Studiehulp
JSV, Openbaring 1


JSV, Openbaring 1:1–8. Vergelyk Openbaring 1:1–8

Johannes die Apostel ontvang die profesieë in die boek van Openbaring. Hy word besoek deur Jesus Christus en deur ’n engel.

1 Die Openbaring van Johannes, ’n dienskneg van God, wat aan hom gegee is deur Jesus Christus om aan sy diensknegte dinge te toon wat binnekort sal plaasvind, wat Hy gestuur en aangedui het deur sy engel aan sy dienskneg Johannes.

2 Wat getuienis gelewer het van die woord van God en van die getuienis van Jesus Christus en van alle dinge wat hy gesien het.

3 Geseënd is hulle wat lees en hulle wat die woorde van hierdie profesie hoor en verstaan en daardie dinge onderhou wat daarin geskryf is, want die tyd van die koms van die Here kom nader.

4 Nou, dit is die getuienis van Johannes aan die sewe diensknegte wat oor die sewe kerke in Asië is. Genade vir julle en vrede van Hom wat is, en wat was en wat sal kom; wat sy engel uitgestuur het van voor sy troon om te getuig aan diegene wat die sewe diensknegte oor die sewe kerke is.

5 Daarom, lewer ek, Johannes, die getroue getuie, getuienis van die dinge wat aan my gegee is deur die engel, en van Jesus Christus die eersgeborene van die dode, en die Prins van die konings van die aarde.

6 En aan Hom wat ons liefgehad het, kom die eer toe; wat ons gewas het van ons sondes in sy eie bloed, en ons konings en priesters vir God gemaak het, sy Vader. Aan Hom die heerlikheid en heerskappy, vir ewig en ewig. Amen.

7 Want kyk, Hy kom in die wolke met tienduisende van sy heiliges in die koninkryk, beklee met die heerlikheid van sy Vader. En elke oog sal Hom sien; en hulle wat Hom deursteek het, en al die stamme van die aarde sal weeklaag vanweë Hom. Dit is so. Amen.

8 Want Hy het gesê, Ek is Alfa en Omega, die begin en die einde, die Here, wat is, en wat was, en wat sal kom, die Almagtige.