2016
Dankbaarheid op die Sabbatdag
November 2016


Eerste Presidentskap-boodskap, November 2016

Dankbaarheid op die Sabbatdag

Vir Heiliges van die Laaste Dae is die Sabbat ʼn dag van dankbaarheid en liefde.

My geliefde broers en susters wat oor die wêreld versprei is in die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, ek is dankbaar dat President Thomas S. Monson my gevra het om te praat in konferensie op hierdie Sabbatdag. Ek bid dat die Heilige Gees my woorde in julle harte sal indra.

Ek wil graag vandag praat oor gevoelens van die hart. Die een waarop ek gaan fokus is op dankbaarheid—in besonder op die Sabbatdag.

Ons voel dankbaar vir baie dinge: goedhartigheid van ʼn vreemdeling, ʼn ete as ons honger is, ʼn droë dak oor ons koppe wanneer storms opkom, ʼn gebreekte been wat gesond word, en die luide gehuil van ʼn pasgebore baba. Baie van ons sal gevoelens van dankbaarheid onthou tydens sulke oomblikke.

Vir Heiliges van die Laaste Dae is die Sabbat só ʼn oomblik, eintlik ʼn dag van dankbaarheid en liefde. Die Here het die Heiliges in Jackson-distrik, Missouri in 1831 geleer dat hulle gebede en dank hemelwaarts gerig moet wees. Die vroeë Heiliges is ʼn openbaring gegee oor hoe om die Sabbatdag te hou en hoe om te vas en te bid.1

Hulle, en ons, is deur die Here vertel hoe om te aanbid en dank te betuig op die Sabbat. Soos u kan besef, wat die meeste saak maak is die liefde wat ons voel vir die gewers van die geskenke. Hier is die Here se woorde oor hoe om dank te betuig en hoe om lief te hê op die Sabbat:

“Daarom, Ek gee aan hulle ʼn gebod, en sê aldus: Jy sal die Here jou God liefhê met jou hele hart, met al jou mag, verstand, en krag; en in die Naam van Jesus Christus sal jy hom dien. …

“Jy sal die Here jou God dank in alle dinge.

“Jy sal ʼn offer bring aan die Here jou God in regverdigheid, naamlik dit van ʼn gebroke hart en ʼn berouvolle gees.”2

En dan gaan die Here voort om te waarsku van gevaar sou ons faal om Hemelse Vader en Jesus Christus te dank as die gewers van die gawes: “En in niks gee die mens aanstoot aan God nie, of teen niemand is sy toorn ontvlam nie, behalwe hulle wat nie sy hand erken in alle dinge nie, en nie sy gebooie onderhou nie.”3

Baie van u wat luister het alreeds geluk gevind in die Sabbat as ʼn dag om te onthou en dank aan God te betuig vir seëninge. U onthou die bekende liedjie:

When upon life’s billows you are tempest-tossed,

When you are discouraged, thinking all is lost,

Count your many blessings; name them one by one,

And it will surprise you what the Lord has done.

Count your blessings;

Name them one by one.

Count your blessings;

See what God hath done. …

Are you ever burdened with a load of care?

Does the cross seem heavy you are called to bear?

Count your many blessings; ev’ry doubt will fly,

And you will be singing as the days go by.4

Ek ontvang briewe en besoeke van getroue Heiliges van die Laaste Dae wat belas voel met ʼn vrag bekommernisse. Sommiges is ná aan die gevoel dat, ten minste vir hulle, alles verlore is. Ek hoop en bid dat wat ek sê oor dankbaar wees op die Sabbat sal help om twyfel te laat vlug en vir sang om in u harte te begin.

Een seëning waarvoor ons dankbaar kan wees, is dat ons hoegenaamd daar in die nagmaalsvergadering is saam met meer as een of twee van sy dissipels in sy Naam. Daar is sommiges tuis wat nie in staat is om uit hulle beddens op te staan nie. Daar is sommiges wat graag sou wees waar ons is, maar is in plek daarvan besig om in hospitale te dien en openbare veiligheid te voorsien, of andere waag hulle lewens om ons te verdedig iewers in ʼn woestyn of oerwoud. Die feit dat ons in staat is om bymekaar te kom met selfs één ander Heilige en die nagmaal kan gebruik sal ons help om te begin om dankbaarheid en liefde vir God se goedheid te voel.

