2017
Die Beloning van Uitnemende Volharding
Julie 2017


Eerste Presidensie-boodskap, Julie 2017

Die Beloning van Uitnemende Volharding

Toe ek ʼn jong man was, het ek in die Kerk gedien as ʼn raadgewer van ʼn wyse distrikspresident. Hy was voortdurend besig om my iets te probeer leer. Ek onthou die raad wat hy my eenkeer gegee het: “Wanneer jy iemand ontmoet, behandel hulle asof hulle in ernstige moeilikheid is, en jy sal meer as die helfte van die tyd reg wees.” Ek het tóé gedink dat hy pessimisties was. Nou, meer as 50 jaar later, kan ek sien hoe goed hy die wêreld en die lewe verstaan het.

Ons kom almal beproewinge teë — by tye, baie moeilike beproewinge. Ons weet dat die Here toelaat dat ons beproewinge ondergaan, sodat ons gepoleer en volmaak mag word sodat ons vir ewig saam met Hom kan wees.

Die Here het die Profeet Joseph Smith in Liberty-gevangenis geleer dat die beloning om sy beproewinge goed te verduur, hom sou help kwalifiseer vir die ewige lewe:

“My seun, vrede vir jou siel; jou teëspoed en verdrukkings sal slegs ʼn kort oomblik wees;

“En dan, indien jy dit goed verduur, sal God jou omhoog verhef; jy sal triomfeer oor al jou vyande” (L&V 121:7–8).

So baie dinge tref ons in ʼn leeftyd dat dit mag blyk asof dit moeilik is om goed te verduur. Dit mag só voel vir ʼn familie wat staatmaak op hulle oes wanneer daar geen reën is nie. Hulle mag wonder, “Hoe lank kan ons uithou?” Dit mag so voel vir ʼn jong man wat te staan kom voor vieslikheid en versoekings. Dit mag so voel vir ʼn jong man wat sukkel om die opvoeding of opleiding te ontvang wat hy nodig het vir werk om ʼn vrou en familie te onderhou. Dit mag so voel vir ʼn persoon wat nie ʼn werk kan kry nie of wat werk ná werk verloor het soos wat besighede hulle deure toemaak. Dit mag so voel vir diegene wie se gesondheid en fisiese krag wegkwyn, wat vroeg of laat in hulle lewens mag plaasvind of vir diegene vir wie hulle lief is.

Maar ʼn liefdevolle God het nie sulke beproewinge voor ons geplaas bloot om te sien of ons moeilikhede kan verduur nie, maar eerder om te sien of ons hulle goed kan verduur en so gepoleer mag word.

Die Eerste Presidensie het Ouderling Parley P. Pratt (1807–57) geleer toe hy ʼn nuut-geroepte lid van die Kworum van die Twaalf Apostels was: “Jy is betrokke by ʼn saak wat jou volle aandag vereis; … word ʼn gepoleerde skag. … Jy sal baie inspanning, baie arbeid en baie ontberings moet verduur om perfek gepoleer te word. … Jou Hemelse Vader vereis dit; die veld is syne; die werk is syne; en Hy sal … jou blymoedig maak … en jou opbeur.”1

In die boek van Hebreërs praat Paulus van die vrug wat kom wanneer ons goed verduur: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ʼn saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ʼn vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11).

Ons beproewinge en ons verdrukkinge gee ons die geleentheid om te leer en te groei, en hulle mag selfs ons geaardheid verander. Indien ons na die Verlosser kan keer in ons teëspoed, kan ons siele gepoleer word soos wat ons volhard.

Daarom is die eerste ding om te onthou om altyd te bid (sien L&V 10:5; Alma 34:19–29).

Die tweede ding is om voortdurend daarna te strewe om die gebooie te onderhou–wat ook al die teëstand, die versoeking, of die oproerigheid om ons (sien Mosia 4:30).

Die derde noodsaaklike ding om te doen is om die Here te dien (sien L&V 4:2; 20:31).

In die Meester se diens, leer ons om Hom te ken en lief te hê. Ons sal, indien ons aanhou met gebed en getroue diens, begin om die hand van die Saligmaker en die invloed van die Heilige Gees in ons lewens te herken. Baie van ons het al vir ʼn tydperk sulke diens gelewer en daardie kameraadskap gevoel. Indien jy terugdink aan daardie tyd, sal jy onthou dat daar veranderinge in jou was. Die versoeking om boosheid te doen het geblyk om minder te wees. Die begeerte om goeie dade te doen het vermeerder. Diegene wat jou die beste ken en jou liefhet, mag dalk gesê het: “Jy het meer sagmoedig en meer geduldig geword. Dit blyk nie asof jy dieselfde persoon is nie.”

Jy was nie dieselfde persoon nie. Jy is deur die Versoening van Jesus Christus verander omdat jy op Hom vertrou het in jou oomblik van beproewing.

Ek belowe jou dat die Here tot jou redding sal kom in jou beproewinge indien jy Hom sal soek en Hom sal dien en dat jou siel in die proses gepoleer sal word. Ek daag julle uit om gedurende al julle beproewinge julle vertroue in Hom te plaas.

Ek weet dat God die Vader leef en dat Hy elke gebed van ons hoor en beantwoord. Ek weet dat sy Seun, Jesus Christus, die prys vir al ons sondes betaal het en dat Hy wil hê dat ons na Hom sal kom. Ek weet dat die Vader en die Seun oor ons waak en ʼn weg voorberei het sodat ons goed kan verduur en weer huis toe kan kom.

Nota

  1. Autobiography of Parley P. Pratt, ed. Parley P. Pratt Jr. (1979), 120.