat in regverdigheid gespreek het, magtig om te red.

48 En die Here sal rooi wees in sy gewaad, en sy kleding soos hom wat die wynpers trap.

49 En so groot sal die heerlikheid wees van sy teenwoordigheid dat die son sy gesig in skaamte sal verberg, en die maan sal sy lig weerhou, en die sterre sal uit hulle plekke gewerp word.

50 En sy stem sal gehoor word: Ek het die wynpers alleen getrap, en het oordeel oor alle mense gebring; en niemand was by My nie.

51 En Ek het hulle vertrap in my woede, en Ek het op hulle getrap in my toorn, en hulle bloed het Ek op my kleding gesprinkel, en al my klere bevlek; want dit was die dag van wraak wat in my hart was.

52 En nou, die jaar van my verlostes het gekom; en hulle sal na die liefdevolle teerheid van hulle Here verwys, en alles wat Hy hulle geskenk het ooreenkomstig sy goedertierenheid, en ooreenkomstig sy liefdevolle teerheid, vir ewig en ewig.

53 In al hulle verdrukkings was Hy verdruk. En die engel van sy teenwoordigheid het hulle gered; en deur sy liefde en deur sy medelye, het Hy hulle verlos, en hulle opgehef, en hulle gedra al die dae van ouds;

54 Ja, en Henog ook, en hulle wat by hom was; die profete wat voor hom was; en Noag ook, en hulle wat voor hom was; en Moses ook, en hulle wat voor hom was;

55 En van Moses tot Elía, en van Elía tot Johannes, wat met Christus was in sy opstanding, en die heilige apostels, met Abraham, Isak en Jakob, sal in die teenwoordigheid van die Lam wees.

56 En die grafte van die heiliges sal geopen word; en hulle sal uitkom en aan die regterhand van die Lam staan, wanneer Hy op Berg Sion sal staan, en op die heilige stad, die Nuwe Jerusalem; en hulle sal die lied van die Lam sing, dag en nag, vir ewig en ewig.

57 En om hierdie rede, sodat die mens deelgenote gemaak mag word van die heerlikhede wat openbaar sou word, het die Here die volheid van sy evangelie uitgestuur, sy ewigdurende verbond, en redeneer in duidelikheid en eenvoud—

58 Om die swakkes voor te berei vir daardie dinge wat na die aarde kom, en vir die Here se opdrag op die dag wanneer die swakkes die wyses sal verneder, en die kleintjie sal ’n sterk nasie word, en twee sal hulle tienduisende laat vlug.

59 En deur die swak dinge van die aarde sal die Here die nasies dors deur die mag van sy Gees.

60 En om hierdie rede is hierdie gebooie gegee; hulle is gebied om teruggehou te word van die wêreld op die dag waarop dit gegee is, maar hulle moet nou uitgaan na alle vlees—

61 En dit ooreenkomstig die verstand en wil van die Here, wat oor alle vlees heers.

62 En aan hom wat bekeer en homself heilig voor die Here sal die ewige lewe gegee word.

63 En aan hulle wat nie ag slaan op die stem van die Here nie, sal vervul word dít waarvan geskryf is deur die profeet Moses, dat hulle van onder die volk afgesny sal word.

64 En ook dit wat geskryf is deur die profeet Maleági: Want, kyk, die dag kom wat sal brand soos ’n oond, en al die hoogmoediges, ja, en almal wat booslik handel, sal soos stoppels wees; en die dag wat kom sal hulle verbrand, sê die Here van die Leërskare, dat dit hulle nóg wortel nóg tak sal oorlaat.

65 Daarom, dit sal die antwoord van die Here aan hulle wees:

66 Op daardie dag wat Ek na my eie gekom het, het niemand onder julle My aanvaar nie, en julle is uitgedryf.

67 Toe Ek weer geroep het, was daar niemand van julle om te antwoord nie; tog is my arm hoegenaamd nie verkort sodat Ek nie kon verlos nie, nóg my mag om te red.

68 Kyk, op my bestraffing droog Ek die see op. Ek maak die riviere ’n wildernis; hulle visse stink en sterf van dors.

69 Ek beklee die hemele met swartheid, en Ek maak ’n roukleed hul bedekking.

70 En dit sal julle hê uit my hand—julle sal neerlê in smart.

71 Kyk, en sien, daar is niemand om julle te verlos nie; want julle het nie my stem gehoorsaam toe Ek julle uit die hemele geroep het nie; julle het nie my diensknegte geglo nie, en toe hulle na julle gestuur is, het julle hulle nie aanvaar nie.

72 Daarom, hulle het die getuienis verseël en die wet toegebind, en julle is oorgegee aan die duisternis.

73 Hulle sal weggaan na die buitenste duisternis, waar daar ’n geween is, en ’n geklaag en ’n gekners van tande.

74 Kyk, die Here julle God het dit gespreek. Amen.