Skrifture
Leer en Verbonde 38


Afdeling 38

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, te Fayette, New York, 2 Januarie 1831. Die geleentheid was ’n konferensie van die Kerk.

1–6, Christus het alle dinge geskape; 7–8, Hy is in die midde van sy Heiliges, wat Hom spoedig sal sien; 9–12, Alle vlees is verdorwe voor Hom; 13–22, Hy het ’n land van belofte gereserveer vir sy Heiliges in tyd en in ewigheid; 23–27, Die Heiliges word gebied om een te wees en mekaar as broers te beskou; 28–29, Oorloë word voorspel; 30–33, Die Heiliges sal krag gegee word van omhoog en om uit te gaan onder alle nasies; 34–42, Die Kerk word gebied om te sorg vir die armes en behoeftiges en om die rykdomme van die ewigheid te soek.

1 So sê die Here jou God, naamlik Jesus Christus, die Groot Ek Is, Alfa en Omega, die begin en die einde, hy wat gekyk het na die wye uitgestrektheid van die ewigheid, en al die serafynse leërskare van die hemel, voor die wêreld gemaak was;

2 Hy wat alle dinge weet, want alle dinge is aanwesig voor my oë;

3 Ek is Hy wat gespreek het, en die wêreld is gemaak, en alle dinge het deur My gekom.

4 Ek is Hy wat die Sion van Henog na my eie boesem geneem het; en voorwaar, Ek sê, en wel soveel as wat geglo het in my Naam, want Ek is Christus, en in my eie Naam, deur die krag van die bloed wat Ek gestort het, het Ek gepleit voor die Vader vir hulle.

5 Maar kyk, die oorblyfsel van die bose het Ek in kettings van duisternis gehou tot die oordeel van die groot dag, wat sal kom aan die einde van die aarde;

6 En net so sal Ek die bose laat hou, wat nie my stem wil hoor nie, maar hulle harte verhard, en wee, wee, wee, is hulle lot.

7 Maar kyk, voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat my op julle is. Ek is in julle midde en julle kan My nie sien nie;

8 Maar die dag kom spoedig dat julle My sal sien, en weet dat Ek is; want die sluier van duisternis sal spoedig geskeur word, en hy wat nie gesuiwer is nie, sal nie die dag verduur nie.

9 Daarom, omgord julle lendene en wees voorbereid. Kyk, die koninkryk is julle s’n, en die vyand sal nie oorwin nie.

10 Voorwaar, Ek sê vir julle, julle is rein, maar nie almal nie; en daar is niemand anders in wie Ek ’n welbehae het nie;

11 Want alle vlees is verdorwe voor My; en die magte van die duisternis heers op die aarde, onder die kinders van mense, in die teenwoordigheid van al die leërskare van die hemel—

12 Wat stilte laat heers, en alle ewigheid is gepynig, en die engele wag op die groot bevel om die aarde af te maai, om die onkruid bymekaar te maak sodat dit verbrand mag word; en, kyk, die vyand is verenig.

13 En nou toon Ek aan julle ’n verborgenheid, ’n ding wat bestaan in binnekamers, om selfs julle eie vernietiging te weeg te bring na verloop van tyd, en julle het dit nie geweet nie;

14 Maar nou vertel Ek dit vir julle, en julle is geseënd, nie vanweë jul ongeregtigheid nie, nóg julle harte van ongeloof; want voorwaar sommige van julle is skuldig voor My, maar Ek sal barmhartig wees teenoor jul swakheid.

15 Daarom, julle moet sterk wees van nou af; vrees nie, want die koninkryk is julle s’n.

16 En vir julle heil gee Ek aan julle ’n gebod, want Ek het julle gebede gehoor, en die armes het voor My gekla, en die rykes het Ek gemaak, en alle vlees is myne, en Ek is geen aannemer van die persoon nie.

17 En Ek het die aarde ryk gemaak, en kyk dit is my voetbank, daarom, Ek sal weer daarop staan.

18 En Ek hou uit en dit behaag My om aan julle groter rykdomme te gee, naamlik ’n land van belofte, ’n land vloeiende van melk en heuning, waarop daar geen vervloeking sal wees wanneer die Here kom nie;

19 En Ek sal dit aan julle gee vir die land van jul erfenis, as julle dit soek met julle hele hart.

20 En dit sal my verbond wees met julle, julle sal dit hê vir die land van jul erfenis, en vir die erfenis van julle kinders vir ewig, terwyl die aarde sal staan, en julle sal dit weer besit in die ewigheid, om nie weer weg te gaan nie.