As gevolg van die Profeet Joseph Smith en die herstelde evangelie, is ʼn ander seëning wat ons kan tel, die geleentheid wat ons het om die nagmaal elke week te gebruik—voorberei, geseën en bedien deur gemagtigde dienaars van God. Ons kan dankbaar wees wanneer die Heilige Gees aan ons bevestig dat die woorde van die nagmaalsgebed, gegee deur daardie gemagtigde priesterskapdraers, deur Hemelse Vader eerbiedig word.

Van al die seëninge wat ons kan tel, is verreweg die grootste die gevoel van vergifnis wat kom as ons die nagmaal gebruik. Ons sal groter liefde en waardering vir die Verlosser voel, wie se oneindige opoffering dit moontlik gemaak het dat ons van sonde gereinig kan word. As ons die brood en water gebruik, onhou ons dat Hy vir ons gely het. En wanneer ons dankbaarheid voel vir wat Hy vir ons gedoen het, sal ons sy liefde vir ons en ons liefde vir Hom voel.

Die seëning van liefde wat ons ontvang sal dit makliker maak vir ons om die gebod om “Hom altyd te onthou” te onderhou.5 U mag selfs liefde en dankbaarheid voel, soos ek, vir die Heilige Gees, wat Hemelse Vader belowe het altyd met ons sal wees as ons getrou bly aan die verbonde wat ons gemaak het. Ons kan elke Sondag al daardie seëninge tel en dankbaar voel.

Die Sabbat is ook ʼn perfekte tyd om die verbond wat ons by ons doop gesluit het om Hemelse Vader se kinders lief te hê en te dien, te onthou. Om daardie belofte op die Sabbat te vervul sal insluit om deel te neem aan ʼn klas of kworum doelgerig om geloof en liefde te bou onder ons broers en susters wat daar saam met ons is. Daardie belofte sal insluit om ons roepinge blymoedig te vervul.

Ek is dankbaar vir die baie Sondae wat ek ʼn diakenskworum in Bountiful, Utah, onderrig het, asook ʼn Sondagskoolklas in Idaho. Ek onthou selfs die kere wat ek gedien het as ʼn assistent vir my vrou in die kleuterklas, waar my hooftaak was om speelgoed uit te deel en op te tel.

Dit was jare voor ek deur die Gees besef het dat my eenvoudige diens vir die Here saak gemaak het in die lewens van Hemelse Vader se kinders. Tot my verbasing het party van hulle onthou en my bedank vir my beginpogings om hulle te dien vir die Meester op daardie Sabbatdae.

Net soos ons soms nie die resultate kan sien van ons eie diens wat ons op die Sabbat gegee het nie, mag ons dalk nie die kumulatiewe effek van ander dienaars van die Here sien nie. Maar die Here is besig om stilweg sy koninkryk te bou deur sy getroue en nederige dienaars, met min trompetgeskal, na sy glorieryke millenniale toekoms. Dit neem die Heilige Gees om die groeiende grootsheid te sien.

Ek het groot geword in nagmaaldienste in ʼn klein tak in New Jersey met net ʼn paar lede en een familie, my eie. Ek is vyf-en-sewentig jaar gelede gedoop in Philadelphia in die enigste kapel wat deur die Kerk gebou is, waarby ons in Pennsylvania of New Jersey kon uitkom. Tog, waar daar een klein takkie in Princeton, New Jersey was, is daar nou twee groot wyke. Net ʼn paar dae gelede het duisende jongmense opgetree in ʼn feesviering wat die toewyding van die Philadelphia Pennsylvania-tempel voorafgegaan het.

As ʼn jong man is ek geroep as ʼn distrik-sendeling waar ons Sondae in die enigste kapel in Albuquerque, New Mexico aanbid het. Vandag is daar ʼn tempel en vier penne.

Ek het Albuquerque verlaat om kollege toe te gaan in Cambridge, Massachusetts. Daar was een kapel en ʼn distrik wat oor ʼn groot deel van Massachusetts en Rhode Island gestrek het. Ek het deur die heuwels van daardie pragtige land gery na nagmaaldienste in klein takkies, meeste in klein gehuurde fasiliteite of klein herboude huisies. Nou is daar ʼn heilige tempel van God in Belmont, Massachusetts, en penne wat oor die platteland versprei is.

