Skrifture
Leer en Verbonde 18


Afdeling 18

Openbaring gegee aan Joseph Smith die Profeet, Oliver Cowdery en David Whitmer, te Fayette, New York, Junie 1829. Volgens die Profeet het hierdie openbaring “Die roeping van twaalf apostels in hierdie laaste dae bekend gemaak, en ook opdragte met betrekking tot die opbou van die Kerk gegee.”

1–5, Die skrifture dui aan hoe om die Kerk op te bou; 6–8, Die wêreld word ryp in ongeregtigheid; 9–16, Die waarde van siele is groot; 17–25, Om heil te verkry, moet mense die Naam van Christus op hulle neem; 26–36, Die roeping en sending van die Twaalf word geopenbaar; 37–39, Oliver Cowdery en David Whitmer moet die Twaalf soek; 40–47, Om heil te verkry moet mense bekeer, gedoop word en die gebooie onderhou.

1 Nou, kyk, vanweë die ding wat jy, my dienskneg Oliver Cowdery, begeer het om van my te weet, gee Ek aan jou hierdie woorde:

2 Kyk, Ek het aan jou geopenbaar, deur my Gees by vele geleenthede, dat die dinge wat jy geskryf het waar is; daarom, jy weet dat hulle waar is.

3 En aangesien jy weet dat hulle waar is, kyk, Ek gee aan jou ’n gebod, dat jy staatmaak op die dinge wat geskrywe is;

4 Want in hulle is alle dinge geskrywe aangaande die fondament van my kerk, my evangelie en my rots.

5 Daarom, as jy my kerk sal opbou, op die fondament van my evangelie en my rots, sal die poorte van die hel nie seëvier oor jou nie.

6 Kyk, die wêreld word ryp in ongeregtigheid; en dit moet noodwendig wees dat die kinders van mense aangespoor word tot bekering, beide die nie-Jode en ook die huis van Israel.

7 Daarom, aangesien jy gedoop is deur die hande van my dienskneg Joseph Smith, Jr., ooreenkomstig dit wat Ek hom gebied het, het hy die ding vervul wat Ek hom gebied het.

8 En nou, verwonder jou nie dat Ek hom geroep het vir my eie doel nie, welke doel bekend is aan My; daarom; as hy sal ywerig wees om my gebooie te onderhou, sal hy geseënd wees met die ewige lewe; en sy naam is Joseph.

9 En nou, Oliver Cowdery, Ek spreek met jou, en ook met David Whitmer, by wyse van gebod; want kyk, Ek gebied alle mense orals om te bekeer, en Ek spreek tot julle, net soos met Paulus my apostel, want julle is geroep, en wel met dieselfde roeping waarmee hy geroep is.

10 Onthou die waarde van siele is groot in die oë van God;

11 Want, kyk, die Here julle Verlosser het die dood gely in die vlees; daarom, Hy het die pyn gely van alle mense, sodat alle mense mag bekeer en na Hom kom.

12 En Hy het weer opgestaan uit die dood, sodat Hy alle mense na Hom mag bring, op voorwaarde van bekering.

13 En hoe groot is sy vreugde oor die siel wat bekeer!

14 Daarom, julle word geroep om bekering te verkondig aan hierdie volk.

15 En as dit so sou wees dat julle al julle dae arbei om bekering te verkondig aan hierdie volk, en slegs een siel na My bring, hoe groot sal julle vreugde wees met hom in die koninkryk van my Vader!

16 En nou, as julle vreugde groot sal wees met een siel wat julle gebring het na My in die koninkryk van my Vader, hoe groot sal julle vreugde wees as julle baie siele na My sou bring!

17 Kyk, julle het my evangelie voor julle, en my rots, en my heil.

18 Vra die Vader in my Naam in geloof, en glo dat julle sal ontvang, en julle sal die Heilige Gees hê, wat alle dinge openbaar wat raadsaam is vir die kinders van mense.

