2021
Christus is Herrese; Geloof in Hom Sal Berge Versit
Mei 2021


Maandelikse Liahona-boodskap, Mei 2021

Christus is Herrese; Geloof in Hom Sal Berge Versit

Geloof in Jesus Christus is die grootste mag wat beskikbaar is vir ons in hierdie lewe. Alle dinge is moontlik vir hulle wat glo.

My geliefde broers en susters, ek is dankbaar vir die voorreg om met julle op hierdie Paassondag te praat.1 Die versoenende offerande en Opstanding van Jesus Christus het elkeen van ons se lewens vir ewig verander. Ons het Hom lief en aanbid Hom en ons Hemelse Vader met dankbaarheid.

Gedurende die laaste ses maande het ons voortgegaan om met ʼn globale pandemie te worstel. Ek verwonder my aan julle veerkragtigheid en geestelike krag in die aangesig van siekte, verlies en afsondering. Ek bid voortdurend dat julle deur dit alles die Here se onfeilbare liefde vir julle sal voel. As julle gereageer het op julle beproewings met ʼn sterker dissipelskap, sal die afgelope jaar nie tevergeefs gewees het nie.

Vanoggend het ons gehoor van Kerkleiers wat van elke bevolkte vasteland op aarde kom. Voorwaar, die seëninge van die evangelie is vir elke ras, taal en volk. Die Kerk van Jesus Christus is ʼn globale kerk. Jesus Christus is ons leier.

Gelukkig kon selfs ʼn pandemie nie die voorwaartse mars van sy waarheid vertraag nie. Die evangelie van Jesus Christus is presies wat nodig is in hierdie verwarde, wederstrewige en moeë wêreld.

Elkeen van God se kinders verdien die geleentheid om die genesende, verlossende boodskap van Jesus Christus te hoor en te aanvaar. Geen ander boodskap is meer noodsaaklik vir ons geluk nie—nou en vir ewig.2 Geen ander boodskap is meer gevul met hoop nie. Geen ander boodskap kan twis in ons samelewing uitskakel nie.

Geloof in Jesus Christus is die fondament van alle geloof en die kanaal van goddelike krag. Volgens die Apostel Paulus: “Sonder geloof is dit onmoontlik om [God] te behaag, want hy wat na God toe kom, moet glo dat Hy is, en dat Hy ʼn beloner is van die wat Hom ywerig soek.”3

Alles wat goed is in die lewe—elke potensiële seëning van ewige betekenis—begin met geloof. Om God toe te laat om in ons lewens te heers, begin met geloof dat Hy gewillig is om ons te lei. Ware bekering begin met geloof dat Jesus Christus die mag het om ons te reinig, te genees en te versterk.4

“Loën nie die krag van God nie,” het die profeet Moroni verklaar, “want Hy werk deur krag, volgens die geloof van die kinders van mense.”5 Dit is ons geloof wat die krag van God in ons lewens ontsluit.

En tog kan die uitoefening van geloof oorweldigend lyk. Soms mag ons wonder of ons moontlik genoeg geloof kan bymekaarskraap om die seëninge te ontvang wat ons so desperaat nodig het. Die Here het egter daardie vrese verdryf deur die woorde van die Boek van Mormon profeet Alma.

Beeld
Mosterdsaad

Alma vra ons bloot om te eksperimenteer met die woord en “ʼn greintjie van geloof [beoefen], ja, selfs al kan [ons] nie meer as net begeer om te glo nie.”6 Die frase “greintjie van geloof” herinner my aan die Here se Bybelse belofte dat as ons “geloof het soos ʼn mosterdsaad,” sal ons in staat wees om “vir hierdie berg te sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir [ons] onmoontlik wees nie.”7

Beeld
Voël tussen mosterdsade

Die Here verstaan ons sterflike swakheid. Ons almal wankel by tye. Maar Hy weet ook van ons groot potensiaal. Die mosterdsaad begin klein, maar groei tot ʼn boom wat groot genoeg is vir voëls om in sy takke nes te maak. Die mosterdsaad verteenwoordig ʼn klein maar groeiende geloof.8

Die Here vereis nie volmaakte geloof vir ons om toegang tot sy volmaakte krag te hê nie. Maar Hy vra ons wel om te glo.

