Skrifture
Leer en Verbonde 121


Afdeling 121

Gebed en profesieë geskryf deur Joseph Smith die Profeet in ’n brief aan die Kerk terwyl hy ’n gevangene was in die gevangenis in Liberty, Missouri, gedateer 20 Maart 1839. Die Profeet en verskeie metgeselle was maande lank in die gevangenis. Hulle vertoë en appèlle gerig aan die uitvoerende amptenare en die regbank, het misluk om vir hulle verligting te bring.

1–6, Die Profeet pleit by die Here vir die Heiliges wat ly; 7–10, Die Here spreek vrede tot hom; 11–17, Vervloek is al diegene wat valse uitroepe maak van oortreding teen die Here se volk; 18–25, Hulle sal nie die reg tot die priesterskap hê nie en sal verdoem word; 26–32, Wonderbaarlike openbarings word beloof aan diegene wat dapper volhard; 33–40, Waarom vele geroep word en weinig gekies word; 41–46, Die priesterskap moet slegs in regverdigheid gebruik word.

1 O God, waar is U? En waar is die tent wat u skuilplek bedek?

2 Hoe lank sal u hand weerhou word, en u oog, ja u suiwere oog, vanuit die ewige hemele die onregte teen u volk en teen u diensknegte aanskou, en u oor binnegedring word met hulle geroep?

3 Ja, o Here, hoe lank sal hulle hierdie onregte en onwettige onderdrukkings ly, voor u hart teenoor hulle versag word, en u binneste gevul word met ontferming teenoor hulle?

4 O Here God Almagtig, maker van die hemel, aarde en seë, en van alle dinge wat in hulle is, en wat die duiwel beheer en onderwerp, en die donker en duistere heerskappy van Sjeol—strek u hand uit; laat u oog deurdring; laat u tent opgeneem word; laat u skuilplek nie langer bedek wees nie; laat u oor neig; laat u hart versag word, en u binneste ontroer wees met ontferming teenoor ons.

5 Laat u toorn ontvlam wees teen ons vyande; en, in die woede van u hart, met u swaard ons wreek van ons onregte.

6 Onthou u heiliges wat ly, o ons God; en u diensknegte sal hulle vir ewig verbly in u Naam.

7 My seun, vrede vir jou siel; jou teëspoed en verdrukkings sal slegs ’n kort oomblik wees;

8 En dan, indien jy dit goed verduur, sal God jou omhoog verhef; jy sal triomfeer oor al jou vyande.

9 Jou vriende staan jou by, en hulle sal jou weer groet met warm harte en vriendelike hande.

10 Jy is nog nie soos Job nie; jou vriende stry nie teen jou nie, nóg beskuldig hulle jou van oortreding, soos hulle met Job gedoen het.

11 En hulle wat jou beskuldig van oortreding, hulle hoop sal vernietig word, en hulle vooruitsigte sal wegsmelt soos die wit ryp smelt voor die brandende strale van die opkomende son;

12 En ook dat God sy hand en seël daarop geplaas het om die tye en die seisoene te verander, en om hulle verstand te verblind, sodat hulle nie sy wonderbaarlike werkinge mag verstaan nie; sodat hy hulle ook mag beproef en hulle in hul eie listigheid vang.

13 En ook omdat hulle harte verdorwe is, en die dinge wat hulle gewillig is om oor andere te bring, en daarvan hou dat andere ly, oor hulleself mag kom tot die uiterste toe.

14 Sodat hulle ook teleurgesteld mag wees, en hulle hoop afgesny mag word;

15 En nie baie jare van nou af nie, dat hulle en hul nageslag afgevee sal word van onder die hemel, sê God, dat nie een van hulle oorbly om by die muur te staan nie.

16 Vervloek is al diegene wat die hakskeen oplig teen my gesalfdes, sê die Here, en uitroep dat hulle gesondig het wanneer hulle nie voor My gesondig het nie, sê die Here, maar dit gedoen het wat gepas was in my oë, en wat Ek hulle gebied het.

17 Maar diegene wat oortreding roep, doen dit omdat hulle die diensknegte van die sonde is, en self die kinders van ongehoorsaamheid is.

18 En diegene wat valslik sweer teen my diensknegte, sodat hulle hul tot slawerny en die dood mag bring—

19 Wee hulle; omdat hulle my kleintjies aanstoot gegee het, sal hulle afgesny word van die ordinansies van my huis.

20 Hulle mandjie sal nie vol wees nie, hulle huise en hulle skure sal vergaan, en hulleself sal verag word deur diegene wat hulle gevlei het.

21 Hulle sal nie die reg tot die priesterskap hê nie, nóg hulle nageslag na hulle van geslag tot geslag.

22 Dit sou beter vir hulle gewees het as ’n meulsteen om hulle nekke gehang was, en hulle in die diepte van die see verdrink het.

23 Wee al diegene wat my volk pla, en hulle verdryf, en vermoor, en getuig teen hulle, sê die Here van die Leërskare; ’n geslag van adders sal nie die verdoemenis van die hel vryspring nie.

