Skrifture
Leer en Verbonde 1


Die
Leer en Verbonde

Afdeling 1

Openbaring gegee deur Joseph Smith die Profeet, op 1 November 1831, tydens ’n spesiale konferensie van ouderlinge van die Kerk, gehou te Hiram, Ohio. Talle openbarings was voor hierdie tyd van die Here ontvang, en die samestelling daarvan vir publikasie in boekvorm was een van die hoofonderwerpe wat goedgekeur is op die konferensie. Hierdie afdeling vorm die Here se voorwoord tot die leerstellings, verbonde, en gebooie wat gegee is in hierdie tydvak.

1–7, Die waarskuwende stem is tot alle mense; 8–16, Afvalligheid en boosheid gaan die Tweede Koms vooraf; 17–23, Joseph Smith word geroep om die Here se waarhede en magte op die aarde te herstel; 24–33, Die Boek van Mormon word voortgebring en die ware kerk word gevestig; 34–36, Vrede sal van die aarde geneem word; 37–39, Ondersoek hierdie gebooie.

1 Slaan ag, o julle volk van my kerk, sê die stem van Hom wat omhoog woon, en wie se op alle mense is; ja, voorwaar Ek sê: Slaan ag julle volke van ver; en julle wat op die eilande van die see is, luister tesame.

2 Want voorwaar, die stem van die Here is tot alle mense, en daar is niemand wat sal ontvlug nie; en daar is geen oog wat nie sal sien nie, nóg oor wat nie sal hoor, nóg hart wat nie deurdring sal word.

3 En die rebelses sal deurboor word met veel droefheid; want hulle ongeregtighede sal van die huise se dakke geuiter word, en hul geheime dade sal geopenbaar word.

4 En die stem van waarskuwing sal tot alle mense wees, by monde van my dissipels wat Ek gekies het in hierdie laaste dae.

5 En hulle sal uitgaan en niemand sal hulle keer nie, want Ek die Here het hulle gebied.

6 Kyk, dit is my gesag, en die gesag van my diensknegte, en my voorwoord tot die boek van my gebooie, wat Ek hulle gegee het om vir julle te publiseer, o inwoners van die aarde.

7 Daarom, vrees en bewe, o julle volke, want wat Ek die Here beveel het in hulle sal vervul word.

8 En voorwaar Ek sê vir julle, dat hulle wat uitgaan, wat hierdie tydings neem na die inwoners van die aarde, aan hulle word mag gegee om beide op die aarde en in die hemel te verseël, die ongelowiges en die rebelses;

9 Ja, voorwaar, om hulle te verseël vir die dag wanneer die toorn van God uitgestort sal word op die bose sonder maat—

10 Vir die dag wanneer die Here sal kom om elke mens te vergeld na sy werke, en om elke mens te meet volgens die maat waarmee hy aan sy medemens gemeet het.

11 En nou, die stem van die Here is tot die eindes van die aarde, sodat almal wat wil hoor, mag hoor:

12 Berei julle voor, berei julle voor vir dit wat sal kom, want die Here is naby;

13 En die toorn van die Here is ontvlam, en sy swaard is gebaai in die hemel, en dit sal op die inwoners van die aarde val.

14 En die arm van die Here sal geopenbaar word; en die dag kom dat hulle wat nie die stem van die Here wil hoor nie, nóg die stem van sy diensknegte, nóg ag slaan op die woorde van die profete en apostels, sal afgesny word vanuit die midde van die volk;

15 Want hulle het afgedwaal van my ordinansies, en het my ewigdurende verbond verbreek;

16 Hulle soek nie die Here om sy regverdigheid te vestig nie, maar elke mens wandel op sy eie weg, en na die beeld van sy eie god, wie se beeld is na die gelykenis van die wêreld, en wie se aard dit is van ’n afgod, wat oud word en sal vergaan in Babilon, en wel Babilon die grote, wat sal val.

17 En nou, Ek die Here, wetende die rampspoed wat sou kom oor die inwoners van die aarde, het Ek my dienskneg Joseph Smith, Jr. geroep, en met hom vanuit die hemel gespreek, en hom gebooie gegee;

18 En ook gebooie gegee aan andere, dat hulle hierdie dinge moet verkondig aan die wêreld; en dit alles sodat dit vervul mag word, wat geskryf is deur die profete—

19 Die swak dinge van die wêreld sal na vore kom en die magtiges en sterkes afbreek, sodat die mens nie sy medemens moet raadgee nie, nóg vertrou op die arm van vlees—

20 Maar dat elke mens in die Naam van God die Here mag spreek, naamlik die Saligmaker van die wêreld;

21 Sodat geloof ook mag toeneem op die aarde;

22 Sodat my ewigdurende verbond gevestig mag word;

23 Sodat die volheid van my evangelie verkondig mag word deur die swakkes en eenvoudiges tot aan die eindes van die wêreld, en voor konings en heersers.

24 Kyk, Ek is God en het dit gespreek; hierdie gebooie is van My, en is gegee aan my diensknegte in hul swakheid, na die wyse van hulle taal, sodat hulle tot begrip mag kom.

25 En in soverre hulle gedwaal het, mag dit bekendgemaak word;

26 En in soverre hulle wysheid gesoek het, mag hulle onderrig word;

27 En in soverre hulle gesondig het, mag hulle getugtig word, sodat hulle mag bekeer;

28 En in soverre hulle nederig was, mag hulle sterk gemaak word, en geseënd van omhoog, en kennis ontvang van tyd tot tyd.

29 En nadat hy die kroniek van die Nefiete ontvang het, ja, naamlik my dienskneg Joseph Smith, Jr., sal hy mag hê om deur die barmhartigheid van God, deur die krag van God, Die Boek van Mormon te vertaal.

30 En ook diegene aan wie hierdie gebooie gegee is, mag sal hê om die fondament van hierdie kerk te lê, en om dit uit duisternis en uit donkerte te bring, die enigste ware en lewende kerk op die aangesig van die hele aarde, waarin Ek, die Here, ’n welbehae het, sprekende tot die kerk as geheel en nie individueel nie—

31 Want Ek die Here kan nie sonde aanskou met die geringste mate van aanvaarding nie;

32 Nietemin, hy wat bekeer en die gebooie van die Here onderhou sal vergewe word;

33 En hy wat nie bekeer nie, van hom sal geneem word selfs die lig wat hy ontvang het; want my Gees sal nie altyd op die mens inwerk nie, sê die Here van die Leërskare.

34 En verder, voorwaar Ek sê vir julle, o inwoners van die aarde: Ek die Here is gewillig om hierdie dinge bekend te maak aan alle vlees;

35 Want Ek is geen aannemer van persone nie, en wil dat alle mense moet weet dat die dag spoedig kom; die uur is nog nie, maar is op hande, wanneer vrede van die aarde geneem sal word, en die duiwel sal mag hê oor sy eie ryk.

36 En ook, die Here sal mag hê oor sy heiliges, en sal heers in hul midde, en sal neerkom met oordeel op Iduméa, of die wêreld.

37 Ondersoek hierdie gebooie, want hulle is waar en betroubaar, en die profesieë en beloftes wat in hulle is, sal alles vervul word.

38 Wat Ek die Here gespreek het, het Ek gespreek, en Ek verontskuldig Myself nie; en al gaan die hemele en die aarde verby, my woord sal nie verbygaan nie, maar alles sal vervul word, hetsy deur my eie stem of deur die stem van my diensknegte, dit is dieselfde.

39 Want kyk, en sien, die Here is God, en die Gees lewer getuienis, en die getuienis is waar, en die waarheid bly vir ewig en ewig. Amen.