2018
Die Woord van God aan sy Kinders
Maart 2018


Eerste Presidensie-boodskap, Maart 2018

Die Woord van God aan sy Kinders

Die skrifture vertel ons dat die eerste ding wat God gedoen het nadat Hy man en vrou geskape het, was om met hulle te praat.1 Hy het noodsaaklike inligting en kosbare instruksies gehad om vir hulle te gee. Sy doel was nie om hulle te belas of om hulle te bekommer nie, maar om hulle te lei na geluk en ewige heerlikheid.

En dit was net die begin. Van daardie dag tot nou, het God aangehou om met sy kinders te kommunikeer. Sy woorde is bewaar, gekoester, en bestudeer deur dissipels van elke geslag. Hulle word eerbiedig deur diegene wat die wil van God wil weet, en hulle getuig van die waarheid dat “die Here God niks doen tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”2

Dit was die patroon sedert die begin van tyd, en die patroon duur vandag voort. Dit is nie net ʼn mooi Bybelstorie nie; dit is God se manier om noodsaaklike boodskappe aan sy kinders te kommunikeer. Hy rig persone uit ons midde op, roep hulle om profete te wees, en gee hulle woorde om te sê wat ons genooi word om te “ontvang, asof van [sy] eie mond.”3 Hy het verklaar: “Hetsy deur my eie stem of deur die stem van my diensknegte, dit is dieselfde.”4

Dit is een van die mees heerlike, bemoedigende en hoopvolle boodskappe van die Herstelling—God is nie stil nie! Hy het sy kinders lief. Hy het ons nie gelaat om in die duister te wandel nie.

Ons het twee keer per jaar, in April en Oktober, die geleentheid om die stem van die Here te hoor deur sy dienaars in ons wonderlike algemene konferensies.

Ek gee julle my persoonlike getuienis dat lank voor ʼn spreker daardie lang paadjie na die podium neem, het hy of sy ontsaglike moeite, gebed en studie ingesit in antwoord op die opdrag om te praat. Elke konferensie-boodskap verteenwoordig ontelbare ure van voorbereiding en hartstogtelike pleidooie om te verstaan wat die Here wil hê sy Heiliges moet hoor.

Wat kan gebeur as ons as luisteraars die sprekers se voorbereiding met ons eie ewenaar? Hoe kan ons benadering ten opsigte van algemene konferensie anders wees as ons konferensie sien as ʼn geleentheid om boodskappe van die Here self te ontvang? Deur die woorde en musiek van algemene konferensie kan ons verwag om persoonlike antwoorde te ontvang op watter vrae of probleme ons ook al mag hê.

As jy ooit wonder of Hemelse Vader regtig tot jou sal spreek, wil ek jou herinner aan die eenvoudige tog diepgaande woorde wat ons Primêre Organisasie-kinders sing: “[You are] a child of God, and he has sent [you] here.” Sy doel is om jou te help om weer eendag saam met Hom te lewe.

As jy Hemelse Vader as sy kind nader, kan jy Hom met ʼn opregte hart vra: “Lead me, guide me, walk beside me, help me find the way. Teach me all that I must do.” Hy sal met jou praat deur sy Heilige Gees, en dan is dit jou plig om “sy wil te doen.” Ek belowe dat as jy dit doen, sal ryke seëninge op jou wag.5

Die Here se leiding is vandag net so nodig as wat dit ooit in die wêreld se geskiedenis was. As ons voorberei om die woord van die Here te hoor, mag ons ywerig die Gees van waarheid soek sodat wanneer die Here deur sy dienaars praat, ons mag verstaan, opgebou word, en saam verbly.6

Ek getuig dat “deur hierdie dinge te doen, sal die poorte van die hel nie seëvier oor [ons] nie; ja, en die Here God sal die magte van die duisternis verdryf van voor [ons], en die hemele laat skud tot [ons] voordeel, en sy Naam se heerlikheid.”7