My geliefde broers en susters, my oproep aan julle op hierdie Paasoggend is om vandag te begin om julle geloof te vermeerder. Deur julle geloof, sal Jesus Christus julle vermoë vermeerder om die berge in jul lewens te versit,9 al kan jul persoonlike uitdagings so groot soos Berg Everest lyk.

Jou berge mag eensaamheid, twyfel, siekte of ander persoonlike probleme wees. Jou berge sal wissel, en tog is die antwoord op elkeen van jou uitdagings om jou geloof te vermeerder. Dit vereis werk. Lui leerders en lakse dissipels sal altyd sukkel om selfs ʼn greintjie van geloof bymekaar te skraap.

Om enigiets goed te doen, verg moeite. Om ʼn ware dissipel van Jesus Christus te word, is geen uitsondering nie. Om jou geloof en vertroue in Hom te vermeerder, verg moeite. Mag ek vyf voorstelle aanbied om julle te help om daardie geloof en vertroue te ontwikkel.

Eerstens, studeer. Word ʼn betrokke leerder. Verdiep jouself in die skrifture om Christus se sending en bediening beter te verstaan. Ken die leerstelling van Christus sodat jy die krag daarvan vir jou lewe verstaan. Internaliseer die waarheid dat die Versoening van Jesus Christus van toepassing is op jou. Hy het jou ellende, jou foute, jou swakheid en jou sondes op Homself geneem. Hy het die vergoedingsprys betaal en die krag vir jou voorsien om elke berg te versit wat jy ooit sal beleef. Jy verkry daardie krag deur jou geloof, vertroue en gewilligheid om Hom te volg.

Om jou berge te versit, mag dalk ʼn wonderwerk verg. Leer oor wonderwerke. Wonderwerke kom ooreenkomstig met jou geloof in die Here. Sentraal tot daardie geloof is om sy wil en tydrooster te vertrou—hoe en wanneer Hy jou sal seën met die wonderbaarlike hulp wat jy begeer. Slegs jou ongeloof sal God daarvan weerhou om jou te seën met wonderwerke om die berge in jou lewe te versit.10

Hoe meer jy van die Verlosser leer, hoe makliker sal dit wees om te vertrou op sy barmhartigheid, sy oneindige liefde en sy versterkende, genesende en verlossende krag. Die Saligmaker is nooit nader aan jou as wanneer jy ʼn berg met geloof beleef of klim nie.

Tweedens, kies om in Jesus Christus te glo. As jy twyfel oor God die Vader en sy Geliefde Seun of die geldigheid van die Herstelling of die waarheid van Joseph Smith se goddelike roeping as ʼn profeet, kies om te glo11 en getrou te bly. Neem jou vrae na die Here en na ander betroubare bronne. Studeer met die begeerte om te glo eerder as met die hoop dat jy ʼn fout kan vind in die stoffasie van ʼn profeet se lewe of ʼn verskil in die skrifture. Hou op om jou twyfel te verhoog deur hulle met ander twyfelaars te bespreek. Laat die Here toe om jou op jou reis van geestelike ontdekking te lei.

Derdens, tree op in geloof. Wat sou jy doen as jy meer geloof gehad het? Dink daaroor. Skryf daaroor. Ontvang dan meer geloof deur iets te doen wat meer geloof vereis.

Vierdens, neem waardig deel aan heilige ordinansies. Ordinansies ontsluit die krag van God vir jou lewe.12

En vyfdens, vra jou Hemelse Vader, in die naam van Jesus Christus,om hulp.

Geloof verg werk. Die ontvangs van openbaring verg werk. Maar “elkeen wat vra, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal dit oopgemaak word.”13 God weet wat jou geloof sal help toeneem. Vra, en vra dan weer.