19 En as julle nie geloof, hoop en naasteliefde het nie, kan julle niks doen nie.

20 Stry nie met enige kerk nie, behalwe die kerk van die duiwel.

21 Neem op julle die Naam van Christus, en spreek die waarheid in erns.

22 En soveel as wat bekeer en gedoop word in my Naam, wat Jesus Christus is, en volhard tot die einde, hulle sal gered word.

23 Kyk, Jesus Christus is die Naam wat gegee is deur die Vader, en daar is geen ander naam gegee waardeur die mens gered kan word nie.

24 Daarom, alle mense moet op hulle die naam neem wat gegee is deur die Vader, want volgens daardie naam sal hulle genoem word op die laaste dag;

25 Daarom, as hulle nie die naam ken waarby hulle genoem word nie, kan hulle nie plek hê in die koninkryk van my Vader nie.

26 En nou, kyk, daar is andere wat geroep word om my evangelie te predik, beide tot die nie-Jood en tot die Jood;

27 Ja, naamlik twaalf; en die Twaalf sal my dissipels wees, en hulle sal op hulle my Naam neem; en die Twaalf is hulle wat sal begeer om op hulle my Naam te neem met volle voorneme van hart.

28 En as hulle begeer om op hulle my Naam te neem met volle voorneme van hart, word hulle geroep om in die hele wêreld te gaan om my evangelie te preek aan elke skepsel.

29 En dit is hulle wat deur My geordineer is om te doop in my Naam, volgens dit wat geskryf is;

30 En julle het dit wat geskryf is voor julle; daarom, julle moet dit uitvoer volgens die woorde wat geskryf is.

31 En nou spreek Ek tot julle, die Twaalf—Kyk, my genade is voldoende vir julle; julle moet opreg wandel voor My en nie sondig nie.

32 En, kyk, julle is hulle wat geordineer is deur My om priesters en leraars te ordineer; om my evangelie te verkondig, volgens die mag van die Heilige Gees wat in julle is, en volgens die roepings en gawes van God aan die mens.

33 En Ek, Jesus Christus, julle Here en julle God, het dit gespreek.

34 Hierdie woorde is nie van die mens of ’n man nie, maar van My; daarom, julle sal getuig dat hulle van My is en nie van die mens nie.

35 Want dit is my stem wat dit spreek tot julle; want hulle word gegee deur my Gees aan julle, en deur my krag kan julle dit vir mekaar lees; en behalwe deur my krag kon julle dit nie hê nie.

36 Daarom, julle kan getuig dat julle my stem gehoor het, en my woorde ken.

37 En nou, kyk, Ek gee aan jou, Oliver Cowdery, en ook aan David Whitmer, dat julle die Twaalf moet soek, wat die begeertes sal hê waarvan Ek gespreek het.

38 En deur hulle begeertes en hulle werke sal julle hulle ken.

39 En wanneer julle hulle gevind het, sal julle hierdie dinge aan hulle toon.

40 En julle sal neerval en die Vader aanbid in my Naam.

41 En julle moet vir die wêreld preek, en sê: Julle moet bekeer en gedoop word, in die Naam van Jesus Christus;

42 Want alle mense moet bekeer en gedoop word, en nie slegs mans nie, maar vroue en kinders wat die ouderdom van toerekenbaarheid bereik het.

43 En nou, nadat julle dit ontvang het, moet julle my gebooie onderhou in alle dinge.

44 En deur julle hande sal Ek ’n wonderbaarlike werk doen onder die kinders van mense, tot die oortuiging van baie van hulle sondes, sodat hulle mag kom tot bekering, en sodat hulle mag kom tot die koninkryk van my Vader.

45 Daarom, die seëninge wat Ek aan julle gee is bo alle dinge.

46 En nadat julle dit ontvang het, as julle nie my gebooie onderhou nie, kan julle nie gered word in die koninkryk van my Vader nie.

47 Kyk, Ek, Jesus Christus, julle Here en julle God, en julle Verlosser, deur die krag van my Gees het dit gespreek. Amen.