Wat ek toe nie duidelik kon sien nie was dat die Here sy Gees oor mense in daardie klein nagmaaldienste uitgestort het. Ek kon dit voel, maar ek kon nie die mate en die tydsberekening van die Here se plan sien om sy koninkryk te bou en te verheerlik nie. ʼn Profeet het deur openbaring gesien en opgeteken wat ons nou vir onsself kan sien. Nefi het gesê dat ons totale getal nie baie groot sou wees nie, maar dat die kumulatiewe lig iets sou wees om te aanskou:

“En dit het gebeur dat ek die kerk van die Lam van God gesien het, en sy getalle was klein. …

En dit het gebeur dat ek, Nefi, die krag van die Lam van God gesien het, dat dit neergedaal het op die heiliges van die kerk van die Lam, en op die verbondsvolk van die Here, wat verstrooi was oor die hele aangesig van die aarde; en hulle was bewapen met geregtigheid, en met die krag van God in groot heerlikheid.”6

In hierdie tydvak is ʼn soortgelyke profetiese beskrywing van ons toestand en die geleenthede vorentoe opgeteken in die Leer en Verbonde:

“Julle verstaan nog nie hoe groot die seёninge is wat die Vader in sy eie hande het en vir julle berei het nie;

“En julle kan nie alles nou verduur nie; maar hou moed, want Ek sal julle voortlei. Die koninkryk behoort aan julle en die seëninge daarvan behoort aan julle, en die rykdomme van die ewigheid behoort aan julle.

“En hy wat alle dinge met dankbaarheid ontvang sal verheerlik word; en die dinge van hierdie aarde sal aan hom toegevoeg word, ja selfs ’n honderdvoudig, ja, meer.”7

Ek het daardie transformasie van groeiende dankbaarheid vir seëninge en ʼn liefde vir God gevoel toeneem dwarsdeur die Kerk. Dit blyk of dit versnel onder lede van die Kerk in tye en plekke waar daar toetse van hulle geloof is, waar hulle moet pleit voor God om hulp om net te kan aangaan.

Die tye waardeur ons sal gaan sal moeilike toetse hê, soos hulle vir die mense van Alma onder die wrede Amulon gehad het, wat laste op hul rûe geplaas het wat te swaar was vir hulle om te dra:

“En dit het gebeur dat die stem van die Here tot hulle gekom het in hulle verdrukkinge, en gesê het: Rig julle hoofde op en hou moed, want Ek weet van die verbond wat julle met my aangegaan het; en Ek sal ʼn verbond sluit met my volk en hulle verlos uit gevangenskap.

“En Ek sal ook die laste verlig wat op julle skouers geplaas word, en wel dat julle hulle nie kan voel op julle rûe nie, selfs terwyl julle in gevangenskap is; en dit sal ek doen sodat julle hierna mag staan as getuies vir My, en sodat julle vir seker mag weet dat Ek, die Here God, tog my volk besoek in hulle verdrukkinge.

“En nou het dit gebeur dat die laste wat op Alma en sy broers gelê was, lig gemaak is; ja, die Here het hulle versterk dat hulle hul laste met gemak kon dra, en hulle het blymoedig en met geduld hulle onderwerp aan die ganse wil van die Here.”8

U en ek is getuies dat wanneer ons ons verbonde met God gehou het, veral wanneer dit moeilik was, het Hy ons gebede van dank vir wat Hy alreeds vir ons gedoen het gehoor en het ons gebed vir krag om getrou uit te hou beantwoord. En meer as een keer het Hy ons opgeruimd sowel as sterk gemaak.

U mag wel wonder wat u kan doen om op hierdie Sabbatdag te lewe en te aanbid om ons dankbaarheid te toon en om uself en andere te versterk vir die beproewinge wat voorlê.

U kan vandag begin met ʼn privaat- en familiegebed van dank vir alles wat God vir u gedoen het. U kan bid om te weet wat die Here wil hê u moet doen om Hom en andere te dien. In besonder kan u bid dat die Heilige Gees u sal vertel van iemand wat eensaam of in nood is na wie die Here wil hê u moet gaan.

Ek kan u belowe dat u gebede beantwoord sal word, en as u reageer op die antwoorde wat u sal ontvang, sal u geluk vind in die Sabbat, en u hart sal oorloop van dankbaarheid.

Ek getuig dat God die Vader u ken en u liefhet. Die Verlosser, die Here Jesus Christus, het vir u sondes versoening gedoen uit liefde vir u. Hulle, die Vader en die Seun, ken u naam soos Hulle die naam van die Profeet Joseph Smith geken het toe Hulle aan hom verskyn het. Ek getuig dat hierdie die Kerk van Jesus Christus is en dat Hy die verbonde wat u maak en met God hernu sal eer. U geaardheid sal verander om meer soos die Verlosser te word. U sal versterk word teen versoekinge en teen gevoelens van twyfel oor die waarheid. U sal vreugde vind in die Sabbat. Ek belowe u dit in die naam die Here Jesus Christus, amen.