ʼn Ongelowige mag sê dat geloof vir die swakkes is. Maar hierdie bewering sien die krag van geloof oor die hoof. Sou die Saligmaker se Apostels voortgegaan het om sy leerstelling ná sy dood te onderrig, onder lewensgevaar, as hulle aan Hom getwyfel het?14 Sou Joseph en Hyrum Smith ʼn martelaarsdood gely het om die Herstelling van die Here se Kerk te verdedig, tensy hulle ʼn vaste getuienis gehad het dat dit waar was? Sou byna 2,000 Heiliges langs die pioniersroete gesterf het15 as hulle nie geloof gehad het dat die evangelie van Jesus Christus herstel is nie? Voorwaar, geloof is die krag wat die onwaarskynlike in staat stel om die onmoontlike te bereik.

Moenie die geloof wat jy reeds het, verminder nie. Dit verg geloof om by die Kerk aan te sluit en getrou te bly. Dit verg geloof om profete eerder as kundiges en openbare mening te volg. Dit verg geloof om ʼn sending tydens ʼn pandemie te dien. Dit verg geloof om ʼn kuise lewe te lei wanneer die wêreld skree dat God se wet van kuisheid nou uit die mode is. Dit verg geloof om die evangelie aan kinders in ʼn sekulêre wêreld te leer. Dit verg geloof om te pleit vir die lewe van ʼn geliefde en selfs meer geloof om ʼn teleurstellende antwoord te aanvaar.

Twee jaar gelede het ek en Suster Nelson Samoa, Tonga, Fidji en Tahiti besoek. Elkeen van daardie eilandnasies het dae lank swaar reën beleef. Lede het gevas en gebid dat hulle buitelugbyeenkomste teen die reën beskerm sou word.

In Samoa, Fidji en Tahiti, net toe die vergaderings begin het, het die reën opgehou. Maar in Tonga het die reën nie opgehou nie. Tog het 13,000 getroue Heiliges ure vroeg gekom om ʼn sitplek te kry, geduldig deur ʼn swaar reënbui gewag en toe deur ʼn baie nat twee-uur vergadering gesit.

Beeld
Tongaanse Heiliges in die reën

Ons het florerende geloof aan die werk gesien onder elkeen van daardie eilanders—geloof voldoende om die reën te laat ophou en geloof om te volhard toe die reën nie opgehou het nie.

Die berge in ons lewens beweeg nie altyd soos of wanneer ons wil nie. Maar ons geloof sal ons altyd vorentoe dryf. Geloof verhoog altyd ons toegang tot goddelike krag.

Weet dit asseblief: as alles en almal anders in die wêreld wat jy vertrou sou misluk, sal Jesus Christus en sy Kerk jou nooit teleurstel nie. Die Here sluimer nooit nie en Hy slaap ook nie.16 Hy “is dieselfde gister, vandag en [môre].”17 Hy sal nie sy verbonde,18 sy beloftes, of sy liefde vir sy mense versaak nie. Hy verrig wonderwerke vandag en Hy sal môre wonderwerke verrig.19

Geloof in Jesus Christus is die grootste krag wat vir ons beskikbaar is in hierdie lewe. Alle dinge is moontlik vir hulle wat glo.20

Jou groeiende geloof in Hom sal berge versit—nie die berge van rots wat die aarde verfraai nie, maar die berge van ellende in julle lewens. Jou florerende geloof sal jou help om uitdagings in ongekende groei en geleentheid te omskep.

Op hierdie Paassondag, met my diepe gevoelens van liefde en dankbaarheid, verklaar ek my getuienis dat Jesus Christus inderdaad opgestaan het. Hy het opgestaan om sy Kerk te lei. Hy het opgestaan om die lewens van al God se kinders te seën, waar hulle ook al woon. Met geloof in Hom, kan ons die berge in ons lewens versit. Ek getuig so in die heilige naam van Jesus Christus, amen.

Placeholder Image Credit