Skrifture
Leer en Verbonde 7


Afdeling 7

Openbaring gegee aan Joseph Smith die Profeet en Oliver Cowdery, te Harmony, Pennsilvanië, April 1829, toe hulle navraag gedoen het deur die Urim en Tummim of Johannes, die geliefde dissipel, vertoef het in die vlees of gesterf het. Die openbaring is ’n vertaalde weergawe van die kroniek gemaak op perkament deur Johannes en deur hom versteek.

1–3, Johannes die Geliefde sal lewe tot die Here kom; 4–8, Petrus, Jakobus en Johannes hou die sleutels van die evangelie.

1 En die Here het vir my gesê: Johannes, my geliefde, wat begeer jy? Want as jy vra wat jy wil, sal dit aan jou gegee word.

2 En ek het vir Hom gesê: Here, gee aan my mag oor die dood, sodat ek mag lewe en siele na U bring.

3 En die Here het vir my gesê: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, omdat jy dit begeer, sal jy vertoef tot Ek kom in my heerlikheid, en sal profeteer voor nasies, stamme, tale en volke.

4 En om hierdie rede het die Here vir Petrus gesê: As Ek wil hê dat hy vertoef totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Want hy het van my begeer dat hy siele na my mag bring, maar jy het begeer dat jy spoedig na My in my koninkryk kom.

5 Ek sê vir jou, Petrus, dit was ’n goeie begeerte; maar my geliefde het begeer dat hy meer mag doen, of ’n nóg groter werk onder mense as wat hy voorheen gedoen het.

6 Ja, hy het ’n groter werk onderneem; daarom sal Ek hom maak soos ’n vlammende vuur en ’n bedienende engel; hy sal diegene dien wat heil sal beërwe wat op die aarde woon.

7 En Ek sal jou aanstel om hom te dien en vir jou broer Jakobus; en aan julle drie sal Ek hierdie krag gee en die sleutels van hierdie bediening totdat Ek kom.

8 Voorwaar Ek sê vir julle, julle sal albei ontvang volgens julle begeertes, want julle albei verbly julle in dit wat julle begeer het.