24 Kyk, my oë sien en ken al hulle werke, en Ek het ’n spoedige oordeel wat wag in die seisoen daarvan, vir hulle almal;

25 Want daar is ’n tyd bepaal vir elke mens, volgens wat sy werke sal wees.

26 God sal aan julle kennis gee deur sy Heilige Gees, ja deur die onuitspreeklike gawe van die Heilige Gees, wat nie geopenbaar is vanaf die wêreld was tot nou nie;

27 Wat ons voorvaders afgewag het met gretige verwagtinge om geopenbaar te word in die laaste tye, waarop hulle gedagtes gerig is deur die engele, soos teruggehou vir die volheid van hulle heerlikheid;

28 ’n Toekomstige tyd waarin niks teruggehou sal word nie, hetsy daar een God of vele gode is, dit sal geopenbaar word.

29 Alle trone en heerskappye, prinsdomme en magte, sal geopenbaar en geskenk word aan almal wat dapper volhard het vir die evangelie van Jesus Christus.

30 En ook, of daar perke gestel is aan die hemele of die seë, of aan die droë grond, of aan die son, maan of sterre—

31 Al die tye van hulle omwentelinge, al die aangewese dae, maande, en jare, en al die dae van hulle dae, maande, en jare, en al hulle heerlikhede, wette, en vasgestelde tye, sal geopenbaar word in die dae van die tydvak van die volheid van tye—

32 Ooreenkomstig dit wat geordineer is in die midde van die Raad van die Ewige God van alle ander gode voor hierdie wêreld was, wat teruggehou is tot die voleinding en die einde daarvan, wanneer elkeen sy ewige teenwoordigheid en sy onsterflike rus sal binnegaan.

33 Hoe lank kan rollende waters onsuiwer bly? Watter krag sal die hemele terughou? Net so min as wat ’n mens sy swak arm mag uitstrek om die Missouri-rivier in sy vasgestelde koers te stop, of dit stroomop te draai, net so om die Almagtige te verhinder om kennis van die hemel op die hoofde van die Heiliges van die Laaste Dae uit te stort.

34 Kyk, daar is vele geroep, maar weinig word gekies. En waarom word hulle nie gekies nie?

35 Omdat hulle harte so gesteld is op die dinge van hierdie wêreld, en strewe na die eer van mense, dat hulle nie hierdie een les leer nie—

36 Dat die regte van die priesterskap onlosmaaklik verbind is met die magte van die hemel, en dat die magte van die hemel nie beheer nóg hanteer kan word, behalwe volgens die beginsels van regverdigheid.

37 Dat hulle aan ons toegeken mag word, dit is waar; maar wanneer ons probeer om ons sondes te bedek, of om ons hoogmoed te bevredig, ons ydele ambisie, of om beheer of heerskappy of dwang uit te oefen oor die siele van die kinders van mense, in enige mate van ongeregtigheid, kyk, die hemele onttrek hulleself; die Gees van die Here is gegrief; en wanneer dit onttrek is, Amen aan die priesterskap of die gesag van daardie man.

38 Kyk, voor hy bewus is, is hy aan homself oorgelaat, om teen die prikkels te skop, om die heiliges te vervolg, en om teen God te stry.

39 Ons het deur bittere ervaring geleer dat dit die aard en geneigdheid van feitlik alle mense is, so gou as wat hulle ’n bietjie gesag kry, soos hulle veronderstel, sal hulle onmiddellik begin om onregverdige heerskappy uit te oefen.

40 Daarom word vele geroep, maar weinig word gekies.

41 Geen mag of invloed kan of behoort gehandhaaf te word deur middel van die priesterskap nie, behalwe deur oorreding, deur lankmoedigheid, deur saggeaardheid en sagmoedigheid, en deur ongeveinsde liefde.

42 Deur vriendelikheid, en suiwere kennis, wat die siel grootliks sal vergroot sonder huigelary, en sonder bedrog

43 En berispe betyds met skerpheid, wanneer geïnspireer deur die Heilige Gees; en toon dan daarna ’n toename in liefde teenoor hom wat jy berispe het, sodat hy jou nie as sy vyand beskou nie;

44 Sodat hy mag weet dat jou getrouheid sterker is as die bande van die dood.

45 Laat jou binneste ook gevul wees met naasteliefde teenoor alle mense, en teenoor die huisgenote van die geloof, en laat deugsaamheid jou gedagtes voortdurend versier; dan sal jou selfvertroue toeneem in die teenwoordigheid van God; en die leerstelling van die priesterskap sal op jou siel neerdrup soos die dou vanuit die hemel.

46 Die Heilige Gees sal jou voortdurende metgesel wees, en jou septer, ’n onveranderende septer van regverdigheid en waarheid; en jou heerskappy sal ’n ewigdurende heerskappy wees, en sonder dwang sal dit vir ewig en ewig na jou vloei.