21 Maar, voorwaar, Ek sê vir julle, dat julle mettertyd geen koning nóg heerser sal hê, want Ek sal julle koning wees en waak oor julle.

22 Daarom, hoor my stem en volg My, en julle sal ’n vrye volk wees, en julle sal geen wette hê behalwe my wette nie wanneer Ek kom, want Ek is julle wetgewer, en wat kan my hand keer?

23 Maar, voorwaar Ek sê vir julle, onderrig mekaar ooreenkomstig die amp waarin Ek julle aangestel het;

24 En laat elkeen sy broer ag soos homself, en beoefen deugsaamheid en heiligheid voor My.

25 En weer, Ek sê vir julle, laat elkeen sy broer ag soos homself.

26 Want watter mens onder julle wat twaalf seuns het, en nie ’n aannemer van die persoon is nie, en hulle dien hom gehoorsaam, en hy sê vir die een: Wees geklee in ’n kleed en sit jy hier; en vir die ander: Wees gekleed in stukkende klere en sit jy daar—en aanskou sy seuns en sê ek is regverdig?

27 Kyk, Ek het dit aan julle gegee as ’n gelykenis, en dit is net soos Ek is. Ek sê vir julle, wees een; en as julle nie een is nie, is julle nie myne nie.

28 En weer, Ek sê vir julle dat die vyand in die binnekamers julle lewens soek.

29 Julle hoor van oorloë in verre lande, en julle sê dat daar binnekort groot oorloë sal wees in verre lande, maar julle ken nie die harte van mense in julle eie land nie.

30 Ek vertel julle hierdie dinge vanweë jul gebede; daarom, bewaar wysheid in julle boesem, sodat die boosheid van mense nie hierdie dinge aan julle openbaar deur hul boosheid nie, op ’n wyse wat sal spreek in jul ore met ’n stem harder as dit wat die aarde sal skud; maar as julle voorbereid is, sal julle nie vrees nie.

31 En sodat julle die krag van die vyand mag ontsnap, en versamel word as ’n regverdige volk tot my, sonder vlek en skuldeloos—

32 Daarom, om hierdie rede het Ek aan julle die gebod gegee dat julle na die Ohio moet gaan; en daar sal Ek aan julle my wet gee; en daar sal julle begiftig word met krag van omhoog;

33 En van daar, wie ook al Ek wil, sal uitgaan onder alle nasies, en dit sal aan hulle gesê word wat hulle moet doen; want Ek het ’n groot werk wat gereed is, want Israel sal gered word, en Ek sal hulle lei waarheen Ek wil, en geen krag sal my hand keer nie.

34 En nou, Ek gee aan die kerk in hierdie streke ’n gebod dat sekere mans onder hulle aangestel sal word, en hulle sal aangestel word deur die stem van die kerk;

35 En hulle sal omsien na die armes en behoeftiges, en in hulle behoeftes voorsien, sodat hulle nie sal ly nie; en stuur hulle uit na die plek waarheen Ek hulle gebied het.

36 En dit sal hulle werk wees, om die sake van die eiendom van hierdie kerk te bestuur.

37 En hulle wat plase het wat nie verkoop kan word nie, laat hulle agter of verhuur hulle soos hulle goeddink.

38 Sien toe dat alle dinge bewaar word; en wanneer mense begiftig word met krag van omhoog en uitgestuur word, sal al hierdie dinge versamel word na die boesem van die kerk.

39 En as julle die rykdomme soek, wat die wil van die Vader is om aan julle te gee, sal julle die rykste van alle volke wees, want julle sal die rykdomme van die ewigheid hê; en dit moet noodwendig wees dat die rykdomme van die aarde myne is om te gee; maar waak teen hoogmoed, sodat julle nie soos die Nefiete van ouds word nie.

40 En weer, Ek sê vir julle, Ek gee aan julle ’n gebod, dat elke mens, beide ouderling, priester, leraar, en ook lid, begin met sy mag, met die arbeid van sy hande, om voor te berei en die dinge te volbring wat Ek gebied het.

41 En laat julle prediking ’n waarskuwende stem wees, elke mens aan sy naaste, in sagaardigheid en sagmoedigheid.

42 En gaan weg uit die midde van die bose. Red julleself. Wees julle rein wat die heilige voorwerpe van die Here dra. Dit is so. Amen.