2021
Wat Het Ons Saligmaker vir Ons Gedoen?
Mei 2021


“Wat Het Ons Saligmaker vir Ons Gedoen?,” Vir die Krag van die Jeug, Mei 2021.

Priesterskapsessie

Wat Het Ons Saligmaker vir Ons Gedoen?

Uittreksels

Beeld
Christus se leë graf

Wat het Jesus Christus vir elkeen van ons gedoen? Hy het alles gedoen wat noodsaaklik is vir ons reis deur sterflikheid na die bestemming wat in ons Hemelse Vader se plan uiteengesit is. Ek sal praat oor vier van die vernaamste kenmerke van daardie plan. …

Die Opstanding gee ons die perspektief en die krag om die sterflike uitdagings wat elkeen van ons en diegene wat ons liefhet in die gesig staar, te verduur. Dit gee ons ʼn nuwe manier om die fisiese, verstandelike of emosionele tekortkominge wat ons by geboorte het of gedurende die sterflike lewe opdoen, te beskou. Dit gee ons die krag om hartseer, mislukkings en frustrasies te verduur.

Die Opstanding gee ons ook ʼn kragtige aansporing om die gebooie van God te onderhou gedurende ons sterflike lewens. …

Ons Saligmaker en Verlosser het onbegryplike lyding verduur om ʼn offerande te word vir die sondes van alle sterflinge wat sal bekeer. Hierdie versoenende offerande het die uiterste goedheid, die lam sonder gebrek en vlekkeloos, vir die uiterste boosheid, die sondes van die ganse wêreld gebied. …

… Jesus het ons die heilsplan geleer. Hierdie plan sluit in die Skepping, die doel van die lewe, die noodsaaklikheid van teenstand, en die gawe van handelingsmag. Hy het ons ook die gebooie en verbonde geleer wat ons moet gehoorsaam en die ordinansies wat ons moet ervaar om ons terug te neem na ons hemelse ouers. …

Ons Saligmaker voel en ken ons versoekings, ons worstelinge, ons hartseer, en ons lyding, want Hy het dit alles gewillig ondervind as deel van sy Versoening. … Almal wat enige soort sterflike swakhede ly, moet onthou dat ons Saligmaker ook daardie soort pyn beleef het, en dat Hy deur sy Versoening aan elkeen van ons die krag bied om dit te verduur.