2017
Geroepe tot die Werk
Junie 2017


Eerste Presidensie-boodskap, Junie 2017

Geroepe tot die Werk

Beeld
President Thomas S. Monson

Toe die Profeet Joseph Smith Ouderling Heber C. Kimball (1801–68) geroep het om “die deur van heil te open” as ʼn sendeling in Engeland, is Ouderling Kimball oorweldig deur gevoelens van ontoereikendheid.

Hy het geskryf “O Here, ek is ʼn man met ʼn hakkelende tong, en geheel en al onbevoeg vir so ʼn werk.”

Ouderling Kimball het die roeping desnieteenstaande aanvaar, en bygevoeg: “Hierdie oorwegings het my nie van die pad van plig weerhou nie; die oomblik toe ek die wil van Hemelse Vader begryp het, het ek ʼn vasberadenheid gevoel om ten spyte van alle risiko’s te gaan, met die geloof dat Hy my sou ondersteun deur sy almagtige krag, en my sou toerus met elke bevoegdheid wat ek benodig het.”1

My jong broers en susters wat geroep word tot voltydse sendingdiens, julle word geroep tot die werk omdat julle, soos Ouderling Kimball, “begeertes het om God te dien” (L&V 4:3) en omdat julle gereed en waardig is.

Senior egpare, julle word geroep tot die werk om dieselfde redes. Julle bring egter nie slegs ʼn begeerte om te dien nie, maar ook wysheid verwerf deur seisoene van opoffering, liefde, en ondervinding wat julle Hemelse Vader kan gebruik om die harte van sy seuns en dogters wat die waarheid soek, te raak. Julle het ongetwyfeld geleer dat ons nooit waarlik die Here kan liefhê tensy ons Hom dien deur andere te dien nie.

By julle wense om as sendelinge te dien, sal julle geloof en sielskrag, moed en selfvertroue, voorneme en weerstandsvermoë, vasberadenheid en toegewydheid byvoeg. Toegewyde sendelinge kan wonderwerke verrig in die sendingveld.

President John Taylor (1808–87) het die noodsaaklike eienskappe van sendelinge so opgesom: “Die soort mans [en vroue en egpare] wat ons soek as draers van hierdie evangelieboodskap is mans wat geloof het in God; mans wat geloof het in hulle godsdiens; mans wat hulle priesterskap eer; mans in wie … God vertroue het. … Ons soek mans vol van die Heilige Gees en die mag van God[,] … mans van eer, integriteit, deug en reinheid.”2

Die Here het verklaar:

“Want kyk, die veld is wit, gereed vir die oes; en kyk, hy wat sy sekel insteek met sy mag, hy gaar op sodat hy nie vergaan nie, maar bring saligheid vir sy siel;

En geloof, hoop, naasteliefde en liefde, met ʼn oog gerig enkel op die heerlikheid van God, kwalifiseer hom vir die werk” (L&V 4:4–5).

Jou roeping het deur inspirasie gekom. Ek getuig dat wie God roep, sal God kwalifiseer. Jy sal hemelse hulp ontvang soos jy biddend werk in die Here se wingerd.

Die pragtige belofte wat die Here die sendelinge vroeg in hierdie tydvak gegee het, soos vervat in die Leer en Verbonde, sal julle s’n wees: “Ek sal uitgaan voor julle aangesig. Ek sal aan julle regter- en aan julle linkerhand wees, en my Gees sal in julle harte wees, en my engele rondom julle, om julle te versterk” (L&V 84:88).

Terwyl julle dien sal julle ryk ewige herinneringe en vriendskappe bou. Ek weet van geen veld wat ʼn meer oorvloedige oes van geluk oplewer as die sendingveld nie.

Nou, ʼn woord aan daardie ouderlinge, susters, en egpare wat, vir watter rede ook al, nie in staat is om hulle toegedeelde tyd in die sendingveld kon voltooi nie: Die Here het jou lief. Hy waardeer jou opoffering. Hy is bewus van jou teleurstelling. Weet dat Hy steeds ʼn werk vir jou het om te doen. Moenie dat Satan jou anders vertel nie. Moenie terneergedruk word nie; moenie ontmoedig word nie; moenie wanhoop nie.

Soos ek in algemene konferensie opgemerk het, kort nadat ek geroep was om die Kerk te lei: “Moenie vrees nie. Hou goeie moed. Die toekoms is so helder soos jou geloof.”3 Daardie belofte is steeds waar vir jou. Dus, moenie jou geloof verloor nie, want die Here het nie vertroue in jou verloor nie. Onderhou jou verbonde en beweeg voorwaarts.

Die wêreld het die evangelie van Jesus Christus nodig. Mag die Here al sy Heiliges seën—ongeag van waar ons dien—met die hart van ʼn sendeling.

Notas

  1. Heber C. Kimball, in Orson F. Whitney, Life of Heber C. Kimball, 3e uitgawe (1967), 104.

  2. Teachings of Presidents of the Church: John Taylor (2001), 73.

  3. Thomas S. Monson, “Be of Good Cheer,” Liahona, Mei 2009, 92.